Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Kan ’n tronk ooit iemand welkom heet?
Petro Hansen

Die bord by die hoofingang sê: “Welcome to Pollsmoor Management Area”.

Kan ’n mens iemand ooit by ’n tronk welkom heet? Waar 70 mense een toilet en een stort deel? Waar 15 mense een koekie seep per maand moet deel en jy noodwendig daarvan velprobleme kry? Waar jy tuberkulose sál kry? Waar jy een uur per dag uit jou sel gelaat word om ’n bietjie sonlig op jou vel te voel. Waar daar in ’n saal vir 46 net 30 beddens is? Waar die rillerstories gedy oor wat met veral jong gevangenes in so ’n saal gebeur en waar daar net een sielkundige vir 4 000 gevangenes is indien jy oor hierdie stories sou wou praat.

Dit is ook waar Henri van Breda voor sy vonnis aangehou is.

As kind het ons op pad middestad toe altyd by die Pretoria Sentraal-gevangenis in Potgieterstraat verbygery, verby die hoë mure met die rolle doringdraad daarop en die piepklein vensters.

Ek het altyd gewonder of die gevangenes by die hoë vensters kon bykom om buitentoe te kyk.

Ek het altyd gewonder of die gevangenes by die hoë vensters kon bykom om buitentoe te kyk en of hulle die voëls wat daar verbyvlieg kon sien.

Of hulle die wolke kon sien soos Oscar Wilde dit beskryf in sy gedig “The Ballad of Reading Gaol”: “I never saw a man who looked / With such a wistful eye / Upon that little tent of blue / Which prisoners call the sky, / And at every drifting cloud that went / With sails of silver by.”

Eendag toe die oggendson nog laag en flouerig oor Keeromstraat in Kaapstad gehang het, het ek voor die hooggeregshof gestaan. Seemeeue het in die skimmelblou lug rondgedraai en op die trap het verslaggewers saamgedrom om oor die sensasionele De Zalze-moorde in Hof 1 verslag te doen.

En toe kom Henri oor die straat gestap en hy lyk soos enigiemand se seun op universiteit, jonk en met sy lewe oop voor hom.

En toe kom Henri oor die straat gestap en hy lyk soos enigiemand se seun op universiteit, jonk en met sy lewe oop voor hom.

Verlede week sit dieselfde kind met ’n vinger oor sy geklemde vuis en vryf en knik byna bevestigend toe regter Siraj Desai hom vonnis: “Jy het drie mense met ’n byl vermoor en dieselfde met ’n vierde persoon probeer doen. Hierdie mense was jou eie gesin. Jy het nie aan die hof bekend gemaak wat tot die uitvoer van hierdie misdade aanleiding gegee het nie.”

Dis harde woorde. Dis ’n verskriklike tragedie. En ja, dit moet gestraf word. Maar ek kan tog ook nie help om soos die skrywer Jeanette Ferreira daaroor te voel nie. Sy skryf: “Dis onnosel en naïef van my maar ek is dankbaar dat ek ook medelye kon ervaar met hierdie mens wat vandag gehoor het hy gaan die res van sy lewe in ’n gevangenis deurbring.”

En ek kan ook nie anders nie as om Oscar Wilde se woorde soos ’n reddingsboei vir Henri van Breda agter die tralies van die Drakenstein-gevangenis aan te gooi nie: “And thus we rust Life’s iron chain / Degraded and alone: / And

some men curse, and some men weep, / And some men make no moan: / But God’s eternal Laws are kind / And break the heart of stone.”

Meer oor:  Henri Van Breda  |  Pollsmoor  |  Gevangenis  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.