Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
#Kouekoffiema: Hoor hoe lui die worsieklok, ding, dong, del ...

Wat is die verskil tussen honger en lus? Honger is as wanneer haar kinders kos wil hê en lus is wanneer hulle ’n lekkertjie soek, skryf Carla Lang.

Carla Lang Foto: Me & May Photography

“Mamma, kan ek seblief ’n lekkertjie kry?”

Pops kom ingehardloop en na-aap Boeta: “Mamma, ka’ ek ‘blief lekke’kie k’y?” Sy hou haar handjies bak.

“Maar julle het nog nie eens julle middagete geëet nie. Gaan eet eers julle kos,” beduie ek na hul borde toe.

“Maar Mammmmaaaaaaa!”

“Boeta, ek gaan nie weer praat nie. Niks lekkers voor jul kos op is nie.”

“Maar ek is nie HONGER nie, ek is LUS!”

“Ja, ek LUS!” beaam Pops. “Nie honge’ nie, ek lus!” Handjies steeds bak.

“Waar kom julle daaraan?”

“Honger is as ons wil kos hê en lus is wanneer ons ’n lekkertjie soek,” verduidelik Boeta ernstig.

“Maar dan is julle altyd lus,” sê ek hande op die heupe.

“Ja, ek is altyd lus. Maar ek’s nie altyd honger nie,” stem Boeta saam en sien duidelik geen probleem daarmee nie, blyk net bly te wees dat sy ma nou uiteindelik verstaan.

“Ek gaan nie met julle redeneer nie. Gaan eet jul kos, dan kan ons praat oor ’n lekkertjie.”

“Agggg!” Hangskouers loop Boeta met harde treë na sy bord toe, plak homself neer en begin dikbek te knaag aan sy kos.

“Agggg!” sê Pops ook en storm, nes haar sibbe, tot by haar bord.

Vader Jakob, Vader Jakob, slaap jy nog? Slaap jy nog? Hoor hoe lui die worsieklok, hoor hoe lui die worsieklok, ding dong del!

Later die dag hoor ek Pops “Vader Jakob” neurie.

“Vader Jakob, Vader Jakob, slaap jy nog? Slaap jy nog?” begin ek vir haar te sing. “Hoor hoe lui die—”

“Worsie!” kom Boeta ingestorm.

“Huh?”

“Worsie! Hoor hoe lui die worsieklok, hoor hoe lui die worsieklok, ding, dong, del, ding, dong del!” en hy begin uit sy maag uit te lag.

“Ja! Wo’sie-k’ok!” lag Pops ook nou.

“Vader Jakob, Vader Jakob, slaap jy nog? Slaap jy nog? Hoor hoe lui die worsieklok, hoor hoe lui die worsieklok, ding dong del! Ding dong del!” sing Boeta uit volle bors terwyl hy op die bed spring, met Pops wat ook saamspring en probeer byhou by die singery. Duidelik vind hulle hulself baie snaaks.

“Oukei, kom ons sing iets anders. Wat van ‘Handjies klap’?”

“Ja! Ja! Handjies klap!” stem Pops gretig in en begin al hande klap.

“Handjies klap—” val ek net weg, toe Boeta my weer onderbreek.

“Worsie bak! Bring die meel, nie te veel, klits die worsies gou-gou . . . ”

En weer lê die twee soos hulle lag.

Jy bedoel seker wat doen júlle twéétjies – jy en Boeta?

“Julle tweetjies is regtig laf!” lag ek saam.

“Wat doe’ julle twietjies?” vra Pops.

“Hoe sê jy?”

“Wat doe’ julle twietjies?”

“Jy bedoel seker wat doen júlle twéétjies – jy en Boeta?”

“Ja! Wat doe’ julle twéétjies?” vra sy weer.

“Julle maak grappies, lyk dit my.”

“Ja, ma’k g’appies. Boeta!” draai sy na hom toe. “O’s ma’k g’appies!” Dan spring sy van haar bed af en vat haar lipbalm vanaf haar tafeltjie. Sy druk twee vingers diep in die potjie en smeer dit dan op haar lippe – of eintlik op die hele onderhelfte van haar gesig.

“Mag ek ook kry, seblief, Pops?” vra ek en hou my hand uit.

“Oukei, Mamma, ma’ net KLEIN bietjie, dit BAIE duu’!” sê Pops ernstig met ’n blink gesig en oorhandig die potjie aan my.

“Ja, Worsie-Mamma, haar lip ice is duur!” hoor ek Boeta agter my giggel . . .

• Lang is ’n ma, vrou, prokureur en redakteur. Volg haar op Facebook. Die menings van skrywers is hul eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Carla Lang  |  Ouerskap  |  #Kouekoffiema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.