Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Grondboontjiebotter- en vloermoer-oggend

Om ’n warm koppie koffie gedrink te kry as jy kinders het, is nie altyd moontlik nie, het Carla Lang (weer) agtergekom.

Carla LangFoto: Willem van Zyl

“Mamma! Mamma, kom!” sê (of eintlik skreeu) Pops en gryp my aan die hand. Ek los my koffie op die toonbank – altyd bang dat sy op ’n manier kan brand – en besef dit gaan die derde koppie koffie wees wat sal koud word voordat ek dit kan drink.

Niks slegter as koue koffie nie . . .

“Kyk!” Sy vryf haar grondboontjiebotter-besmeerde vinger oor die rusbank en kyk na my met dáái oë. Sy weet só goed sy mag dit nie doen nie, maar toets my.

Dit doen sy deesdae gereeld. Hopeloos te veel na my sin. Verklaar dramaties sy is “DOESH!” (dors), net om een slukkie te vat en dan die res op die vloer uit te gooi. Trek Boeta se hare, knyp en byt hom. Gryp die afstandbeheerder van die TV uit sy hand en hardloop weg so vinnig as wat haar bababeentjies haar toelaat – vas oortuig dat sy vinniger as hy is. Boeta, wat histeries huil, hardloop agterna en duik haar plat.

Of wanneer sy nie haar sin kry nie en ’n vloermoer gooi – val sy in stadige aksie op die vloer neer en skop, slaan en gil. As ek dit ignoreer en wegloop, hou sy op met huil en skree, hardloop agterna en gooi haarself dan weer dáár neer (slim genoeg om haar kop versigtig neer te sit sodat sy nie seerkry nie) – en dan begin die vloermoer van voor af.

“Pops, hoekom het jy dit nou gedoen?” vra ek heel rustig, nie lus vir baklei nie.

Ooglopend teleurgesteld met my flou reaksie, doen sy dit weer – dié keer sommer met die hele palm oor die bank.

Toe sy sien ek kom nader met ’n lappie om haar hande af te vee, laat waai sy. Ek vang haar en stoei om haar hande afgevee te kry.

Ek sit haar in die speelkamer neer en vat ’n slukkie van my koffie . . .

Koud. Of lou. Ewe erg. My koffie moet wárm wees.

Nadat ek die mikrogolf weer moes aansit, het ek uiteindelik koffie. Alhoewel warm gemaak in die mikrogolf, is dit beter as niks.

Net toe ek die koppie in die mikrogolf sit, kom Pops weer ingehardloop.

“Peppa Piek! Peppa Piek! Peppa Pieeeeeeeeek!”

Ek ignoreer die mikrogolf se “tieeet-tieeet” wat aankondig dat my (nou tweedehandse) koffie warm is, en gaan sit vir haar Peppa Pig op die televisie aan.

Nadat ek die mikrogolf weer moes aansit, het ek uiteindelik koffie. Alhoewel warm gemaak in die mikrogolf, is dit beter as niks. Ek kan nie nóg ’n koue koppie in die drein afgooi nie.

Ek het net voor my skootrekenaar gaan sit, toe Pops weer instorm. “Tensie! Tensie!”

Ek staan haastig op, gaan slaan die advertensie oor. YouTube en al sy advertensies irriteer my geweldig!

Skaars my tweede e-pos beantwoord, of ek hoor Pops weer aankom. “Mamma, honger!” En met dié klim sy op die stoel en toe op die tafel en begin met al twee hande die knoppies van my rekenaar slaan. “Sien! Sien!”

“Nee, ek werk! Daar’s niks om te sien nie! Moenie dit doen nie! Los! LOS!” Ek tel my skreeuende 19 maande oue dogtertjie van die tafel af. Sy gooi haar onmiddellik op die vloer neer – reg vir die volgende vloermoer.

“Honger? Jy nog honger?”

Sy sluk haar trane net daar en spring op. “Kom!” beduie sy kombuis toe. “Honger!”

“Wat van ’n broodjie?”

“Niee!”

Sy klap die yskasdeur toe, beduie na die broodrak.

Sy pluk die yskas oop met “optel!”.

In my arms kan sy goed sien wat alles in die yskas is.

“Daai!”

“Komkommer?”

“Niee! Daai! Daai!”

“Aarbeie?”

Skud haar kop heftig.

“Bessies?”

“Niee!”

“Nou wat dan, Pops?”

Sy klap die yskasdeur toe, beduie na die broodrak. “Bootjie!”

“Broodjie?”

“Ja.”

“Asseblief, Mamma,” probeer ek haar darem effense maniere leer.

“ ’Blief, Mamma.”

Die trane begin stroom, die bekkie op sy grootste oop (goeie geleentheid vir my om gou te tel hoeveel tande sy al het).

Toe ek die broodjie vir haar aangee, bekyk sy dit aandagtig, vat een hap en gooi dit op die grond.

“Ag nee! Pops! Dis nou genoeg. Nou kry jy niks nie!”

O wee . . . Haar hart is gebreek! Die trane begin stroom, die bekkie op sy grootste oop (goeie geleentheid vir my om gou te tel hoeveel tande sy al het). Sy lig haar armpies op na my toe.

Ek tel haar op. Sy gooi haar arms om my nek en druk haar kop teen my vas. Snik asof ek haar gunsteling-“bersie” weggevat het.

Ek troos – en dink aan al die werk wat ek gedoen moet kry.

En dan word ek bewus van haar hartklop.

Teen myne.

Saam met haar snikke doof alles anders vir my uit – tot ek net die “doef-doef” van haar hartjie kan hoor.

En mý hart smelt.

Pops.

My liewe, lawwe, hardekwas, sterk wil, energieke, maar eintlik klein hartjie – dogtertjie.

Hoe lief het ek haar nie.

* Lang is ’n ma, vrou, prokureur, redakteur en blogger. Volg haar #kouekoffiemarubrieke op Facebook, Instagram of op YouTube.

* Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Carla Lang  |  Ouerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.