Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
In jou eie fabel is enige toekoms moontlik
Tom Dreyer

Ons dobber in die strandmeer by Southbroom. Die water is louwarm en my tone sak weg in die sagte bodemslik. Palmbome leun na ons toe oor en trek diagonale lyne teen die wit huise teen die heuwels.

Later dryf ek met my oë vlak bo die water en sien die aankomende golfies, so oneindig soos die duine van die Namib. ’n Vis spring in die verte om vir ’n oomblik die wonder van ’n ander element te ervaar, en sien seker in daardie oomblik bootjies en mense wat stadig op opblaasmatrasse dryf – teikens vir die karnaval-messe van die son.

Later let ek op dat een van die vaartuie ’n rapsie vinniger as die ander beweeg.

Ek fokus fyner en sien dis ’n swemring, met die kop van ’n eenhoring (kompleet met uitspattige reënboogkuif). Maar dis ruiterloos en oorgelewer aan die giere van die wind. Ek kyk rond, maar dit lyk nie of enigiemand hulle daaraan steur nie.

In my gedagtes speel ’n seuntjie of meisietjie nog luilekker op die strand, onbewus van die hartseer wat voorlê. Ek kyk hoe die eenhoring omdop in die bries, soos ’n bladsy wat omgeblaai word, maar telkens weer regop kom.

Dit word kleiner en kleiner, soos ’n perd wat sy joggie afgegooi het en na ’n belangrike bestemming galop. Dit wieg onderdeur ’n uitleunpalm en verdwyn om die kromme van die strandmeer.

Het hulle die warmte van die son teen hul wange geniet, en die gewigloosheid van hul lywe in water.

Toe ons vroeër vandag in ’n oudhedewinkel in Ramsgate rondgekrap het, in gangetjies beklemmend soos kanale tussen riete, was my aankoop ’n boek oor die legendes van die Ooskus. Vasti se keuse was ’n gedraaide tol, glo eens gebruik in die weef van katoen. Ek het my die hemde en rompe probeer voorstel, eens geweef deur daardie tol, en die mense wat dit gedra het.

Het hulle die warmte van die son teen hul wange geniet, en die gewigloosheid van hul lywe in water? Ek het my kop om die inkan­yamba probeer kry, soos beskryf in my boek, daardie bonatuurlike inwoner van die Ooskus se kuile, ’n waterslang met die kop van ’n perd en die vermoë om selfs die weer na sy wil te buig.

Maar ek wis hierdie bladsye eerder uit, en sien dit tussen suikerriet en piesangbome deur dryf.

Die eenhoring is nou buite sig, en daarom getransformeer tot ’n fabel waarvan ek die verloop na willekeur kan bepaal. Ek sien die klein ontdekkingsreisiger tussen groen heuwels dobber, en aan deur klowe en ravyne. Ek sien hoe dit in die son vergaan, in ’n stormwaterpyp verdwyn, of in oewertakke verstrengel raak.

Maar ek wis hierdie bladsye eerder uit, en sien dit tussen suikerriet en piesangbome deur dryf.

Algaande raak voertuie skaarser, die eenhoring ’n bietjie papper (dog steeds ongetem), terwyl die inkan­yamba saamswem en afwisselend mooiweer of reënvlae bo die horison verwek.

En uiteindelik spoel die eenhoring in ’n klein dorpie uit, digby ’n meisietjie wat nader draf om dit verbysterd uit die water te lig.

Sy bekyk elke duim van haar wonderbaarlike geskenk, en besef oplaas dat die ring ook om háár lyf pas. En so begeef sy haar in die lou water, bó gehou deur die magiese krag van haar vonds.

Ander toekomste is moontlik, maar dís die een wat ek verkies.

  • Dreyer is ’n bekroonde skrywer.
Meer oor:  Tom Dreyer  |  Dam  |  Water  |  Toekoms  |  Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.