Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
In liefdevolle herinnering aan 'n plaas
Petro Hansen

’n Mens moet ook vir ’n plaas begrafnis kan hou.

’n Boer moet behoorlik kan groet. Hy kan nie sommer net sy ploeë en stropers laai, die ankerdraad knip en die pad vat na ’n nuwe tuiste nie. Geslagte se werk en toewyding aan daardie stuk grond kan tog nie sommerso deur ’n koopakte tot niet gemaak word nie.

’n Boer móét kan groet. Hy moet kan totsiens sê. Vir die melkstal wat hy sedert sy geboorte geken het; vir die roomafskeier wat elke laatmiddag dromerig getieng-tieng het; vir Sondag, Velskoen, Ans en Dora, die koeiname wat met verbleikte swart letters op gedane houtplankies teen ’n bleekwit muur geskryf staan; vir die geroeste nekklampe wat soos soldate in gelid vergeefs teen die tyd bly stry.

’n Boer moet kan afskeid neem van sy grensdrade wat hy oor jare saam met sy werkers gespan het, in die somer se snikheet son en die winter se snerpende koue. Hy moet kan treur oor die beneukte rooi bonsmara wat telkens deur die doringdraad breek en wat hy keer op keer saam met die werkers moes aankeer.

Die boer moet verlaas sy gesig kan draai na die koeligheid van die oostewind wat die groot reënwolke aanjaag. Hy moet nog een maal die tekens van reën sien, die bloukopkoggelmander wat teen die witstinkhout se stam op hardloop, die stormlelies wat spontaan by die voorstoep begin blom, die slange wat beginne uitkom en die brulpaddas wat van die vlei se kant af van hulle laat hoor.

’n Boer moet kan totsiens sê vir die son wat laatmiddag die sekelbos op die vlakte brandsteek.

’n Boer moet kan totsiens sê vir die son wat laatmiddag die sekelbos op die vlakte brandsteek.

Hy moet ’n laaste maal die plaashek kan toemaak agter almal wat in sy loneboek was. Hy moet die hek kan toemaak agter Maria wat ’n koppie koffie stil-stil sonder enige bestelling plaasstoep toe aandra; agter Petrus wat op die boer se seun se eerste skooldag vroeër as gewoonlik opgestaan het om vir klein Babalela te sê hy moet mooi loop en mooi skoolgaan; agter Fanie wat in die winterkoue bokke gevoer, beeste getel en die grond soos sy eie liefgehad het.

Hy moet die laaste keer die plaashek kan toeswaai agter ’n plaaslewe waarna hy bitterlik gaan verlang, al weet hy dat die nuwe eienaars die grond sal oppas nes hy het.

In die groewe van ’n verbrokkelende rooi baksteenmuur en in die krake van ’n stalvloer sal die boer en sy mense se verhale bly vassit.

Wanneer die stof gaan lê nadat die boer se bakkie die laaste keer in die plaaspad afgery het, sal die spierwit winterveld, die hardekoolvuur onder ’n helder Bosveldhemel, die tarentale wat in groepies oor die veldgras laat spaander, die visvanger se tjirekie-tjirekie, die reënwater wat ná ’n harde bui in die vlei afloop, die nagapies wat sononder van tak tot tak spring, die witkol-uil se roep, die bonsmarakudde wat op die groen uitgroeigras wei, die koedoe, buffel en die swartwitpens in liefdevolle herinneringe vir ewig en altyd in die boer se hart bly.

Meer oor:  Petro Hansen  |  Herinneringe  |  Plaas  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.