Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Kommentators soos my ‘local’ vol bekendes

Tussen al die voordele daarvan om op die platteland te bly, is daar iets wat tekort skiet en waarvoor ek ná al die jare steeds onwillekeurig in die oggende wag: daardie “plop” waarmee die koerant teen die voordeur val wanneer dit afgelewer word.

Annemarie van der Walt

Ek mis die reuk van drukkersink met die eerste koppie oggendkoffie. Dit was asof van altyd maar net daar, van die oggende voor skool toe eers Die Transvaler en later Beeld op die een toonbank in die kombuis gelê het en elkeen in die huishouding van sewe so in die verbyloop en tussen ontbytafsluk vinnig deurblaai en op datum kom met die nuus.

Nou maak ek maar soggens die e-koerant oop, want ek wíl blaai. Dis ’n skrale troos, maar ten minste is Die Burger en Volksblad en selfs die Eikestadnuus of die Kalahari Bulletin nou ook as’t ware op my tafel.

Klaar geblaai, loop soek ek die kommentare. Dié is mos soos ’n ongeluk waarby ’n mens nie kan verbyry nie. En as jy dalk gedink het ons Afrikaanse spulletjie sukkel soms om die standaard van ’n debat te lig, die argument te beredeneer en nie die persoon aan te val nie, loop lees maar van die kommentare in die Britse, Nederlandse en Duitse koerante. Ons is toe mooitjies in pas met die res, ongelukkig.

Waarin ek my wel verkneukel, is die gemeenskap van kommentators. Dit voel al asof ek in my local instap en al die bekendes raakloop.

“Is jy terug, Tina?” vra een nou die dag vir Tina Butler wat seker ander doendinge had en nie soos klokslag haar meestal nugtere stuiwer in die armbeurs kon gooi nie. En as Kruger van der Merwe, wat ek aflei in die buiteland is, nie die dag water op die vurige gesprekke gooi nie, voel ek gekul.

Ander hou weer daarvan om olie op die einste vure te gooi. Ek bly nie altyd by wanneer Matt Heyns oor godsdiens- en kerksake keel skoonmaak nie, maar gewoonlik is daar ’n iemand soos Pieter MG Meissenheimer, behendig met ’n one-liner, wat die koers verander.

Op Hennie Scholtz kan altyd staatgemaak word om die presiese woord te vind en dikwels iemand op die grammatikale smalle weg te hou. Ek wens net sy invloed het so ver gestrek om die Komonskliek-profiele te redigeer sodat daardie een vrou wat nie van “bakly” hou nie ’n beter kans staan om een van die ander “aleen lopers” te ontmoet.

Ek het al gaan oplees presies hoe sake tans staan in Orania danksy Ben de Klerk; en die dag as Cobus Botha iets positiefs van die heup vuur, gaan ek jubel. Vir JJ Lovelock se kleinkind wens ek alle sterkte toe met sy/haar studies by Akademia, maar is effens bekommerd omdat ons so lanklaas iets gehoor het van Kitta-komma-van Heerden.

As Beeld se SMS- en briefskrywers in Parys tesame gaan uiteet soos hulle onlangs onderneem het, nooi ek op my beurt die kring van kommentators na my stoeptafel toe . . . sodra ek die brandblussers laat diens het.

Meer oor:  Platteland  |  Koerant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.