Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Koos du Plessis se draaitafel

Dalk is die invloed van digitale tegnologie net só deurmekaar dat ’n mens geen stelling meer met ’n selfversekerde gemoed kan maak nie, skryf Andries Bezuidenhout.

Teen die hange van Sandile’s Kop. Foto: Andries Bezuidenhout

Waar het jy nou al in jou lewe gehoor van veertienjarige Suid-Afrikaanse seuns wat na Miles Davis en blues-opnames uit die 1920’s luister?

Verlede week het twee sulke seuns my op ’n heel ander manier na die wêreld van tegnologie laat kyk. Die gesprekke met hulle het my aan daardie popliedjie uit die 1980’s laat dink, ’n oorwurm wat só gaan: “Video killed the radio star . . .”

Ek skat die feit dat ek dit nog onthou gee my ouderdom weg. Hulle sê mos jy ken generasies aan die musiek waaroor hulle nostalgies raak. Vir my is dit steeds musiek uit die 1980’s.

Nietemin, in die 1980’s was musiekvideo’s wat op die TV uitgesaai is, op die voorpunt van nuwe tegnologie. Volgens die popliedjie sou video die radio vervang.

Verlede week kom kuier my skoonsuster se seun Lukas en sy vriend Thabiso by ons in Alice hier in die Oos-Kaap. Die twee veertienjariges woon hul hele lewe nog in Johannesburg. Die doel van die besoek was deels om hulle ’n geleentheid te gee om ’n ander deel van die land en ons geskiedenis te leer ken.

Lukas en Thabiso is ook kranige fotograwe, danksy die invloed van een van die onderwysers by hulle skool.

Alhoewel hulle meestal in portrette belangstel, is dit die landskappe hier in die Oos-Kaap wat hul verbeeldings op hol het.

Die eerste middag van hul besoek ry ek met hulle teen Sandile’s Kop uit, ’n koppie reg langs Fort Hare se kampus hier in Alice, sodat hulle ’n idee van die landskap kan kry.

Met die eerste stilhoukans so halfpad teen die koppie uit, is elkeen met twee kameras om die nek die motor uit en die boendoes in – Lukas met sy tekkies en Thabiso in Doc Martens-stewels.

Met die digitale kamera neem jy vyftig foto’s en gebruik dalk een. Met film dink jy mooi, beplan, neem slegs besonderse tonele af.

Met die terugklim wil ek weet hoekom elk twee kameras het. Een digitaal, een film, verduidelik Lukas.

Dis twee verskillende prosesse, vertel hulle. Met die digitale kamera neem jy vyftig foto’s en gebruik dalk een. Met film dink jy mooi, beplan, neem slegs besonderse tonele af.

Elkeen laat jou anders oor die ander een dink.

Hulle praat ook oor die ontwikkeling van film en die verskillende kombinasies van fisiese en digitale prosesse wat gevolg kan word – voordele, nadele, ek kan nie al die detail onthou nie.

Ek moet ook noem dat hulle gesels het oor hoe hulle moes spaar om die kameras te koop – tweedehands, niks nuut nie.

Lukas en Thabiso in hul tydelike ateljee. Foto: Andries Bezuidenhout

‘Alles is reeds gedoen’

By die huis gekom blink die twee se oë oor my kitare en musiektoerusting – dit dateer uit die jare toe ek nog ’n deeltydse rockmusikant was. Hulle stel summier ’n musiekateljee met ’n kombinasie van my toerusting en hulle s’n saam.

Hulle sukkel om die een mikrofoon met die tablet te laat gesels. Lukas kyk op YouTube hoe om dit te doen en die opname kan begin.

Hulle was juis besig om aan ’n nuwe komposisie te werk. Lukas programmeer perkussie. Hy het ’n tweedehandse akoestiese tromstel by die huis waarop hy leer speel. Thabiso skryf lirieke en komponeer melodie; hy sing en speel kitaar. Lukas is besig om te leer klavier speel, so hy programmeer elektroniese melodielyne.

Die twee is nie tevrede met die klankgehalte van ’n vroeër opname van Thabiso se stem nie en dis waarvoor my mikrofoon ingespan word.

Thabiso voel daar is niks nuut nie – als is reeds gedoen. Al wat mens kan doen is om dinge op nuwe wyses te herhaal.

Ons gesels oor die opnameproses en hoe tegnologie musiek deur die eeue heen verander het. Hoe moes dit gewees het voordat ons klank kon opneem? Musiek moes opgevoer word vir mense om dit te kon waardeer. Thabiso sê hy wil nog klank op ’n wasplaat opneem.

