Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
#Kouekoffiema: ’n Copycat-aand van bad tot bed

Badtyd is geen gewone avontuur nie, skryf Carla Lang. Dit kan iemand soos Pops selfs (gelukkig net tydelik) blind maak.

Carla Lang Foto: Me & May Photography

“Pops, dis badtyd, ek gaan nie weer praat nie.”

“Nee, MAMMA! Jy’s ’n KOPPIE!” skree Pops, olifant-beer onder die arm, stamp haar voet op die grond en wys kwaai met haar vinger na my.

“Dis nie “koppie” nie, dis “copy” – eintlik “copycat”. En weet jy ooit wat dit beteken?” Pops het ’n nuwe woord gehoor (seker by Boeta, want sy na-aap alles wat hy doen) en nou is almal en alles ’n “copy”.

“JA! Jy IS ’n koppie!”

“Orraait, ek’s ’n copycat. Gaan klim nou net in die bad, seblief.”

Dikmond en met oordrewe treë stap sy badkamer toe en gooi die olifant op die grond neer. Begin dan hardhandig haar skoene en sokkies uittrek.

’n Rukkie later speel Pops in die bad terwyl sy “Vade’ Jakob” sing: “Vade’ Jakob, Vade’ Jakob, slaap jy nog? Slaap jy nog? Hoo’ hoe lui die wo’sieklok, hoo’ hoe lui die wo’sieklok – ding, dong, del . . . ding, dong, WO’SIE!”

“Jy sing mooi, Pops. Ek hou van jou Vader Jakob-worsieliedjie,” glimlag ek.

“Ek WEET! Moenie my sê nie!”

“O skuus . . ., ” vra ek om verskoning dat ek haar gekomplimenteer het.

Boeta kraai van die lag en ek kan nie help om saam te giggel nie.

Boeta kom ingehardloop met ’n: “Wat DOEN julle?”

“Nee, BOETA! Jy’s ’n KOPPIE!”

Boeta kraai van die lag en ek kan nie help om saam te giggel nie.

Pops word rooi in die gesig, so vererg sy haar. “HOU OP! Moenie my lagGIE!”

“Skies, Pops, maar jy’s oulik.”

Sy frons en trek haar oë op skrefies, duidelik steeds ongelukkig.

“Boeta, bad gou saam,” beduie ek.

“Ag nee, wat van varkie-aand?” draai hy sy kop skeef.

“Nee jong, ons kan die naweek weer varkie-aand hê. Môre is skool, kom ons bad maar.”

“Maar ek’s nie vuil nie,” probeer hy.

Ek trek hom nader. “Laat ek ruik.” Snuif-snuif. “Eeeeuw, jy stink! Jy moet bad!”

“JA!” las Pops by vanuit die bad: “Jy huik soos vis en sokkies!”

“Vis en sokkies?” kyk ek vraend na Pops.

Sy knik.

Ek en Boeta kyk vir mekaar en bars dan uit van die lag.

Jy’s nie blind nie, dis net water.

“Moenie laggie! Julle’s KOPPIES!” klap Pops met haar hand sodat die water spat. Sodoende beland ’n druppel of twee in haar oë.

“My oë! HELP!” gil sy en vryf wild haar oë.

“Ontspan, ek kry gou ’n handdoek,” en ek draai om en gryp die naaste handdoek: Boeta se groene.

“HELP! Ek b’ind!”

“Jy’s nie blind nie, dis net water,” sê ek terwyl ek haar oë uitvee met die handdoek.

Maar toe maak sy haar een oog oop en sien dis Boeta se handdoek. “NEEEE! Nie daai handdoek nie! Pienke!”

“Dit maak mos nie saak nie, man, kom ek vee gou jou ander oog ook uit.”

Maar sy weier, so ek kry maar haar pienk eenhoringhanddoek.

Boeta vind die hele petalje baie snaaks en lag kliphard. “En jy ruik na . . . POEFIE!” wys hy na haar. “ ’n Blinde poefie!” Hy lê omtrent soos hy lag vir sy eie grappie.

“Oukei, genoeg nou, julle twee. In die bad, Boeta.”

Ek is lief vir julle tot by die maan en Neptunus en terug!

Toe Boeta in is, kom Pops op met ’n idee: “Boeta, kom ons speel ons is spyshokkets.”

“Huh?” Boeta (en ek) verstaan nie lekker nie.

“Spyshokkets!” herhaal sy gefrustreerd.

“Spyshokkets?” En dan snap ek: “O! Space rockets?”

“JAA! Ek sê so!”

Later, nadat ek vir Pops en Boeta boek gelees het, sê ek dis nou slaaptyd en vra: “Hoe lief is ek vir julle?”

“Tot by die maan en tehug!” roep Pops.

“En vir my tot by Neptunus en terug!” sê Boeta opgewonde.

“Dis reg. Ek is lief vir julle tot by die maan en Neptunus en terug! En hoe lief is julle vir my?”

“Tot by die stêhe en tehug!”

“Tot by die sterre en terug? Ah, dankie, Pops!” En Boeta knik ook.

En dan hoor ek dit begin reën – nie te hard nie, net egalige, sagte druppels. “Luister, julle, dit reën!”

“Maar dit reën nie eens so erg nie, net bietjie,” sê Boeta en klink teleurgesteld dat dit nie ’n groot donderstorm is nie.

“Ja, dit heen ve’sigtig,” sê Pops en luister grootoë.

“Oukei, genoeg gesels, slaaptyd nou. Boeta, gaan klim solank in jou eie bed, ek kom nou.”

Natuurlik moet jy regtig slaap, dis slaaptyd.

Toe dit net ek en Pops oor is in haar bed, trek ek die duvet snoesig tot onder haar ken (en maak seker Olifant is ook toe) en vat dan haar handjie. “Maak toe jou ogies. Slaaptyd.”

“O my WORD!” sug sy hard.

“Wat sê jy?”

“O my word, moet ek hegtig slaap?”

“Natuurlik moet jy regtig slaap, dis slaaptyd.”

“Ma’ ek nou bietjie ha’tsee’,” snik sy en draai op haar sy.

“Ek verstaan, maar weet jy wat, môre is nog ’n dag en dan speel ons weer lekker, oukei?”

“Ma’ my ogies gaan huil . . . my b’inde ogies huil . . . ” Dramaties.

“Kom hier,” en ek buk oor om haar ’n drukkie te gee. “Night, Pops, love you.”

“Oukei dan!” sug sy kamtig dan. “Night, koppie. Love you.”

• Lang is ’n ma, vrou, prokureur en redakteur. Volg haar op Facebook. Die menings van skrywers is hul eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Carla Lang  |  Ouerskap  |  #Kouekoffiema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.