Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
#Kouekoffiema: ‘Skies, julle, ek’t nou windjie los’

Los tande – een wat régtig los was en een wat eintlik nog stewig gewortel is – het onlangs saam met ’n stofgeveg vir ’n gedenkwaardige dag gesorg, skryf Carla Lang.

Carla Lang Foto: Me & May Photography

“Wi’ jy ook tee hê, Staaa’?” vra Pops die Build-A-Bear-beer in sy Star Wars-uitrusting in ’n hoë stemmetjie. (Boeta het destyds dié beer en uitrusting gekies en hom “Star” gedoop.)

“Kat, jy oukei?” draai sy na haar pienk Kat toe. “Jy orraait?” Sy haal Kat van die tafel af en gee haar ’n stywe drukkie, sit haar dan terug op die kombuistoonbank. “Ek lief jou, hoo’?”

Ek hou haar dop terwyl ek vir my filterkoffie maak. Dis nog vroegoggend. En donker. Soveel moeiliker om in die winter op te staan! Maar Boeta benodig baie tyd om wakker te word, en Pops is in elk geval soggens voor 06:00 al wakker (en so honger dat haar magie blykbaar pyn). So dit help nie om ’n paar minute langer te probeer lê nie.

Ek hoor hoe Pops verder gesels. Sy lewe haar so in en dis te oulik hoe sy in ’n ander stem praat wanneer sy met hulle gesels.

Ek is besig om melk in my koffiebeker te gooi toe ek Pops weer hoor: “Skies, julle,” sê sy vir haar drie soft toys wat sy langs mekaar rangskik het. “Sorry, man, ma’ ek’t nou windjie los . . . ”

Ek mors van die melk langs die beker soos ek lag. Dit ruk Pops vanuit haar verbeeldingswêreld. “Mamma! Moenie vi’ my laggie!” wys sy kwaai met haar vinger en stamp haar voet op die grond.

“Ai, skies. Jy is net so oulik! Het jy ’n windjie gelos?”

“Ja, ek’t windjie los,” sê sy ernstig. “Toe sê ek skies vi’ Staaa’ en Kat en Jaspe’” – Jasper, die derde beer – “want dit stink bietjie.”

Ek probeer hard om my lag te sluk. “Oe, maar dit is baie goeie maniere, Pops. Ek’s so trots op jou.”

“Ja. As windjie los, sê ek: ‘Skies, julle, ma’ vakkies moet ook lewe.’”

“Dis reg, ja, varkies moet ook mos lewe,” glimlag ek groot.

'My tand! My tand is los! Kyk!' en hy beduie met sy vinger in sy mond.

Net toe kom Boeta die kombuis haastig in – wat ek nie verwag het nie, want (soos genoem) klim hy nie graag soggens uit sy bed nie. “MAMMA!” roep hy baie opgewonde, hare deurmekaar en kaalvoet.

“Môre, Seun, wat gaan aan?”

“My tand! My tand is los! Kyk!” en hy beduie met sy vinger in sy mond.

“Regtig? Laat ek sien.” Ek loer in sy mond – en sowaar! Boeta se eerste tand is los! “My jitte, dis nou opwindend! Sodra dit uitval, kan ons dit in jou pantoffel onder jou bed sit.”

“Ja, vir die Tandemuis!”

“Netso!”

“Wow, Mamma! Ek kan nie GLO ek begin al wissel nie!”

“Ek eintlik ook nie, Boeta!”

“Mamma! Kyk! Kyk! My tand ook los!” kom Pops soos gewoonlik tussenbeide, altyd bang al die aandag is nie op haar nie.

“Nee, my lief, jy is nog ’n bietjie te jonk. Jou tande moet nog nie los wees nie.”

“Maar dit IS!” sê sy kwaai en krap met haar vinger in haar mond. “Sien jy?”

“Oukei, ek sien,” sê ek net om die vrede te bewaar.

“Oeee, ek kan nie WAG om vir Juffrou en my maatjies by die skool te wys nie! Wanneer ry ons?” praat Boeta opgewonde verder.

“Ja, kannie WAG om Juff’ou en maatjies by skool wysie!” na-aap Pops.

Wonderlik, dink ek. So vanoggend gaan een van daardie uitsonderlike gevalle wees waar dit nie ’n gesukkel gaan wees om hulle aangetrek en uit die huis te kry nie.

'Ja, ek ook stof veg!' hardloop Pops agterna en kap met haar hande in die lug.

Die middag wil die kinders gaan stap.

Boeta praat onophoudelik oor sy los tand – met Pops wat natuurlik alles na-aap – totdat hy meteens roep: “Mamma, ek gaan die stof veg!” en opgewonde in die park begin rondhardloop en die stof “jaag”.

“Ja, ek ook stof veg!” hardloop Pops agterna en kap met haar hande in die lug.

Ek staan en beskou die stofvegtery, net toe daar ’n ry tarentale oor die park aangestap kom.

“Tahentale! Ek tahentale veg!” skree Pops en hardloop agter die arme voëls aan. Dié laat spaander. Boeta laat nie op hom wag nie en gaan “veg” ook die tarentale.

Die aand toe ons drie op Boeta se bed sit terwyl hy Tippie lees, onderbreek hy homself: “Mamma, dit was die lekkerste dag! My tand is los, ons het stof geveg en tarentale ook geveg! Kan ons môre weer stof gaan veg? Dit is soos in die koelste game OOIT!”

“Ja, Mamma, lekke’ste dag OOIT! Stof veeeeg, tahentale veeeeg, windjie los . . . ” las Pops by.

Lang is ’n ma, vrou, prokureur en redakteur. Volg haar op Facebook. Die menings van skrywers is hul eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

• Die #kouekoffiema-rubrieke verskyn volgende maand in boekvorm. Dit word deur Protea Boekhuis uitgegee, maar mense kan nou al by Carla kopieë bestel. Dit kos R225 en sy sal dit vir hulle teken. Kontak haar by kouekoffiema@gmail.com

kouekoffie

Meer oor:  Carla Lang  |  Ouerskap  |  #Kouekoffiema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.