Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
#Kouekoffiema: ‘Mamma, chill!’

Boeta dink sy ma werk nie en die werklose man by die hek eet nie grondboontjiebotter of Marmite of toebroodjieham nie. Carla Lang skryf oor die keer toe Boeta vir haar gesê het: ‘Almal eet nie alles nie’.

Carla Lang

“Hallo, ja?” groet ek haastig oor die hekmonitor. Boeta dadelik huppelend by om te hoor wie dit is.

Ek was besig om te werk toe die klokkie lui. Het nie baie tyd nie. “Hallo?”

Dis die ding van van die huis af werk. Altyd, maar altyd, dinge wat jou aandag aftrek. Tuinman, huiswerker, kinders, koerier, huistake, diere, deurklokkie . . .

“Mevrou?”

“Ja?”

Boeta trek aan my en vra kort-kort: “Wie is dit?”

“Ai, Mevrou, ek ko’ va’ ver en heti trein gemis . . .”

“Asseblief. Ek’s haastig. Hoe kan ek help?”

“Net ’n broodjie of geldjie of soe?”

“Ek’t nie kontant by my nie, maar sal kos bring.”

“Oukei.” Klink meer teleurgesteld oor die geld as bly oor die kos.

Dis iemand wat hulp nodig het.

“Wie is dit, Mamma?” Bonsend om my.

“Gaan speel maar weer. Dis iemand wat hulp nodig het.”

“Watse hulp?”

“Kos. Ek gaan vir hom kos vat.”

‘Mamma werk nie’

Ek pluk ’n plastieksak uit die kas en begin kos inpak. Blikkieskos, ’n brood, vrugte. Slaan ook ’n toebroodjie aanmekaar – witbrood met margarine en grondboontjiebotter. Dan maak ek soet tee in ’n wegneem-koffiebeker (wat ek altyd in die huis het vir ingeval ek laat is in die oggend en my koffie in die kar moet drink).

“Hoekom het hy nie sy eie kos nie?”

“Seun, ek het mos al verduidelik. Party mense het nie genoeg geld vir kos nie. Dis baie hartseer. So dan help ons hulle.”

“Nou hoekom het hulle nie genoeg geld nie?”

Sluit die voordeur oop.

“Want hulle het nie werk nie.”

Uit by die sekuriteitshek.

My lief, daar is nie genoeg werk vir almal in ons land nie. Hartseer, maar waar.

Boeta trippel agterna, frons op die voorkop. “Hoekom het hulle nie werk nie?”

Af met die trappe.

“My lief, daar is nie genoeg werk vir almal in ons land nie. Hartseer, maar waar. As jy nie werk nie, het jy nie geld nie, dan kan jy nie kos koop nie.”

“Maar Mamma werk nie.”

Af met die tweede stel trappe.

Boeta vertel vir almal by die skool ook dat sy mamma nog nooit gewerk het nie. Want as mens van die huis af werk, werk mens mos nie . . .

‘Almal eet nie alles nie’

Ek besluit om sy aanmerking te ignoreer.

Tot by die groot ysterhek (met lemmetjiesdraad oortrek – ons bly immers in Suid-Afrika). Maar al dié sekuriteitsgoed mors tyd.

“Hierso, Meneer.” Ek oorhandig die sak en broodjie. Boeta loer om my been. “Hoop jy kom reg.” Wil net omdraai, toe hy praat.

“Nieeee, man.”

“Ekskuus?” Ek sien hoe hy die snye van mekaar af trek.

“Mevrou, ek iet nie eens peanut butter nie.”

Ek bedwing myself. Boeta is immers by.

“Maar die tie smaak lekka, da’kie.” Ek kyk hoe hy hard slurp aan die tee.

“Goed . . . Ek’s nou terug.”

Hy druk die broodjie deur die hek terug na my kant toe.

“Uhm, nee dankie. Hou jy maar. Gee maar vir iemand anders. Kom, Boeta!”

Boeta, chill. Hy hou nie daarvan nie, oukei? Almal eet nie alles nie.

Terug op met twee stelle trappe, sekuriteitshek, voordeur.

“Mamma, hoekom eet hy nie peanut butter nie?”

Ek krap in my koskas rond vir iets anders.

“Want hy hou nie daarvan nie.”

“Hoekom nie? Hy MOET dit eet.” Sommer opstandig.

Dis nou ’n gulde geleentheid om ’n goeie voorbeeld vir Boeta te stel, besluit ek.

“Boeta, chill. Hy hou nie daarvan nie, oukei? Almal eet nie alles nie.” Ironies genoeg, is Boeta eintlik die perfekte voorbeeld hiervan. Hy eet net baie spesifieke goed. So hy behoort te verstaan.

Weer uit by die deur, hek en trappe, tot by die groot hek.

“Hierso. Marmite.”

Hy vat dit nie eens aan deur die hek nie.

“Ai, Mevrou, is nou jammer, maar iet ôki dai nie.”

Moet myself inhou voor Boeta.

“Nou wat eet jy?”

“Ham, kaas . . . sukke goed.”

As Boeta nie by was nie . . .

“Kom, Boeta.”

Vir die derde keer by die hek gekom, hou ek die toebroodjie na hom toe uit.

Terug in huis toe. Al 20 minute van my werktyd gemors.

Gryp nuwe brood, sit margarine, twee snye ham en klomp kaas op. Hy beter nou tevrede wees.

“Mamma, ek hou ook nie van Marmite nie.”

Vir die derde keer by die hek gekom, hou ek die toebroodjie na hom toe uit.

“Oe, baie, baie dankie, M’vrou. God seën u.”

Halfpad op by die eerste stel trappe, toe hoor ek hom.

“Ai, Mevrou! Nou soe jamme, ma’ ek ietie sandwich ham nie! Mevrou nie anne ham nie?”

En toe verloor ek dit.

Skree sommer van die trappe af.

“WAT?! Luister hier, jy eet daai of jy kry niks!” beduie ek woes met die vinger. “En moet my nooit weer kom pla nie!” Ek bewe sommer en swaai om, gryp Boeta in die hand en trek hom by die volgende trappe op. Probeer die sekuriteitshek met geweld oopstoot, maar natuurlik haak die ou ding vas. Ek skop hom omtrent oop.

Net toe trek Boeta sy hand uit my hand uit – en sê rustig: “Mamma, chill! Almal eet nie alles nie . . .”

* Lang is ’n ma, vrou, prokureur, redakteur en blogger. *Volg haar #kouekoffiemarubrieke op Facebook, Instagram of op YouTube. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Carla Lang  |  Ouerskap  |  Kos  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.