Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Hy sien nie meer Leipoldt se plek raak
Petro Hansen

Dis vroegoggend in die hooggeregshof in Pretoria. ’n Vrou in ’n deftige snyerspakkie kom haastig in die gang aangestap.

Haar hare is netjies in haar nek opgebind. Sy kom uitasem tot stilstand voor ’n bord waarop die dag se egskeidings op die hofrol aangedui is.

Buite die ou staatsgebou byt die winter reeds koud. Net so triestig soos Die Heldeakker ’n paar blokke verder wat, vandag verrinneweer, soos ’n groot slagveld daar uitsien – die staalheining opgeroes, verf wat besig is om af te blaar. Grafte soos gesneuwelde soldate. Onkruid neem oor.

Die vrou voor die bord trek met haar vinger oor haar naam op die lys.

“Dankie, Here, vandag kom die hel tot ’n einde,” bid sy hardop met ’n stem wat klap soos vlerke, nes wit posduiwe wat uit ’n hok vrygelaat word. Want sien, haar man het vergeet hoe die plek lyk waar hulle 24 jaar eens saam gestaan het. Hy het vergeet van hul pieknieks onder die Wilger by die plaasdam, ’n mandjie met skons, met ’n fles koffie en Elvis se “Love Me Tender” wat op die Ford se radio speel.

Naby die hooggeregshof staan oom Paul nog geduldig oor Kerkplein en waghou. Trots en statig, soos altyd. Hy kyk seker alles maar net so. Die China-shops wat oral opskiet. Honderde minibustaxi’s wat die stad al toetend oorgeneem het. Die parkie vol haweloses by sy voete. Die strate wat met allerhande gemors besaai is, terwyl ’n vrou in ’n hof in die getuiebank beëdig word asof sy skuldig is aan die getrouheid wat sy deur haar lewe uitgedeel het.

Hy weet nie meer hoe die plek lyk waar ons saam gekniel het eens toe ek syne was nie.

“U Edele,” sê sy met ’n bewerige stem, “sy liefde het nie meer vir my getaan nie, soos vroeër toe ek syne was nie. Maar, u Edele, daar buite blink die see steeds dieselfde silwer in die sonskyn, soos lang verleë, toe ons liefde deur als kon uithou en alles vergoed.” Sy haal ’n papier uit haar handsak; dis hul huweliksertifikaat. “Hy weet nie meer hoe die plek lyk waar ons saam gekniel het eens toe ek syne was nie,” sê sy en handig die beloftelose papier oor aan haar advokaat vir indiening.

Op die houtbank in die agterste ry sit nog ’n vrou haar beurt en afwag. Sy is nie alleen nie. Haar pa en ma en susters, broer en vriendinne is ook daar. Haar pa sit met sy arms gebuig wat hy op die bank voor hom rus. Sy kop hang onderstebo soos iemand wat bid. Hy kyk op toe sy dogter na vore geroep word. Buite die hof hang dieselfde hemelblou. Nes die middag wat hy saam met sy dogter op ’n Karooplaas die kerk binnegestap het.

Die vrou met die snyerspakkie stap by die hofdeur uit, selfoon teen die oor. “Dis als verby, Mamma,” sê sy, terwyl sy, soos iemand wat uit gevangenskap bevry word, die gang af verdwyn. Buite het ’n winterwind opgesteek.

Die papiere in die straat waai doelloos in alle rigtings. Soos C. Louis Leipoldt se vrae sonder antwoorde: “Wie van ons twee moet die meeste dra? / Jy wat vergeet het – of ek wat boet. / Vir my liefde wat uithou en alles vergoed?”

Meer oor:  Petro Hansen  |  Liefde  |  Sielsgoed  |  Egskeiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.