Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
#Kouekoffiema: Doen wat vir jóú werk

Basta met vriendinne van vriendinne wat vir jou preek oor borsvoeding, natuurlike geboorte en wat jou kind moet eet. Dis nie maklik om ’n ma te wees nie – doen wat vir jou werk, skryf Carla Lang.

Carla LangFoto: Willem van Zyl

’n Paar maande gelede is Pops op my heup terwyl ek die leë stootwaentjie in die nou winkelgang afstoot. Natuurlik wil sy nie daarin sit nie, het dit weer verniet saamgebring. Darem kan ek die swaar babasak daarin sit. (Skoon klere vir ingeval sy ’n glipsie het; nekdoekie vir wanneer sy eet; tandesalf; doeke; melk; water; wet wipes; ’n speelding; eetding; fopspeen; doeksakkie; warm top; doekruil-mat – die ellelange lys gaan aan. Vir myself – debietkaart, karsleutel en selfoon. Dis dit.)

Pops steek heeltyd haar handjie uit om aan alles te vat. So soos ons stap, stamp sy goed van die rakke af. Ek “skies, jammer” al outomaties vir wie ook al naby staan en tel op, probeer dan weer aanbeweeg. En dis nou ook nie asof die stootwaentjie dit makliker maak nie. Ek loop kort-kort in iets vas wat uitstaan en dan moet ek weer maneuver om óm dit te kom. Intussen hou ek heeltyd ’n oog op die babasak. Bang dit word gesteel.

Ek is nog nie halfpad nie toe Pops onrustig word.

Ek het duidelik die kosblik by die huis vergeet. Of het ek dit ooit vanoggend ingepak?

Iets om aan te kou. Dit sal help.

Ek sit Pops vinnig neer en begin soek na die kosblik. Ek loer na haar toe ek hoor hoe sy neul, praat met haar terwyl ek soek: “Mamma kry gou vir jou iets om te eet. Hou net aan. Toema-toema.”

Ek ruk goed uit en gooi dit alles los onderin die waentjie. Pops se stem word harder. Ek begin, sonder om te dink, so gewoond daaraan, “Eendjie, eendjie stap in ’n ry” sing. Die groot oomblik kom en ek kwaak soos ’n eend. Pops lag kliphard. Dankie tog.

Die hele sak is nou al uitgegooi. Ek het duidelik die kosblik by die huis vergeet. Of het ek dit ooit vanoggend ingepak?

‘Borsvoed jy dan nie?’

Dan sien ek ’n halwe beskuitjie onderin die sak – seker laas week s’n. Verligting! Ek gryp dit en draai om om dit vir Pops te gee. Sien sy gag ’n bietjie. Druk my vinger in haar keel – haal ’n klein haarrekkie uit. Pak die res terug in die botteltjie wat ek geen idee het hoe sy oopgekry het nie, sit dit terug op die rak.

Sy is tevrede met die week oue halwe beskuitjie. Ek sal moet vinnig maak. Dit gaan nie lank hou nie.

By die formulemelk-afdeling hoor ek ’n vaagweg bekende stem.

Sy groet my, baba in ’n sling voor op haar bors – vas aan die slaap. (Weet nie hoe ander ma’s dit regkry nie. Pops wil kan beweeg.)

Sjoe! Ek haal my hoed af vir jou! Myne is amper ’n jaar en sy het nog nóóit-óóit suiker geproe nie. Ek doen nog nie so goed met dit nie.

’n Vriendin van ’n vriendin. Al by kinderpartytjies raakgeloop.

Sy groet, vra hoe dit gaan. (Asof ek haar daar en dan gaan verveel met my kwellinge, so natuurlik sê ek net “goed”.)

Dan kyk sy betekenisvol na die beskuitjie in Pops se hand.

“Is dit ’n kóékie?” Grootoë.

“Tennisbeskuitjie, ja.”

“Hoe oud is sy nou weer?”

“Tien maande.” Dan, om myself beter te laat lyk, want ek weet wat kom: “En ’n half. Tien en ’n half maande.”

“Sjoe!” gemaak vriendelik. “Ek haal my hoed af vir jou! Myne is amper ’n jaar en sy het nog nóóit-óóit suiker geproe nie. Ek doen nog nie so goed met dit nie.” Laggie. “Jy doen fantasties!”

Ek forseer ’n glimlag. “Elk geval, ek het net gou kom formule kry, moet wikkel.”

“Formule? Borsvoed jy dan nie?”

Hoekom voel ek ek moet verduidelik? “Ek het vir nege maande geborsvoed, toe speen sy haarself. Nou doen ek maar die formule-ding.”

“En jy’s so rustig daaroor? Ek gaan beslis tot ten minste een jaar borsvoed. Hulle sê mos dis maar die beste.”

Groot glimlag. “Maar moenie jou bekommer nie, ek’s seker sy sal niks oorkom nie!”

Ek salueer elke ma

Die aand sit en kyk ek hoe Pops eet. Broccoli, blomkool, murgpampoentjies . . . En ek is vies vir myself omdat VriendinSeVriendin dit reggekry het om my te ontstel.

Normaal kraam vs keisersnit; borsvoed vs formulemelk; sleep training vs nie sleep training; co-sleeping vs nie co-sleeping; suiker op een jaar (wat terloops 12 maande is en dus net een en ’n halwe maand later is as tien en ’n half maande) vs suiker op tien maande . . . Wat maak dit saak? Elkeen moet tog doen wat vir haar en haar kind die beste werk. Solank jou kind gelief voel, veilig en gevoed is en almal darem ’n mate van slaap inkry – wat is dan die probleem?

Ek salueer elke ma daarbuite – of jou kind nou al van geboorte af in haar eie kamer slaap of nog op drie tussen jou en jou man, of jy nou skorsie in jou kind se keel afdwing of haar ’n koekie gee waaraan sy gretig peusel – welgedaan! Dis nie maklik om ’n ma te wees nie. Doen wat vir jóú werk.

* Lang is ’n ma, vrou, prokureur, redakteur en blogger. Volg haar #kouekoffiema-rubrieke op Facebook, Instagram of op YouTube

Meer oor:  Carla Lang  |  Borsvoed  |  Suiker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.