Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Ink uit pen van tiener word ’n baken van hoop
Aniki
Aniki Joseph

In een van sy briewe aan Ingrid Jonker skryf André P. Brink oor sy dagboek tydens ’n reis.

Hy verwys na ’n soort Italiaanse reisjoernaal. Hy kom onder die besef dat ’n mens dinge in ’n dagboek skryf wat vir jouself vanweë die assosiasie waardevol is, maar wat nie interessante leesstof vir ander uitmaak nie.

Jare later vorm die brief waarin die dagboek genoem is, deel van die meer as 200 skrywes in een van die aangrypendste liefdesverhale in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse boeklandskap. Vlam in die sneeu word ’n blitsverkoper en ’n versamelstuk vir digters, skrywers en sommer net elkeen wat die geskrewe kuns bemin.

Op die 12de dag van Junie 1942 ontvang ’n Joodse meisietjie haar heel eerste dagboek op haar 13de verjaarsdag. Sy begin onmiddellik daarin skryf. Op die eerste bladsy rig sy ’n brief aan die dagboek self. Sy spreek die hoop uit om haar dagboek te kan vertrou met alles wat sy nog nooit met enigiemand anders kon deel nie en dat die dagboek haar bron van troos en ondersteuning mag wees.

Die jong Anne Frank droom daaroor om eendag ’n joernalis of ’n bekende skrywer te word. Haar diepste wense beskryf sy as dat sy nuttig wil wees daardeur, vir alle mense vreugde wil bring deur haar skryfwerk en sy dank God vir die gawe.

Dit is hier waar Anne se handgeskrewe woorde in ink op gewone papier in haar dagboek die vingerafdrukke word van die onwankelende geloof.

Anne is in 1929 in Frankfurt, Duitsland, gebore. In 1933, nadat Adolf Hitler aan die bewind gekom het, wyk die gesin na Amsterdam uit om in skuiling te leef in ’n huis wat verdeel is in verskillende vlakke met ’n versteekruimte agter ’n boekrak. Dit is hier waar Anne se handgeskrewe woorde in ink op gewone papier in haar dagboek die vingerafdrukke word van die onwankelende geloof dat selfs in die donkerste, wanhopigste tye van die mens se bestaan, goedheid uiteindelik sal seëvier.

Dit is ’n mooi sonskyndag in Amsterdam toe ek onder die groot skaduryke boom voor Prinsengracht 263 staan. Die waters van die kanaal langsaan vloei rustig. Ek staan klein in die teenwoordigheid van groot geskiedenis…

Teen een van die mure pryk ’n aanhaling van Nelson Mandela waarin hy verklaar dat hy Anne Frank se dagboek op Robbeneiland gelees het en hoedat hy bemoediging daarin gevind het.

Anne se laaste inskrywing in haar dagboek was op die eerste dag van Augustus 1944. Haar familie word verraai, in hegtenis geneem en na Auschwitz geneem. Anne sterf in Maart 1945 in die Bergen-Belsen-konsentrasiekamp. Slegs enkele weke later word die gevangenes in die konsentrasiekampe bevry.

Otto Frank oorleef die konsentrasiekamp en gedurende 1947 is hy instrumenteel in die publikasie van Anne se dagboek. Dit word in meer as 60 tale vertaal. Die ink uit die pen van ’n tiener wat geglo het in die goedheid van die mensdom word wêreldwyd ’n baken van hoop.

Lank lewe die geskrewe woord, hoop en geloof in goedheid!

Joseph is ’n rubriekskrywer en reisiger van Pretoria.

Meer oor:  Aniki Joseph  |  Ink  |  Konsentrasiekampe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.