Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
#Kouekoffiema: Terugblik

Toe sy onlangs kyk hoe haar twee kinders speel, het Carla Lang se gedagtes teruggesweef na ’n “kon-wees” waaraan sy verkies om nie te dink nie.

Carla Lang Foto: Me & May Photography

Dit begin flou-flou lig raak deur die blindings. Ek sit kruisbeen op die speelkamervloer en teug aan my stomende koffie terwyl ek Boeta en Pops se interaksie stil betrag. Eers gil die een, dan gooi die ander ’n vloermoer. Dan lag hulle weer en speel saam.

Ek dink aan my en Manlief se gesprek die vorige aand: of ons nou gaan brieke aandraai, of nié.

En so tussen Pops se gilletjies deur en Boeta se klaery, voel ek hoe my gedagtes terugsweef na ’n “kon-wees” waaraan ek verkies om nie te dink nie . . .

Ek verras Manlief op sy verjaardag met ’n positiewe swangerskaptoets.

Hy’s baie opgewonde, maar nie verbaas nie. Het dit blykbaar vermoed omdat ek die laaste twee weke “geïrriteerd” en “kortaf” is.

Ons verras Oupa en Ouma met babasokkies. Dié is ook baie opgewonde. Kan nie wag vir die tweede kleinkind nie.

Die dag van die agt-weke-sonar is ek op my senuwees. Swanger wees is vir my stresvol. So baie wat kan verkeerd loop. Manlief, daarenteen, is altyd positief. Rustig. Glo alles sal perfek wees.

Die ginekoloog kyk op die skerm, maak notas.

Ginekoloog verduidelik dat alles daar is wat daar moet wees – behalwe die hartklop . . .

Ek hou my asem op, soos ek twee jaar tevore met Boeta ook gedoen het. Met hom was ek toe eers ses weke swanger, maar die hartkloppie was al sterk. Met daai eerste hartklop wat ons gehoor het, was ons al smoorverlief.

Ginekoloog verduidelik dat alles daar is wat daar moet wees – behalwe die hartklop . . .

Ek word koud.

Ginekoloog sê ons moenie nou al bekommerd wees nie.

’n Mens tel nie altyd so vroeg die hartklop op nie. Gaan my stuur vir bloedtoetse, dan kyk ons na my hormoontelling.

Daardie aand slaap ek niks.

Die oggend bel Ginekoloog. Niks om nou al oor bekommerd te wees nie; hormoontelling baie hoog. Oor ’n week of twee moet ek hom weer kom sien en dan sal ons moontlik die hartkloppie hoor. Ons kyk dan hoe lyk dinge.

Ek kry weer hoop.

Ná ’n week besluit ek egter om (teen Ginekoloog se mediese advies) vir ’n tweede bloedtoets te gaan.

Maar ek gaan hoopvol. Die eerste bloedtoets se hormoontelling was immers hoog. Ek weet dat ’n mens in ’n stadium nie meer staatmaak op die telling nie, want dit gaan in elk geval daal. Maar ek voel ek moet iets doen. Kan nie net sit en wag tot die volgende sonar nie.

Ek slaap daardie aand beter. Het mos weer hoop.

Ek voel hoe die hoop weer uit my dreineer.

Die oggend gaan haal ek my uitslae.

Die hormoontelling het aansienlik gedaal.

Ek voel hoe die hoop weer uit my dreineer.

Bel Ginekoloog.

Hy sê in hierdie stadium beteken die toetse niks. Ek moet wag tot die volgende ondersoek.

Hoop kruip weer stadig maar seker in my hart op.

Die dag van die sonar is Manlief positief, soos altyd. Ek het hoop, maar tog ook nie.

Ons wag vir Ginekoloog om iets te sê.

Dan kom dit.

Geen hartklop.

Daar is steeds ’n embrio – maar dit lewe nie meer nie.

Die trane loop oor Manlief se wange.

Ek reageer nie.

Die ergste was die vals hoop.

Ons het “opsies”.

Ek kies die natuurlikste manier.

’n Week later voel dit of ek in kraam gaan. Dis tyd, weet ek.

Ek tap ’n warm bad en lê daarin. Hoop dit sal die krampe ligter maak.

Maar dinge raak woes.

Die bad rooier en rooier.

Ek kry ’n angsaanval.

In Vriendin se motor op pad hospitaal toe loop die trane stil oor my wange.

Die ergste was die vals hoop.

Die oomblik toe ek wakker word ná die noodskraap, bars ek uit in trane.

So finaal.

Geen baba.

’n Verpleër kom nader en vat my hand, kyk in my oë en sê: “It’s okay, it’s okay. God is in control.”

• Lang is ’n ma, vrou, prokureur en redakteur. Volg haar op Facebook. Die menings van skrywers is hul eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Carla Lang  |  Ouerskap  |  #Kouekoffiema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.