Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Kerke kan en moet help met genesing in SA
Reggie Nel

Die EFF is besig om wonde oop te krap – dié keer van diegene wat gely het onder apartheid. Dis pynlik.

Sosiale studies dui daarop dat genesing in lande wat diep etniese verdeeldheid beleef het, oor etlike generasies plaasvind.

As daar nie aandag aan die verlede se dieper wonde gegee word nie, loop ons die gevaar om bloot die simptome kunsmatig te behandel.

Hoe ons omgaan met die genesingsproses en hoe diep ons bereid is om die kwessies aan te spreek, maak ’n groot verskil aan hoe ons weer heel word. Geloofsgemeenskappe speel ’n kritiek belangrike rol in die proses.

Ek het onlangs ’n sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) in die Oos-Kaap bygewoon.

Dit is, soos die naam aandui, ’n kerk wat die vrug is van ’n herenigingsproses tussen verskillende kerke, een oorwegend swart, die ander bruin. Die reis om die twee kerke te verenig, was nie ’n maklike saamstap nie.

Die geloofsgemeenskap verdien erkenning vir hul moed en gewilligheid om nie die moeiliker prosesse tot genesing te systap of, nog erger, om dit te ontken nie.

Daar bestaan vandag nie meer baie veilige ruimtes om eerlik met mekaar oor die waarheid te praat nie.

Daar bestaan vandag nie meer baie veilige ruimtes om eerlik met mekaar oor die waarheid te praat nie. Die manier waarop die EFF dit benader, help ook nie. Die pad van genesing is nie ’n politieke voetbal nie.

Wat speel dan een van die belangrikste rolle in genesing?

Miskien moet ons mekaar weer eens herinner dat ons almal geraak is en op ’n manier steeds gewond is deur ons verlede.

Hierdie “wonde” kom tot uitdrukking in verskillende gedaantes en ons moet daarvan bewus wees. As geloofsgemeenskappe moet ons dus erken: Ons was en is steeds deel van Suid-Afrika se werklikheid. Die tragedie is dat ons soms deel is van die probleem.

Om ’n gemeentelid van ’n kerk te wees, is in talle gevalle steeds ’n vorm van laer trek. Ons verkies steeds om in ons private lewe te onttrek en tyd deur te bring met mense wat dieselfde as ons is. Kyk maar na die gebrek aan diversiteit by ons Sondagoggenddienste. Prof. Jonathan Jansen het onlangs in een van sy lesings uitgewys dat kerke en huisgesinne steeds etnies-homogene verhoudingspatrone in stand hou. Ons sluit steeds uit en ons sien nie altyd ons blindekolle raak nie.

Die ander werklikheid is ook dat sommige van ons steeds rondloop met ’n valse meerderwaardigheidskompleks. Dis egter nie net ’n probleem by wit mense nie, maar ook by swart mense, bruin mense en Indiërs. ’n Meerderwaardigheidskompleks verdoesel pyn.

Onlangs het ’n jong Indiërvrou in kru taal ’n swart man op ’n vliegtuig beledig. Hoe word dit hanteer? Die man wat te na gekom is, besluit om ’n ander pad saam met die jong vrou te stap, ’n pad van genesing en versoening.

Dit is keuses soos dié wat vir ons hoop gee om die wonde van ons verlede te genees.

Ons land se toekoms kan nie uit grootheidswaan of selfs ’n minderwaardigheidskompleks gebou word nie, maar uit keuses soos dié wat ware visioenêre leiding toon.

Die keuses wat ons nou maak, gaan die genesingsproses vir toekomstige generasies bepaal.

Meer oor:  Reggie Nel  |  Sielsgoed  |  Rassisme  |  Eff  |  Kerk  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.