Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
#Kouekoffiema: Die kwylende ninja

As jy ’n ninja op sy maag krap, loop daar slym by sy mond uit, het Carla Lang gehoor.

Carla Lang Foto: Me & May Photography

“Mamma kan maar kom koooooop!”

“Goed, ek kom,” antwoord ek en stap tot by Boeta se “winkel”.

Hy verkoop blykbaar lepels . . .

’n Lepelverkoper.

“Oukei, wat het jy vir my?” vra ek belangstellend terwyl ek na my kombuislepels kyk wat hy uitgestal het. Teelepels, eetlepels, soplepels, skeplepels, slaailepels . . .

“Die roomyslepel, seblief.”

Hy pak gretig die roomys-skeplepel vir my in ’n geskenksak. “Is dit al, Mevrou?”

“Ja, dankie, Meneer,” speel ek saam. “Hoeveel kos dit?”

Ek dink nie ek’t genoeg geld vir al die lepels nie, Meneer.

“Maar het Mevrou nie ook klein lepels nodig nie?”

“Nie regtig nie,” sê ek, wetende dat hoe vinniger ek die transaksie afhandel, hoe vinniger kan die speletjie tot ’n einde kom.

Maar: “Ek dink so. Hier is vyf,” sê hy en pak dit ook saam in die geskenksak.

“Goed dan . . .”

“En ek dink sommer twee groot lepels ook,” en dié word ook in die sak gesit.

“Ek dink nie ek’t genoeg geld vir al die lepels nie, Meneer.”

“Huh? Laat ek sien?” hou hy sy hand uit.

Ek oorhandig die speel-speel-geld.

“Dis oorgenoeg!” en hy pak sommer nóg lepels in.

Teen die tyd dat ek moet betaal, is daar seker 20 lepels in die sak.

Boeta hou weer sy hand uit vir my geld en begin dit te tel.

“Ag nee. Mevrou het te min geld.”

“Maar dis dan wat ek gesê het.”

“Mevrou het net honderd-en-sestig-en-dertig. Maar die lepels kos tweeduisend-en-een-en-agthonderd.” Hy begin lepels uit die sak haal en terugsit op sy uitstaltafel. En nog uit te pak . . . Totdat net die roomyslepel oorbly.

“Volgende keer moet Mevrou net kies waarvoor jy geld het,” betig die winkeleienaar my.

“Maar ek wou net die roomyslepel hê!” sê ek sommer regtig verontwaardig.

“Moenie teëpraat nie, Mevrou. Dis lelike maniere,” sê hy kwaai en wys met die vinger.

Hoekom lag Mamma?! Dis nie snaaks nie! My kussing was nat!

Later die middag wil Boeta “ninja-klasse” speel.

Ek sug. “Hoe speel ’n mens dit?”

“Mamma moet weet! Ek weet nie!”

“Uhm, oukei, wat van jy wys my jou cool ninja-bewegings? Leer my?”

“Jaaaaa!” sê Boeta opgewonde en begin rondspring en skop en slaan in die lug.

Skielik stop hy. “Mamma, ek wou jou nog iets vertel!”

“Ja? Vertel maar.” Ek verwag ’n ninja-verbeeldingstorie.

“Gisteraand toe Pappa my rug krap dat ek aan die slaap moet raak, toe draai ek om sonder dat hy sien. Toe krap hy my maag. En dit was so lekker, toe begin daar sommer slym by my mond uitloop!”

Ek bars uit van die lag.

Maar die ninja dink nie dis snaaks nie.

“Hoekom lag Mamma?! Dis nie snaaks nie! My kussing was nat! Hoekom loop daar dan partykeer slym by ninjas se mond uit?”

• Lang is ’n ma, vrou, prokureur en redakteur. Volg haar op Facebook. Die menings van skrywers is hul eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  #Kouekoffiema  |  Ouerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.