Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
#Kouekoffiema: Die Flintstones se GPS

Boeta sê ’n landkaart lyk soos iets wat die Flintstones gebruik het. En dalk sal dit help vir sy “verdwaalde” ma, skryf Carla Lang.

Carla Lang Foto: Me & May Photography

Boeta is superopgewonde dié dag.

Oumagrootjie het ’n heupvervanging gehad en blykbaar is haar heup “vasgesement”. Hy dink dis die opwindendste ding ooit.

Ná ons vir Oumagrootjie in die hospitaal gaan kuier het (en Boeta presies al die besonderhede wou weet van hóé dit vassement word, terwyl Pops die hospitaalvloere skoon lek), kan ek uiteindelik huis se kant toe beweeg ná ’n lang dag.

Op pad blaai Boeta deur die Mandela-boek wat agter in die motor lê saam met ’n hoop ander boeke wat ek klaar gelees het en graag wil skenk.

“Dis een van ons vorige presidente voor op. Mandela.”

“Ek weet dit. Nelson Mandela. Maar hy’s nou dood.”

Ek wonder vlugtig op watse ouderdom kinders dan van politiek begin leer op skool.

Dis ’n landkaart. Maar ja, dis soos ’n GPS van die outyd.

Hy blaai om. “Kyk, Mamma!”

Ek loer vinnig om toe ons by die rooi lig stilhou.

’n Landkaart. “Ek sien, Seun. Dis ’n landkaart.”

“ ’n Wat?”

“Landkaart. ’n Kaart van Suid-Afrika. Dit dui die paaie aan. Rigting. Waarheen ons moet ry.”

“O. ’n GPS.”

“Dis ’n landkaart. Maar ja, dis soos ’n GPS van die outyd.”

“Toe ek nog nie in jou maag was nie?”

“Ja en selfs langer gelede.”

“Dit lyk nie of dit sal werk nie.”

Ek sien in die truspieëltjie hoe Boeta se frons net groter word.

“Wel, dis wat ons gebruik het voor daar so iets soos ’n GPS of Google Maps was. En ons het reggekom. So ek dink dit werk heel goed.”

“Dit lyk soos iets wat die Flintstones gebruik in daai storie.”

Ek lag kliphard.

“Maar hoe sit mens die adres in?”

“Jy soek dit op. Lees.”

Ek sien in die truspieëltjie hoe Boeta se frons net groter word.

Drie happe kerriehoender

Later die dag kry ek ’n boodskap van ’n vriendin. Hoe pragtig ek gelyk het op Bravo!.

Ag nee! Het werklik gehoop die kamera mis my.

Sy stuur ’n video aan, afgeneem vanaf die televisieskerm.

ATKV-Veertjies. (Ek was net daar om ’n skrywer saam met wie ek gewerk het te ondersteun).

Nes ek verwag het. Die kamera gaan vlugtig oor my – maar nie vlugtig genoeg dat jy kan mis hoe ek onvroulik staan en eet nie.

Die ironie is, ek het helfte van die aand geweier om te eet, júis vir ingeval die kamera my vang.

Na die einde van die aand toe kon ek dit nie meer hou nie, die eetgoed het so lekker gelyk.

En net toe ek drie groot, onvleiende happe kerriehoender vat, word ek afgeneem.

Seun, asseblief! Ek weet nie of ek kom of gaan nie!

Die res van die dag gaan mal tussen werk en kinders en huis en admin.

Die aand is ek pê.

Boeta torring heeltyd. Dan soek hy bloubessies. Dan ’n slaaibroodjie. Dan wil hy fietsry. Dan jeuk sy rug. Dan pyn sy been. Dan pla sy kuif hom. Dan wil hy ’n ander storie kyk.

“Seun, asseblief! Ek weet nie of ek kom of gaan nie!”

“Wat?”

“Ek sê, gee my kans om asem te skep, ek weet nie of ek kom of gaan nie!”

“Soos as mens verdwaal?”

“So iets, ja.”

Met ’n skeefgedraaide kop en ernstige gesig, sê hy: “O. Nou hoekom gebruik Mamma nie dan ’n landkaart nie? Mamma sê mos dit werk goed.”

• Lang is ’n ma, vrou, prokureur en redakteur. Volg haar op Facebook. Die menings van skrywers is hul eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Carla Lang  |  Ouerskap  |  #Kouekoffiema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.