Lukas speel een van sy komposisies op sy tablet vir ons. Hy het ou jazz-opnames opgesnipper en op ’n nuwe manier met geprogrammeerde perkussie saamgevoeg. Hy’s nogal goed daarmee. Dit loop gevaar om in ’n oorwurm te ontaard.

Ons gesels oor wat oorspronklikheid deesdae sou behels. Thabiso voel daar is niks nuut nie – als is reeds gedoen. Al wat mens kan doen is om dinge op nuwe wyses te herhaal.

Die pad tussen Hogsback en Seymour oor Mitchell se pas. Foto: Andries Bezuidenhout

Verskillende maniere van beleef

Die gesprek keer terug na fotografie. Ek wil weet of hulle dink digitale fotografie maak kunsfotografie dood.

Aan die een kant stem hulle saam – elkeen met ’n selfoon kan foto’s neem. Daar is soveel meer beelde beskikbaar, asook digitale toepassings wat foute outomaties korrigeer.

Aan die ander kant gaan dit oor die skaal van belewenis, verduidelik Thabiso. ’n Digitale foto kan ’n mens meestal net op ’n kleinerige skerm besigtig. Foto’s wat op film geneem is, kan groot gedruk word en daarna kyk jy in ’n galery, sê hy.

Lukas het onlangs sy oupa Koos du Plessis se draaitafel laat restoureer, sodat hy na plate kan luister.

Ja, sê Lukas, dit gaan oor verskillende maniere van beleef. Dit geld musiek ook. Soms wil jy daarna luister terwyl jy op jou skaatsplank ry (hy het natuurlik nie die woord “skaatsplank” gebruik nie). Jy luister daarna met oorfone wat aan jou selfoon gekoppel is.

Op ’n ander keer wil jy stil sit en slegs die musiek waardeer. Dan luister jy daarna op ’n plaat. Dis ’n ander belewenis van klank. Lukas het onlangs sy oupa Koos du Plessis se draaitafel laat restoureer, sodat hy na plate kan luister.

Ek verbeel my die draaitafel was eens by ons aan huis en dat ek ook al ’n slag probeer het om dit te laat werk. Ewenwel, so word die toestelle besoek aan die derde en die vierde geslag.

Uiteindelik is Lukas ook met sy oupa se kamera hier weg.

Die uitsig van die Amatholeberge by Hogsback. Foto: Andries Bezuidenhout

Op die pad tussen Hogsback en Alice

Ons was Hogsback toe om Vrydag-vis-en-tjips, ook ’n Oos-Kaapse tradisie, by Lana en Craig se plek te gaan eet.

Nou is dit donker. Ons ry stadig met die pas teen die Amatholeberge se hange langs af terug Alice toe; daar’s bokke, beeste en slaggate in die pad.

Lukas vra of hy sy selfoon kan “aux”. Kan wat? “Aux”, sê hy.

Wil jy nie Bluetooth nie? probeer ek slim klink. “Aux is makliker,” sê Lukas.

Dit beteken dat hy die foon met ’n draad aan die kar se klankstelsel koppel. Ek weet darem “aux” staan vir “auxiliary”. O, aarde, dink ek nietemin. Waarna gaan ons nóú luister?

Lukas speel Miles Davis. Thabiso “aux” sy foon ook. Blues uit die 1920’s.

Ek is seker hulle luister nie noodwendig hierna as hulle op hul eie is nie. Aan die ander kant praat hulle op ingeligte wyse oor jazz en blues en ander musiek wat hulle teëkom en van hou.

Andries Bezuidenhout

Met my oë op die pad noem ek dat my musieksmaak nie so gesofistikeerd op die ouderdom van veertien was nie.

Waarna het jy dan geluister? wil Lukas weet.

Wel, jou oupa, byvoorbeeld . . . Ek’s te skaam om ander name uit die tagtigs te noem.

Ek dink aan die idee dat digitale tegnologie ouer maniere van dinge doen vervang, verplaas, en uiteindelik tot die wêreld van museums verdoem.

Nou is ek nie heeltemal so seker nie. Dalk is die teendeel waar. Of dalk is die invloed van digitale tegnologie net so deurmekaar dat ’n mens geen stelling meer met ’n selfversekerde gemoed kan maak nie.

Video killed the radio star? Twee veertienjariges uit Johannesburg kan nou ’n hele wêreld van musiek leer ken, musiek wat amper ’n eeu gelede aan die ander kant van die wêreld opgeneem is, maar nou so naby aan hulle is soos ’n rekenaar of ’n selfoon met data.

Miles Davis klink nét reg, so in die donker, iewers op die pad tussen Hogsback en Alice.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.