Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Rian van Heerden: Klaagliedere van die Jeremias

Almal van ons hou blykbaar baie daarvan om te kla. Maar het dit nie dalk tyd geword dat ons so dan en wan ook komplimente uitdeel nie? vra Rian van Heerden.

Rian van Heerden

Hoekom is ons so vreeslik lief daarvoor om te kla?

Ek het onlangs een van ons plaaslike televisiekanale se Facebook-blad besoek en was absoluut verstom oor hoeveel mense eenvoudig die blad vir een rede besoek: klagtes.

Daar word ook oor alles gekla: van storielyne tot akteurs wat common voorkom. Komplimente is soos die Engelse sal sê few and far between.

Klagtes is egter nie vir my ’n vreemde ding nie, ek is lankal gewoond daaraan. Ek onthou nou skielik die eerste keer dat ek oor ’n klagte stomgeslaan was.

In daardie stadium was ek werksaam in ’n supermark en het die een kasregister beman. ’n Vrou het die Griekse eienaar woedend trompop geloop: “There’s something wrong with your cheese buns!”

Ons was almal verbaas om dit te hoor, aangesien die supermark nogal bekend was vir sy heerlike vars kaasrolletjies wat elke oggend vars gebak is en gewoonlik van die kaas oorlaai is.

“What’s the problem?” wou die Griek weet. Die vrou het ’n papiersak met kaasrolletjies op die toonbank neergeslinger: “They’re too hot!”

Vandat ek egter by die vermaaklikheidsbedryf betrokke is, het ek baie meer klagtes gehoor. In my eerste paar dae op kommersiële radio was daar heelparty klagtes oor my stem, selfs nog voordat ek begin sê het wat ek dink! Op TV was daar oor my eerste program talle klagtes oor die manier waarop ek sit: “Sit regop, man!”

Ek het later gewoond geraak aan die klagtes en steur my nou net aan die kritiek van mense wie se menings ek respekteer.

Uiteindelik moes hulle selfs my stoel op die stel vervang om die gety te probeer draai, want jy sien, as die aanbieder nie regop sit nie, dan is dit natuurlik ’n swak program.

Ek het later gewoond geraak aan die klagtes en steur my nou net aan die kritiek van mense wie se menings ek respekteer.

As ek egter loer na sosiale media en die koerante se brieweblaaie, kom ek agter dat die klaers beslis nie minder geword het nie. En ja, daar is baie min dinge waaroor hulle nie kla nie!

Ek kom ook agter dat mense ’n sterk behoefte het om op enige manier probeer om deel van ’n groep te wees. As die groep waarna jy aspireer dus nie hou van iets nie, moet jy sorg dat jy so vinnig moontlik jou straaltjie piepie sodat daar tog nie twyfel kan wees waar jy staan nie. Al ken jy nie die feite nie.

Klagtes is natuurlik hier en daar nodig om dienslewering te verbeter en standaarde te verhoog.

In dieselfde asem moet ek egter byvoeg dat dit nie beteken dat jy nooit mag kla nie. Ek ken net een só ’n persoon en dit is my ma. Ek het eenkeer gesien hoe sy malvapoeding in ’n restaurant bestel, maar roomys en sjokoladesous is voor haar neergesit. Ek het aangedring dat sy hieroor kla, maar haar antwoord was eenvoudig: “Toemaar, my kind, hierdie is ook lekker.”

Klagtes is natuurlik hier en daar nodig om dienslewering te verbeter en standaarde te verhoog. Wat jy egter nie moet doen nie, is kla om in te wees of omdat jy probeer bewys hoe belangrik jy is. Jy moet ook natuurlik nie kla met die witbrood onder die arm nie.

As jy dit wil doen, moet jy gekwalifiseerd kla. As voorbeeld: As jy by die vleisbraai wil kla oor hoe sleg dit in die land gaan, moet jy darem iewers noem dat jy ten minste nog jouself daai aand kan dik eet aan filet en dit met goeie Kaapse wyn kan afsluk.

Wanneer laas het jy ’n kompliment gegee?

En hier is ’n vraag: Wanneer laas het jy ’n kompliment gegee? Moet ons nie met dieselfde entoesiasme waarmee ons kla, ook komplimente gee nie? Wanneer laas het jy ’n brief geskryf oor goeie diens of iets geplaas op sosiale media daaroor?

Ek het die ander dag besluit om die vervaardiger van een van my gunstelingprodukte te laat weet dat ek ’n groot aanhanger is. Dis ’n grondboontjiebotter waarvan ek al jare nie genoeg kan kry nie. En jare lank het ek hulle nooit daaroor gekomplimenteer nie. Toe stuur ek ’n e-pos.

En dit was byna lekkerder as die grondboontjiebotter self!

* Van Heerden is ’n TV-persoonlikheid en radio-omroeper.

Meer oor:  Rian Van Heerden  |  Kla  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.