Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Inperking skep nuwe geleenthede

Die staat van inperking is die ideale tyd om daai dinge by die huis te doen wat jy nou al so lank uitstel, skryf Willem Fransman jr.

’n Staat van inperking.

Drie weke se vermaak in die staat van inperking. Foto: Willem Fransman jr.

Dít is hoe die regering na die tydperk verwys waarin Suid-Afrikaners in die veiligheid van hul huise moet bly as gevolg van die koronavirussiekte Covid-19.

As dit die enigste manier is om hierdie virus die hoof te bied, dan moet ons ons volle samewerking gee.

Eintlik is dit ongewoon, maar tog noodsaaklik om mense teen hulself te beskerm. En omdat ons, as Jan en Sarie Burger, nie teen die prikkels mag skop nie, moet ons aan kreatiewe maniere dink om onsself mee besig te hou.

Nie net kan vier mure mens inperk nie, maar dit kan ook tot groot frustrasie lei.

Gelukkig het ons ’n boekeversameling wat boeke bevat wat al lankal smeek om gelees te word.

Boeke soos Kerkorrel van Willem Pretorius (Tafelberg) wat net ná Johnny K se dood (2004) uitgegee is. Dikwels as ek verby die boekrak stap en ek en die boek kyk vir mekaar voel ek heel skuldig!

Dan is daar ’n Vlag aan die tong, ’n gedenkbundel van die derde Swart Skrywersimposium van 2015 wat deur Hein Willemse en Steward van Wyk saamgestel is. Dit bevat referate wat in 2010 gelewer is op die vierde Swart Skrywersimposium en is aan wyle prof. Adam Small opgedra.

Ek gaan darem nie heeltyd nét lees nie! Ek sien hierdie drie weke sommer ook as ideale tyd om my eie glühwein (spesery-wyn) te maak. Die winter lê immers net voor die deur.

Juis omdat ek al lankal ’n bietjie aan my Engels moet werk, is What Poets Need van Finuala Dowling (Kwela, 2005), aldus Danie Marais ’n novelle van seker “een van die beste plaaslike meesters van die tragikomedie”, ook op my lys.

Prof. Daan Cloete se Vrede vloei soos ’n rivier (Bybelkor, 2018), is een van die boeke op my rak wat ek al lankal moes gelees het. Cloete is ’n meesterverteller en volgens die flapteks behoort die boek hoop te bring vir ’n “nuwe” Suid-Afrika.

As die son ondergaan (Maskew Miller, 1945) is die enigste roman wat deur die digter Sydney Vernon Petersen geskryf is. Die eenvoudige boekie is naas die Bybel die boek wat al die langste op my bedkassie lê.

Dis die verhaal van ’n plattelandse jongman wat homself in die verlokking van die stad verloor. Ek is besig om die roman as vervolgverhaal vir radio te verwerk. In hierdie dae van afsondering hoop ek om goeie vordering te maak.

Was ek ook vir jou opgewonde toe dr. Danny Titus onlangs Bart de Graaff se boek, Barend Barends: Die vergete kaptein van Daniëlskuil, in my hand gedruk het.

De Graaff, ’n Nederlandse joernalis, het die lewensverhaal van hierdie vergete Griekwa-kaptein opgeteken en dit behoort ook boeiende leesvermaak te verskaf.

Gelukkig is ons net drie volwassenes in die huis. Minder voete dus om oor te val. My ander huisgenote (lees vroulief en 40-jarige dogter) sal seker ook hul eie bedrywighede hê om hulself mee besig te hou.

Vir interaksie kan ons kaartspeel. Domino’s bly ook ’n gewilde speletjie. En dan natuurlik die bordspeletjie Scrabble. Jare gelede, toe die kinders nog klein was, het ons ’n Afrikaanse weergawe gekoop.

Ek gaan darem nie heeltyd nét lees nie! Ek sien hierdie drie weke sommer ook as ideale tyd om my eie glühwein (spesery-wyn) te maak. Die winter lê immers net voor die deur.

Geen beter tyd as nou nie

Willem Fransman jr.

Dít alles gaan in ons huishouding gebeur terwyl Suid-Afrika ’n staat van inperking beleef. Nou gaan ons strate mensloos wees. Plekke sal in spookdorpe verander.

Terwyl ek skryf, het ek aan ’n minder bekende en ongepubliseerde toneelstuk, Closed Because of Death van die Nederlandse dramaturg Jan Wolkers, gedink.

In dié toneelstuk vertel die dramaturg ons van hoe die wêreld se geskiedenis finaal tot ’n einde gaan kom. As gevolg van ’n kragtige kernbomontploffing sterf die ganse aarde. Dis weer woes en leeg en onbewoon soos dit heel aan die begin was.

Oral is net verwronge staalstrukture sigbaar. Geen menslike figure dwaal rond nie. Alles is bar, smeulend en verlate.

Wel, die koronavirus gun ons nou ook ’n geleentheid om van voor af te begin. Om sake in en om die huis wat ons nou al so lank uitstel, uiteindelik aan te pak – of dit nou ’n ongeleeste boek of ’n onafgehandelde gesprek met ’n geliefde is.

Dan, in ’n stadium verskuif die toneelstuk van die aarde na die hemel.

Die gehoor sien God, wat met ’n apie op sy skoot sit. God speel met die apie en dan streel hy die apie. Vir ’n wyle staar hy die verte in. Net lank genoeg vir die gehoor om agter te kom wat deur God se gedagtes gaan.

Twee engele stap verby en steek vas. Die een sê vir die ander: “Dink jy waaraan ek nou dink, waaraan Hy dink?”

“Ja,” sê die tweede engel, “ek is bevrees ek dink nét soos jy.”

Dan, terwyl God oor die apie se ribbekas streel, raak die engele heel omgekrap. Die eerste engel sê toe benoud: “Wat is Hy besig om ons nou aan te doen? Gaan Hy nou sowaar weer die ganse mensdom uit die ribbekas van ’n apie begin? Leer Hy dan ook nooit sy les nie?”

Die tweede engel kom toe met dié lewenswaarheid na vore: “Dis presies die verskil tussen Hom en ons. Hy sien altyd ’n geleentheid om van vóór af te begin!”

Wel, die koronavirus gun ons nou ook ’n geleentheid om van voor af te begin. Om sake in en om die huis wat ons nou al so lank uitstel, uiteindelik aan te pak – of dit nou ’n ongeleeste boek of ’n onafgehandelde gesprek met ’n geliefde is.

Soos die karakter Pumba in The Lion King, sou sê: “Wel, die tyd (daarvoor) is nou.”

* Fransman is ’n skrywer en vryskut-joernalis. Die menings van skrywer is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.