Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Jesus méér as ’n ‘whipping boy’

Mense snap steeds nie die ware betekenis van Goeie Vrydag nie.

Foto: ISTOCK

Dit was nogal ’n dilemma toe daar veral ná die tyd van die Wetenskaprevolusie in Brittanje en Europa ingesien is dat koningskinders ook skool toe behoort te gaan.

Die kundiges wat die adellikes se kinders, aanvanklik net die prinse, moes onderrig, was immers gewone mense sonder koninklike bloed – commoners. Maar hoe nou gemaak indien hierdie prinse oortree? Daar is geglo dat daar straf op oortreding moet wees. Maar ’n burgerlike onderwyser sonder blou bloed durf tog nie ’n koninklike kind met ’n rottang dissiplineer nie?

Toe kry hulle ’n blink idee. Hulle sal ander seuns ook in die koningskinders se klas toelaat. Veelseggend noem hulle toe hierdie seuns “whipping boys”. As ’n prins oortree, moet die whipping boy van sy keuse buk. In die prins se plek moet hy op sy common sitvlak die onderwyser se rottanghoue ontvang.

Dalk is die prins jammer vir – maar ook dankbaar teenoor – die outjie. Dan help dit die prins om nie weer te oortree nie. Maar as die prins nou nie jammer voel nie? Of dalk juis nie van een van sy kamerade hou nie? Ag, vir baie het dit nie juis saak gemaak nie. Solank die beginsel van “oortredings moet gestraf word” net gehandhaaf is!

Glo, bid en bely

Gister het ons die kruisdood 2 000 jaar gelede herdenk, van ’n Joodse man, Jesus, wat deur gelowiges die Christus genoem is.

Hy het dit gewaag om God se liefdesgebod konsekwent teenoor die geringstes en armstes uit te leef en teen die gees van sy tyd, God se genade en medelye op lewende wyse te beklemtoon. Duisende mense is in daardie tyd as afskrikmiddel gekruisig, maar Jesus se dood op “slegte” Vrydag is nogtans ’n laagtepunt in die geskiedenis.

Dit herinner dat selfs in een van die beste beskawings uit die antieke tyd, die Romeinse regstelsel onder aandrang van godsdienstige heersers en ’n klein bietjie politieke gewin misluk het, deur Jesus as ’n groot opstandeling te laat doodmartel.

Maar dalk is die slegste nie dit wat daardie nare Romeine en jaloerse Jode op daardie Vrydag aan Jesus laat doen het nie maar wat ek en ander, wat baie van Jesus hou, van Hom maak: my eie whipping boy!

Wanneer ek verkeerd doen, selfs oor en oor verkeerd doen soos Romeine 6 waarsku, dan kan ’n mens dink Hy dra mos my sonde en straf.

Dan moet ek net “glo” en “bid” en “bely”. Ag, ek is jammer, maar tog ook so dankbaar!

“Solank die beginsel net gehandhaaf word!” sê iemand.

Kaartjie na hiernamaals

Maar niemand sê my dat dit eintlik die kerkvader Anselmus se “blink idee” uit die Middeleeue was om Jesus se dood logies in ’n vergeestelike skema te wil verduidelik nie. Op die koop toe is so ’n skema sonder die ongemak van sosiale geregtigheid wat die aardse Jesus se boodskap vir maghebbers inhou. Klink boonop baie Bybels, al gaan dit eintlik oor die destydse feodale stelsel se konings wie se eer deur oortredings geskend is en wie se eer alleen deur genoegsame straf herstel kon word.

Tragies dat dit as verstaanskema aanvaar is deur mense wat Bybeldele soos die Tien Gebooie goed ken. In die gebooie word ons immers meermale en vanuit verskillende hoeke gemaan om God se vrymag en uniekheid te eerbiedig. Trouens, oor God as die geheim van die werklikheid word juis meermale deur Bybel-bydraers getuig – dat Hy nie soos menslike konings is nie maar met genade werk.

Jesus, wat juis gekom het om opnuut te toon dat God soos ’n goeie Vader is, vertel die verhaal van twee seuns wat hul pa erg verneder het.

Toe die jongste terugkeer van sy verkeerde weë gee die pa nie vir hom ’n pak slae nie maar ’n groot partytjie. Geen dreigemente, ooreenkomste of offers nie. Die oudste (en godsdienstigste), wat ’n wrewel het teen die Vader se genade-karakter, se vernedering hou egter aan.

Jesus se dood is ’n teken en metafoor van God se opoffering en vergifnis uit louter omgee. Ons hoef nie met skuldgevoelens te bly sukkel nie.

Maar Jesus se lewe en dood gaan om veel meer as om vir my ’n kaartjie na ’n lewe hierna te gee. Hy roep ons juis om ons selfsug en ek-heid te los. Dis ’n betekenisgewende, maar gevaarlike lewenspad. Daarom moet ons juis ons eie kruis opneem en Hom volg.

Al volgende behoort ons as leiers, direkteure, ouditeure, wetenskaplikes, werkers, regslui en opvoeders ons te beywer vir God se andersoortige werklikheid waarin geregtigheid hier en nou kan heers.

Wat van die natuur?

André van Niekerk

Steeds is daar onmin tussen mense soos destyds. Maar vandag is ook die onreg teen die natuur op ’n krisispunt. Oor en oor waarsku wetenskaplikes in die een ná die ander verslag oor ons min tyd om die planeet van ons hebsug te red.

Die berekening is nou dat net 5% biomassa op aarde uit wilde diere, plante, voëls en amfibieë bestaan. Die oorbevolkte mensdom maak 36% van biomassa uit. Die res van lewende dinge, 59% (!), word in hulle tienduisende dikwels in klein ruimtes aangehou vir die uitsluitlike doel om vleis te lewer. Die soeke na ’n whipping boy hiervoor gaan nie die aarde red nie.

Eers wanneer ons die moed en dapperheid van Jesus se alternatief en sy gehoorsaamheid daaraan tot in ’n wrede dood gaan snap, sal Vrydag waarlik “Goeie Vrydag” kan wees.

  • André Van Niekerk is ’n gemeentepredikant van Pretoria.
Meer oor:  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.