Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
#Kouekoffiema: Fetus-fiasko’s

Sy blok gereeld toepassings en stories wat sy voel onvanpas vir haar seuntjie se ouderdom is, maar dan spring daar maar net weer iets anders op – s oos die toepassing oor fetusse, skryf Carla Lang.

Carla Lang Foto: Me & May Photography

“Mamma! Wat’s dit in mens se maag?” Boeta druk opgewonde die selfoon teen my oë terwyl ek in die bad lê. (Die idee was natuurlik dat ek alleen bad . . . maar asof dit nou al in die afgelope 5 jaar gebeur het.)

“Hou dit ’n bietjie verder weg, dis te naby aan my oë.”

Boeta beweeg die selfoon effens weg en ek kyk.

En sien ’n fetus . . .

“Boeta! Wat is dit?”

“Nee, Mammaaaa! Dis ’n nuwe app wat ek gedownload het! Sê my nou wat’s dit?”

“Dis hoe ’n baba lyk wanneer dit begin vorm in ’n mamma se maag. Maar hoekom het jy hierdie afgelaai?”

“Dis ’n cool speletjie! Kyk! Die baba groei!”

Ek kyk na die toepassing vir swanger mammas – om die vordering van hulle baba se groei weekliks te volg. Ek ken sulke toepassings goed, het dit self gebruik gedurende my swangerskappe.

“Kom ons laai eerder iets anders af, toe? Ek dink hierdie is meer vir mammas, nie vir kinders nie.”

Orraait dan. Kyk dan maar hoe die baba groei. Dis eintlik baie interessant. Sê maar as jy vrae het.

“Maar Mamma! Ek LOVE dit! Mens druk hier en hier en dan groei die baba. Kyk!” Hy wys opgewonde na die skerm – die fetus seker nou ’n week ouer as netnou.

Ek gaan regtig moet ondersoek instel hoe ek ’n wagwoord of iets kan insit sodat hy nie so enigiets kan aflaai nie. Ek blok gereeld toepassings en stories wat ek voel onvanpas vir sy ouderdom is, maar dan spring daar maar net weer iets anders op.

“Orraait dan. Kyk dan maar hoe die baba groei. Dis eintlik baie interessant. Sê maar as jy vrae het.”

Ek wil net weer terugsak in die warm water, toe Pops ingebars kom en sommer begin uittrek met: “Ôk bad! Ôk bad!”

“Oukei, wag, Pops, laat ek dan net gou eers uitklim.”

“Nee! Saam Mamma bad!”

Ek sug, hang oor die bad se rand en help haar uittrek; tel haar in die bad saam met my.

Daar gaan my rustige bad waarna ek so smag. Pops lê uitgestrek in die bad; ek sit bene opgetrek in die een hoek. Die bad is nie gemaak vir twee mense nie.

Nadat ek en Pops uit die bad en aangetrek is, help sy my kos voorberei vir ons vriende wat kom vir aandete. Eintlik druk sy net haar vingers oral in en lek dit af en druk dit dan weer in, maar dis oukei. Dit hou haar darem besig.

Ek is die fetus. Mamma die dokter. En Pops . . . sy kan kyk hoe speel ons.

“Mamma, ek wil iets speel,” sê Boeta toe hy die kombuis inkom, darem nou sonder ’n selfoon in die hand.

“Nou speel dan iets. Laat Pops saamspeel.”

“Nee, Mamma moet saamspeel.”

“Maar ek kry gou alles reg. Die mense kom kuier mos.”

“Asseblieeeeeeeeeeeeeeeef!”

“Oukei dan, maar net 10 minute.”

Hy glimlag tevrede terwyl ek my hande aan die vadoek afvee en vir Pops van die toonbank af tel.

“Fetus-fetus.”

“Huh?”

“Ek is die fetus. Mamma die dokter. En Pops . . . sy kan kyk hoe speel ons.”

“Maar hoe speel mens dit, Boeta?”

“Ek weet nie. Mamma moet sê.”

Ek dink ’n bietjie en stel dan voor dat Boeta ’n beertjie onder sy hemp indruk – natuurlik die (hopeloos te groot) fetus – en dan sal die dokter (ek) sy magie ondersoek en kyk of die fetus orraait is.

'Ek wil die fetus-app speel,' sê hy te hard na my sin en ek kyk vinnig of iemand gehoor het. Lyk darem nie so nie.

Ons vriende arriveer betyds en ons almal kuier sommer lekker saam. Braai, lag en gesels terwyl die kinders nog kan buite speel, want dit is so ’n mooi aand. (Pops is darem warm aangetrek ná haar bad vroeër saam met my.)

Ek is net besig om die nagereg neer te sit – al die volwassenes om die tafel – toe Boeta ingehardloop kom.

“Mamma!”

“Mmm?” vra ek terwyl ek die bakkies en lepels tel, en Manlief en Vriende nog lekker gesels en glasies klink.

“Ek wil die fetus-app speel,” sê hy te hard na my sin en ek kyk vinnig of iemand gehoor het. Lyk darem nie so nie.

“Sjjj, Boeta, nie so hard nie. Dis nie nou skermtyd nie. Ons kan môre weer bietjie daarna kyk.”

“NEEEE, Mamma! Ek wil nou!” En dan gooi hy homself op die grond neer en kap ritmies met sy vuisie op die grond, terwyl hy lostrek met ’n harde dreunsang: “Fetus! Fetus! Fetus! Fetus!”

Almal om die tafel hou op praat en kyk na ons.

“Wat sê hy?” vra Vriendin.

“Uhm, hy wil na die groei van ’n fetus op die selfoon kyk . . . ”

Ek en Vriendin kyk vir ’n oomblik net na mekaar – en dan bars almal uit van die lag . . . oftewel almal behalwe Boeta, natuurlik.

* Lang is ’n ma, vrou, prokureur, redakteur en blogger. Volg haar #kouekoffiemarubrieke op Facebook, Instagram of op YouTube.

* Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Carla Lang  |  Ouerskap  |  #Kouekoffiema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.