Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Kom ons kyk hoe ons kan ooreenstem

Suid-Afrikaners weet so min van mekaar se gewoontes en gebruike, het Willem Fransman Jr. onlangs op ’n begrafnis agtergekom. Die tyd het dalk aangebreek dat ons die ekstra kilometer met alle mede-Suid-Afrikaners moet loop.

Willem Fransman Jr.

’n Week of wat gelede het ons oom Nicklaas Adams van Ravensmead begrawe.

Hy was alombekend as oom Nicky of Uncle.

Oom Nicky was ’n Morawiër in murg en been en baie lief vir koorsing. ’n Man wat sy lewe deur die kerk gelewe het.

Al by die huisdiens kon ’n mens agterkom dat oom Nicky ’n groot invloed op sy dorpie en sy inwoners se lewens gehad het. Behalwe vir sy eie gesin en húl families, was daar verskeie gesinne van sy geboortedorp, Wittewater, anderkant Piketberg, teenwoordig.

Op die Kaapse Vlakte, maar glo my ook op enige dorpie, sal bure en vriende, selfs jeugvriende, van heinde en verre kom om vir oulaas hulde te bring aan ’n gevalle vriend en makker.

En moenie praat van die geleentheid om ’n slaggie jou beste klere uit die klerekas af te stof nie! Wel, oom Nicky se begrafnis was dan ook geen uitsondering nie.

Dis dan by totsiens-sê-geleenthede soos hierdie dat mens se gedagtes wye paaie met jou loop.

Toe die begrafnisbrief in my hand gedruk word, merk ek dadelik op dat daar verskeie vroue as slippedraers aangewys is. Volgens ’n destydse Xhosa-kollega is so iets ongehoord by hulle.

“Nee,” sê hy, “volgens my mense se tradisie bring jy ’n verskriklike oordeel oor die oorlewende familie as jy so iets doen.” Volgens hom is die vroue se primêre taak slegs om die liggaam te was, “uit te lê” en dan die doodskleed aan te trek. Dan word hul taak met die ontslapene as afgehandel beskou.

Hoeveel weet ons werklik in hierdie mooi en wye en droewe land van mekaar se begrafnisrituele?

Maar vir oom Nicky se agtergeblewenes was dit ’n louter plesier en laaste eer om hom na sy laaste rusplek te help dra.

Onwillekeurig het ek ook aan ons Moesliem-broers en -susters gedink. Ook hul begrafnisrituele is nie altyd bekend aan ons nie. By hul begrafnisse ook dra slegs mans die kis. En Moesliems word op dieselfde dag van hul dood ter ruste gelê.

In die kerk het eerwaarde Willem Valentyn ’n roerende lewenskets van oom Nicky voorgedra. Hy het ’n woordportret geskilder wat hy saam met ouma Loun, oom Nicky se weduwee, opgestel het. Treffend word oom Nicky se lewe opgesom:

“As kind was oom Nicky bevoorreg om elke oggend deur die voëltjies wakker gemaak te word. ’n Ander voorreg was om oor die Bergriviervallei te kyk. Hy het die beskerming van ’n geslote gemeenskap, dié van Wittewater-sendingstasie, geniet. En die Morawiese Kerk en sy kerklike meelewing het ’n blywende rol in sy opvoeding en karakterbou gespeel.”

Hoeveel weet ons werklik in hierdie mooi en wye en droewe land van mekaar se begrafnisrituele? Om nie eens van godsdienstige gebruike en rituele te praat nie?

Hoeveel keer het ons ons nie al betrap dat ons selfs neerhalend praat of optree juis omdat ons nie begrip vir mekaar se agtergronde en komvandaan het nie? Die tyd het aangebreek dat ons die ekstra kilometer met alle mede- Suid-Afrikaners moet loop.

Maar as ons in lewe nie kan saamleef nie, lê die antwoord dalk in die dood.

Ons almal – wit, swart en bruin – werk deesdae skouer aan skouer. Tog kén ons nie mekaar se kulture en gebruike nie. Of is dit maar ’n kwessie van onbekend maak onbemind?

Ná die begrafnis was daar ’n fees in die kerksaal. En die tradisie om aan mense iets te ete aan te bied, kom ook al ’n lang pad. Dit is eintlik maar net bedoel vir hulle wat van ver kom, sodat hulle innerlik versterk kan wees vir die lang terugtog.

Maar soos mense deesdae begroot, lyk dit asof dit vir ’n dorpstroue gedoen word.

En nee, daar was nie ’n “drinkhoekie”, soos ons nou al daaraan gewoond geraak het op die Vlakte, by uncle Nicky se begrafnis nie. Dit was immers op die kerkgronde.

Maar volgens my Xhosa-vriend het hulle ook drinkhoekies by die huis, maar dis net vir manne. Ironies is dit nogal die vroue wat die beste biermakers van hul gemeenskappe is.

Maar as ons in lewe nie kan saamleef nie, lê die antwoord dalk in die dood. Dalk het ons dáár ’n gemeenskaplikheid, iets soos ’n gedeelde faktor in ons geskille. ’n Mens kan maar net wonder.

* Fransman is voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.