Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
#Kouekoffiema: Die dood van die Tandemuis

Terwyl Pops met haar beauty spot spog, wil Boeta alles weet oor die Tandemuis. Carla Lang vertel.

Carla LangFoto: Me & May Photography

“Mamma, wi’ facetime,” kom Pops al pratend die kombuis binne.

“Facetime?” vra ek van waar ek staan en Boeta se witbroodkorsies afsny. As dit nie af is nie, sal hy nie daaraan raak nie. Ook nie as die brood nie wit is nie. En ook nie as daar enige vorm van botter op is nie . . .

“Ja, facetime met Ouma en Oupa,” sê Pops en ek sien hoe sy rondkyk vir die tablet.

“Ai, Pops, julle facetime so baie.”

“’Blief, Mamma! Nog net één kee’?” vra sy skewekop met een vinger in die lug. “Laaste kee’. Het 'geet Ouma my bietie-spot wys,” en Pops druk met haar vinger op haar pragtige vlekkie op haar gesig.

Ek lag. “Het jy vergeet om vir hulle jou beauty spot te wys?”

“Ja. Hulle noggie sienie.”

“Ek’s seker hulle het dit al gesien, jy’s immers gebore daarmee . . . Maar oukei dan.”

“Ja, ek boohe met bietie-spot. Só mooi! Ek p’inses.”

Ek ontkoppel die tablet en gee dit vir haar aan.

Sy gaan spring vrolik op die bank in die televisiekamer en weet presies waar op die skerm om te druk.

Kort voor lank hoor ek hoe sy van haar beauty spot vertel. Ouma-hulle wat natuurlik ’n groot hoe-ha oor dit maak, asof hulle dit vir die eerste keer raaksien.

Mamma het nie geweet nie. Pappa weet.

“Mamma, is my broodjie al reg?” kom Boeta ingehardloop.

“Nou net reg,” sê ek en oorhandig die plastiekbord met die vierkantbroodjies aan hom.

“Dankie,” en hy vat ’n hap. “Het Mamma geweet die son is groter as die maan?” vra hy so tussendeur die kouery deur.

“Mmmm, dis cool,” antwoord ek terwyl ek die broodkrummels van die toonbank afvee.

“En het Mamma geweet dat die son ’n hoepel om het?”

“Waar leer jy al hierdie goed?”

“In my feiteboeke.” Hy vat nog ’n happie.

Ek sit die ketel aan vir filterkoffie.

Ek’t gedink Mamma gaan nie weet nie. Ek sal vanaand vir Pappa vra.

“Die son ontplof heeltyd. Het Mamma geweet?”

“Dis interessant.”

“Mamma het nie geweet nie. Pappa weet.”

Ek hoor tussendeur hoe Pops nou “Hompie Kedompie” opsê, met ’n “plat soos ’n pannekoek” in plaas van ’n “pan”.

Ek roer my filterkoffie, leun teen die wasbak en neem ’n sluk.

“Ja, Pappa is slim.”

“Baie slimmer as Mamma, dink ek.” Hy vat sy laaste hap.

“As jy so sê,” rol ek my oë.

“Hoekom is lawa nie warmer as die son nie?”

“Ek’s nie seker nie. Dalk omdat die son die hele aarde moet warm hou?”

“Ek’t gedink Mamma gaan nie weet nie. Ek sal vanaand vir Pappa vra. Hy weet álles.” Boeta draai net om, toe hy weer terugdraai met ’n ernstige gesiggie: “Hoe weet die Tandemuis as my tand uitgeval het?”

“Uhm, ek weet nie. Sal moet oplees.” Sal ek nóú vir Boeta die waarheid van die Tandemuis se bestaan vertel, of nie?

“Hoe weet hy waar ons bly?”

Dalk nog ’n rukkie wag. Hy’s tog nog net vyf. “Jong, jy vra my vas. Ek sal uitvind vir ons.”

“Hoe kom hy in ons huis in?”

“Dis goeie vrae.”

“Hoe weet hy watter kamer is myne?”

“Sjoe, ek weet nie. Sal bietjie navorsing doen, oukei?”

“Aggg!” En met ’n onderlangse “Pappa sal weet”, loop hy kamer toe.

Is Mamma séker dit was nie die Tandemuis nie?

“Pops, jy moet klaarmaak!” roep ek en spoel my beker uit.

Pops kom ingehardloop. “Ma’ da’ ga’ my ogies huil!” sê sy. “Ek wi’ nog biekie. Nog net één kee’, annes my ogies huil,” wys sy een vinger in die lug.

Ek sug. “Pops, nog vyf minute, dan sit jy die tablet af.”

“Oukei, laaste kee’ ”, trippel sy tevrede terug bank toe. “Ouma weet ek p’inses?” hoor ek haar vra.

Dan kom Boeta deur die kombuis gehardloop tot in die televisiekamer en spring langs Pops op die bank. “Ouma! Het julle geweet Mamma weet nie baie nie?” hoor ek hom ernstig vra. Ek weet hy bedoel dit nie lelik nie, volgens hom is dit net feite wat hy deurgee.

“Pappa weet alles! Maar Mamma,” sê hy dramaties en rol sy oë, nes ek ’n rukkie tevore. “Sy weet báie min! Sy’t seker nie haar huiswerk gedoen toe sy miljoene jare terug in die skool was nie.”

Hy sien my in die deur staan.

“Mamma, Pappa het mos nou die dag ’n muis in daai valletjie gevang. Is Mamma séker dit was nie die Tandemuis nie? Want dan is sy nek nou gebreek en hy’s dood.” En voor ek nog iets kan sê, rammel hy in een asem af: “Of toema Pappa weet als – hy sal nie die Tandemuis vang nie want dan weet hy ek gaan nie geld kry as my tand uitval nie en ek spaar mos vir ’n regte-egte spaceship en as die Tandemuis nie die geld bring nie gaan Pappa dit vir my moet koop . . .”

• Lang is ’n ma, vrou, prokureur en redakteur. Volg haar op Facebook. Die menings van skrywers is hul eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  #Kouekoffiema  |  Ouerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.