Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
In donker tye wag daar talle geleenthede
Jaco Strydom

As ek jou 20 jaar gelede kon vertel van 2020, dat almal maskers dra, dat die meeste lande se grense gesluit is, dat die verkoop van drank en sigarette verbode is ...

Dat Donald Trump president is van Amerika, dat hy heeldag sit en twiet, dat ’n tienermeisie met die naam Greta Thunberg die internasionale stem vir die ekologie is, van Julian Assange wat in die tronk is, dat ons deesdae Zoom-kerk hou . . . sou jy waarskynlik sê dis ’n goeie idee vir ’n draaiboek vir ’n wetenskapsfiksie-rolprent – “2020” sou klink na ’n naam wat kan werk, of “Covid-19”.

As ek jou die detail begin vertel, byvoorbeeld van die regering se Zoom-vergadering wat nou die dag onderbreek is met ’n wilde seksvideo, sou jy wonder of dit nie eerder ’n komedie is nie. Of dalk albei – daar ís ’n wetenskapsfiksie-komedie-genre.

Of dalk ’n tragiese komedie? PG Du Plessis het gesê dinge kan soms so tragies raak dat dit snaaks is.

Die hele samelewing is deesdae effe bipolêr. Ons lag en huil en maak grappies en kerm en droom en raas en raak stil en vrees en vloek en bid en skel . . . alles in een dag.

Soren Kierkegaard het meer as ’n halfeeu terug opgemerk dat die mensdom deur die kragte van twee pole beweeg word: plesier en pyn.

Die soeke na gemak en plesier en die wegvlug van potensiële ongemak en pyn beïnvloed die rigting waarin ons beweeg. Amper soos ’n magneet, die een kant trek en die ander stoot.

Selfs ’n dooie vis kan stroom af swem.

Maar dis nie al nie, sê Kierkegaard. Veral by mense wat hul lewe as betekenisvol beleef, is daar ’n dieper beweegrede: ’n hardkoppigheid om die regte ding te doen ongeag die pyn of plesier wat dit mag inhou, ’n behoefte om goed te wees in slegte tye.

Die vryheid van die individu lê juis daarin om moeilike innerlike keuses te maak te midde van eksterne druk. Selfs ’n dooie vis kan stroom af swem.

Hierdie derde beweegrede is in alle mense aanwesig: Almal is na God se beeld geskape, maar as ons dit altyd net naby die oppervlak waag, weet ons dit nie, mis ons die ontdekking van hoe vry ons eintlik is.

Van die grootste ontdekkings oor onsself word in donker dieptes gemaak. Victor Frankl het die waarheid oor homself in ’n konsentrasiekamp ontdek, Henry David Thoreau in die wildernis, Paulus in die tronk.

Maar dis moeilik om geleentheid in onsekerheid raak te sien.Vir die meeste van ons is dit bloot ’n probleem wat opgelos of weggepraat moet word.

In Breyten Breytenbach se woorde onlangs in ’n LitNet-onderhoud: “Wat ook opval, is dat die mens, in die algemeen maar ook die besonder, eenvoudig nie onsekerheid kan duld nie. Ons het nog nie ’n stilte of ’n leemte teëgekom wat ons nie vol wil praat met nonsens nie.”

  • Jaco Strydom is die leier van Echo Communities.
Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Toekoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.