Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Jonk, vol wysheid of ouer en skatryk?

Die tapyt van blare is sag en soel onder my voete. Amper geruisloos, loop ek.

Rondom my is dit doodstil. Of so voel dit.

Ek gaan staan stil en sluit my oë. Êrens, verbeel ek my, hoor ek iets. Ek haal diep asem, en raak stiller.

Antoinette Louw
Antoinette Louw

Ja, inderdaad. Iets is doer ver… Of is dit naby?

Hier, tussen niks en nêrens, kan enige iets wees.

’n Niemandsland, dink ek. Waar enige iets kan gebeur.

Ek spits my ore.

Die stille geruis van water wat meters ver val. Ek rúik die fyne druppels.

’n Uil roep. Vreemd, dink ek. Hierdie tyd van die dag?

Iets fladder van bo die beboste woud. Af en af in wye draaie. Oë nog steeds gesluit, steek ek my hand uit. Iets kielie my en ek lag. Ek maak my oë oop en in my hand lê ’n spierwit uilveer. Die punt wys sóóntoe.

Ek stap verder.

Deur die bome vang my oog iets. Die son se strale val net reg, anders sou ek dit gemis het. Die dier.

Nog nooit het ek so iets gesien nie. ’n Sneeuwitte takbok. Sy horings silwer van kleur.

Die dier kap-kap met sy poot. En kyk my sielvol in die oë.

“Ja, ek kom,” antwoord ek.

Verder en verder, dieper en dieper die woud in.

En dan, vanuit nêrens, is twee deure.

“Jy’t gekom by waarvoor jy gesoek het,” sê die dier.

Maar ek het nie ’n idee waarvan hy praat nie.

“Natuurlik weet jy. Want jy’s ’n dromer. Jy wil oor begin. Jy kán oor begin.”

Die twee deure troon voor my. Die rooi deur of die groen deur.

Rooi deur: Ek kan teruggaan en weer begin as tienjarige met al die kennis oor myself en die lewe wat ek nou het.

Groen deur: Dis 15 jaar in die toekoms en ek het R50 miljoen.

My mond hang oop.

Dis nie eintlik wat ek in gedagte gehad het nie. Ek draai na die dier om iets te sê, maar hy is weg.

Ek is alleen.

Ek oorweeg my opsies.

Om weer te begin as tienjarige.

Om beter keuses te maak. ’n Kans om foute wat ek gemaak het skoon te vee.

Ek dink aan my arme ouers wat so swaar gekry met my as moeilike tiener.

Hierdie keer sal ek nie deure toeklap nie – ek belowe. Maar beteken dit ek gaan weer sit met ’n probleemvel waaroor ek aande om huil? Ag nee wat.

Om oor 15 jaar te sit met R50 miljoen?

Dit kan my drome bewaarheid.

Ek kan die aurora borealis in Finland gaan kyk.

En die fliek maak wat ek nog altyd wou.

Maar ek gaan al 60 wees. En wie weet hoe lank ek nog daarna het om te leef.

Én ek gaan my hond se hele lewe mis. Ag nee wat.

Met hierdie drome skrik ek wakker.

In my eie bed.

Langs my lê my hond en my geliefde.

En in my hand is ’n spierwit uilveer.

  • Louw is ’n bekroonde aktrise.
Meer oor:  Antoinette Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.