Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
#Kouekoffiema: Alien-taal en gagga stokkielekkers

Boeta het besef hy kan alien-taal praat en Pops besluit sy wil ‘baba’ speel. Hier is die jongste aflewering van Carla Lang se #Kouekoffiema-rubriek.

Carla Lang Foto: Verskaf

“Italiaans?” Ek asem behaaglik die reuk in wat uit die koffiefilter dwarrel.

“Nope,” giggel Boeta.

“Mmm, Frans?”

“Ook nie.”

“Sê maar.” Ek houvas die warm beker met albei hande. Dit help om die ergste koue te verdryf.

“Alien-taal,” sê hy trots.

“Jy kan Alien-taal praat?”

“Ja. Ek het dit môre agtergekom.”

“Gister.”

“Ja, gister.”

“Dis interessant! Laat ek hoor.”

Boeta begin vreemde geluide maak. Iets soos “pieeeeee-pieeeeee”, sy gesig die ene konsentrasie.

“Sjoe, jy sal my ook moet leer.”

“Ek kan dit nie vir iemand leer nie. Net ek kan dit praat. En die Aliens.”

“O. Waaroor gesels julle?”

“Ek weet nie, ek verstaan mos nie die taal nie.”

“Jy kan dit praat, maar nie verstaan nie?”

“Ek sê mos.”

Ek kyk deur die venster, probeer ernstig lyk. “Goed, ek verstaan.”

Boeta knik tevrede.

“Kom ons gaan maak die verjaardagkaartjie voor Pops wakker word.”

Ek en Boeta maak ons tuis by die koffietafel tussen die penne en papier.

“Die partytjie is vanmiddag. Wat wil jy op die kaartjie teken?”

“ ’n Skelm.”

“ ’n Skelm? Vir ’n meisie?”

“Maar ék maak die kaartjie, so ek mag teken wat ek wil.” Boeta begin geesdriftig teken, terwyl ek my koffie drink en aan die dag se huistake dink.

Dan druk hy die papier in my gesig. “Hier is ’n rowwe skelm!”

Ek bekyk die blou prentjie. “Ek hou daarvan. Wat’s in sy hand?” beduie ek.

“Dis ’n laser gun! Mamma kan mos sien!”

“Natuurlik, ek sien nou.”

Ek plak die rowwe blou skelm met die laser gun op die helderpienk geskenkpapier vas.

‘Pieeeeeee-pieeeeeee’

Later vat ek die kinders en honde vir ’n stappie. Pops in haar stootwaentjie, BabaHond – wat al helfte van OuerHond se grootte is – aan die waentjie vasgemaak. Boeta stap. OuerHond loop los – as daar ’n ander hond verbykom, sal ek haar vinnig moet vasgryp.

Ons vorder stadig. Ek moet heeltyd vir BabaHond aanpraat omdat hy OuerHond se lip, pote en oor byt.

Boeta draf vooruit, tel elke groot klip waarop hy spring.

“Boeta, wag, nie te ver vooruit nie!”

Hy gaan staan en lek aan sy stokkielekker, wag tot ons opvang.

Ek loer of Pops nog oukei is met hare. Ek’s maar altyd versigtig vir stik.

Maar ek sien niks in haar hand nie.

“Waar’s jou stokkielekker?” vra ek terwyl ek vir BabaHond keer sodat hy nie die waentjie vorentoe trek nie.

Pops lig trots haar arm op.

Daar, vasgeplak aan haar trui, is haar stokkielekker. Sy trek dit af, vat ’n lek en plak dit dan weer onder haar arm vas. Ek gril.

Mammaaaaaaaaaa, dit beteken mos ‘ja’ in Alien-taal!

Ek wil nog iets sê, maar BabaHond ruk die stootwaentjie weer vorentoe. “Stadig!” probeer ek hom onder beheer bring. Ek moet drafstap om by te bly.

“Mamma, hoekom is die pad vandag so lank?” kla Boeta.

“Dis dieselfde pad as altyd.”

“Issie. Dis langer as môre. Duisend-honderd lank.”

“Ons is amper terug by die huis. Nog ’n klein entjie.”

Maar Boeta gaan sit net daar op die grond en weier om verder te beweeg.

“Wil jy saam met Pops in die stootwaentjie sit?”

“Pieeeeeee-pieeeeeee.”

“Wat?”

“Mammaaaaaaaaaa, dit beteken mos ‘ja’ in Alien-taal!” gefrustreerd dat ek dit nie weet nie.

Boeta het skaars agter Pops ingeskuif, toe sy sy hare begin trek, wat natuurlik ’n stryery afgee.

Ek probeer keer, maar moet dan hard vir OuerHond roep toe sy vir ’n vreemde hond mik.

Nadat OuerHond ook aan ’n leiband is, het ek haar in my linkerhand en die stootwaentjie met BabaHond, Boeta en Pops in die ander hand. Ek voel hoe die sweet op my voorkop uitslaan, afgesien van die koue.

“Ek gaan nie meer by haar sit nie!” kla Boeta verder. “Mamma moet my abba.”

“Wat? Is jy nou laf?”

“Asseblieeeeeef, Mamma! Ek is só moeg! Pieeeeee-pieeeeee!!”

‘Sy kan die alien-baba wees’

’n Ruk later – ná wat soos ure gevoel het – kom ek heeltemal pootuit by die huis aan. Ek tel vir Boeta af, maak die honde los en sak op die gras neer – maar spring vinnig weer op toe BabaHond my in die gesig begin lek.

“Uitklim!” roep Pops en ruk aan haar gordel.

“Wag net.” Ek draai my lyf alle kante toe, probeer my rug strek.

“Oukei,” sê Pops, sit gemaklik terug, lig haar arm, trek die stokkielekker vol wolletjies af en lek gulsig.

Ek vat ’n groot sluk water, asem dan drie keer diep in en uit. “Goed. Ek’s reg vir die res van die dag. Wat wil julle speel?”

“Baba speel!” sê Pops en laat val van opgewondenheid die stokkielekker – en BabaHond laat nie op hom wag nie . . . .

Pops begin te skree; ek probeer troos.

“Pieeee-pieeeeeeeee,” kom dit vanuit Boeta se rigting. “Ja, baba-baba! Sy kan die Alien-baba wees en ek die skelm met die laser gun!”

En ek wonder in die stilligheid hoe dié speletjie gaan werk . . .

*Lang is ’n ma, vrou, prokureur, redakteur en blogger. Volg haar #kouekoffiemarubrieke op Facebook, Instagram of op YouTube.

Meer oor:  Carla Lang  |  Ouerskap  |  #Kouekoffiema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.