Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Kitaar was Jimi se kruis

Sy kitaar waarmee hy sy bewonderaars wêreldwyd betower het, was Jimi Hendrix, wat verlede maand 75 jaar oud sou wees, se lewe, skryf Willem Fransman Jr.

Die omstrede Jimi Hendrix het die wêreld met sy kitaar betower. Foto: Argief

Hendrix, wie se verjaardag op 27 November sou wees, het ongelukkig soos baie ander belowende kunstenaars – James Dean, Janis Joplin, Kurt Cobain en Amy Winehouse – op 27-jarige ouderdom gesterf. Ontydig weggeruk op die kruin van ’n suksesvolle loopbaan.

Dis byna asof hy dit so beplan het, veral as gekyk word na ’n opmerking wat hy eenkeer gemaak het: “I will be dead in five years’ time, but while I am here, I will travel many highways and I will, of necessity, die at a time when my message of love, peace, and freedom can be shared with people all over the world.”

Hendrix en Woodstock sinoniem met mekaar.

James Marshall (Jimi) Hendrix (hy’s eintlik Johnny Allen Hendrix gedoop) word gelukkig wel tot vandag toe onthou vir wat hy in sy kort, maar stormagtige lewe vermag het. Hierdie boorling van Seattle en die Woodstock-musiekfees is onlosmaaklik deel van mekaar.

Die legendariese drie dae lange eerste Woodstock-rockfees is op die melkplaas Catskill van Max Yasgar te White Lake, New York, gehou.

Drie dae van nét vredeliewendheid en musiek op 15 tot 17 Augustus 1969, is hoe die fees geadverteer is. Maar The Woodstock Music &Art Fair het die wêreld van rock ‘n’ roll vir ewig verander.

Vanjaar is die 48ste herdenking van dié epogmakende fees.

Hendrix se kitaar doen die praatwerk

Die volksdigter Adam Small het op ’n keer gesê: “Die kitaar is die instrument van die Kaapse Vlaktes. Daardie einste kitaar kan natuurlik ook jou ondergang wees . . . kitaar my kruis! Want die lewe is tog ook ernstig.”

Hendrix, veral omstrede oor sy uitlatings, het sy elektriese kitaar die éintlike praatwerk laat doen.

“He could make a guitar talk!”

Jimi Hendrix in aksie. Foto: Argief

Op ’n keer het die toe nog onbekende Hendrix gevra om saam met Eric Clapton en sy orkes, The Cream te jam. Clapton was as “die god” van kitaarmusiek beskou en The Cream was sy dissipels. Hendrix het sy Fender Stratocaster ingeprop en begin tokkel aan “Killing Floor”, ’n liedjie waarvan Clapton gehou het, maar voorheen as te “moeilik” om te speel beskou het.

Van die eerste klanke was daar uitroepe van ongeloof. Ook oor die rookie se truuks met die kitaar soos die wyse waarop hy klank daaruit voortgebring het.

“He killed God, man! He killed Clapton!” het iemand bewonderend uitgeroep.

Ná dié Hendrix-kragvertoon kry Clapton se vriende hom in die kleedkamer, waar hy bewerig ’n sigaret probeer aansteek. “You never told me he was thát good,” het Clapton glo gestamel.

Offer dit op waarvoor jy lief is

Hendrix se lewe as kind van die 1960’s (die era van die blommekinders) was uiters gewoon. Tog was hy voortdurend in die sop by die polisie en die owerhede.

Hendrix het op 16-jarige ouderdom sy pa gesmeek om vir hom ’n tweedehandse akoestiese kitaar te koop. Op 17 kry hy sy eerste elektriese kitaar, ’n Supro Ozark.

Jimi Hendrix is ’n musieklegende. Foto: Argief

Voor sy 19de verjaardag het die polisie hom twee keer weens motordiefstal in hegtenis geneem. Hy moes kies tussen tronkstraf en die weermag. Op 31 Mei 1961 het Hendrix hom by die Amerikaanse weermag aangemeld.

Ná sy ontslag uit die weermag het hy in verskeie orkeste gespeel en vinnig opgang gemaak. Brian Jones van die Rolling Stones het hom in 1966 op die Monterey International Pop Festival aan die skare voorgestel as: “The most exciting performer I’ve ever heard!”

Aan die einde van die einste konsert het Hendrix dramaties sy kitaar, ’n Fender Stratocaster, aan die brand gesteek. “The time I burned my guitar, it was like a sacrifice. You sacrifice the things you love . . . I love my guitar. I’d just painted it that day and was really into it!”

Die kitaar-aan-die-brand-steek-seremonie sou later die in-ding onder kitaarspelers word.

Hendrix is gedryf deur sy kitaar

Vandag is Hendrix se naam sinoniem met Woodstock. Benewens Hendrix sou Janis Joplin, Arlo Guthrie, Country Joe McDonald, die Rolling Stones, Joe Cocker en vele ander kultus-status bereik en die blommekinders tot ongekende hoogtes lei.

Willem Fransman jr.

Op 18 September 1970, op die kruin van sy gewildheid, word Hendrix dood in sy kamer in die Samarkand Hotel in Kensington, Londen, aangetref. Die verslag van die nadoodse ondersoek onthul dat hy onder die invloed van verdowingsmiddels was en in sy slaap in sy eie braaksel versmoor het.

Maande ná Hendrix se dood sê iemand: “The day Jimi Hendrix died, guitar music died too!”

Dis al asof kitaarspelers wat die verbeelding aangryp aan die verdwyn is. Sedertdien kon niemand weer die verbeelding van die kitaarspelende wêreld só aangryp nie.

Dis net asof hulle nie bo die gewone gang van ’n daaglikse bestaan kan uitstyg nie. Hendrix wás anders . . . altyd aan die eksperimenteer. As dit nie verdowingsmiddels was nie, dan was dit om met ’n nuwigheid, soos ’n elektriese kitaar met twee “koppe” op die verhoog te spring.

Jonathan Butler se “Seventh Avenue” gee dikwels hoendervel. Trevor Nasser is ook glad nie sleg nie.

Dit lei egter geen twyfel nie dat Hendrix die wêreld meegesleur het met sy omstredenheid – met sy musiek én met sy op-die-afgrond-leefstyl.

Hy is gedryf deur sy kitaar. Sy kitaar was immers sy lewe . . . én sy kruis.

* Fransman is voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.

Meer oor:  Eric Clapton  |  Adam Small  |  Jimi Hendrix
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.