Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
#Kouekoffiema: Towerwoorde en ‘slimy noodles’

Ná ’n dag vol opwinding lyk jou gunstelingdis dalk nie meer so lekker soos gister nie, skryf Carla Lang.

Carla Lang Foto: Me & May Photography

“Hoe was jou dag, Pops?” vra ek op pad huis toe ná skool.

“Lekke’!” roep sy van agter.

“Ek’s bly. Wat het julle alles gedoen?” Ek loer na haar in die truspieëltjie – my ou poppie met die wilde krulhare wat ek nooit mag kam nie.

“Ek’t gepoefie . . . , piepie . . . – en nog anne’ lekke’ goed ôk doen,” beduie sy met haar vinger. “En met maatjies speel . . . – MAMMA! Hoekom lag jy?!”

“Het jy gepoefie en gepiepie?”

“Ja! Sê mos! En maatjies speel.”

“Oe, maar dit klink lekker, Pops. Ek kan hoor dit was sommer ’n baie opwindende skooldag.”

“Ja,” bevestig sy. “Kyk! Hondepa’k!” druk sy met haar vinger teen die venster.

Ek ry stadiger om om die verkeersirkel te gaan. “Ja, die hondepark. Ons moet ’n slag die honde bring.” Arme Wyfiehond (labrador-kruis; amper 8 jaar oud) en Mannetjieshond (pikswart bullmastiff-kruis; amper twee jaar oud) was weke laas uit die erf uit.

Mannetjieshond het nou wel op ’n kleiner hondjie gepiepie (en van die druppels mag dalk op die oom se been gespat het), maar steeds: Dis darem nie só erg nie.

Die probleem is Mannetjieshond. Hy is baie groot, baie sterk en altyd baie opgewonde. So behalwe dat hy my die entjie vanaf die kar tot by die hondepark se hekkie sléép, is hy vir die eerste kwartier só wild, dat ander parkgangers al menigte kere hul honde gevat en geloop het wanneer Mannetjieshond arriveer.

Die laaste keer toe Manlief die honde daar gehad het, het ’n oom vir hom gevra of hy dan van sy kop af is om Mannetjieshond park toe te bring. Ek het gedink hy oordryf effens. Mannetjieshond het nou wel op ’n kleiner hondjie gepiepie (en van die druppels mag dalk op die oom se been gespat het), maar steeds: Dis darem nie só erg nie.

Elk geval, die honde sal ’n slag móét uitkom. Dis ook nie reg dat Wyfiehond gestraf word oor Mannetjieshond se wangedrag nie.

“A’mme Odis (Mannetjieshond),” sug Pops dramaties vanuit haar karstoeltjie.

“Hoe nou?” Ek toet vir die kar wat voor my indraai.

“A’mme Odis. Hy’s so tev’ede. Hy wag ma’ dat hy pa’k toe ka’ ga’n,” praat tweejarige Pops soos ’n grootmens.

Vir die tweede keer lag ek kliphard.

“MAMMAAA! Jy moet hegtig ophou lag my! Issie snaaksie! Ek wo’d KWAAD!”

“Skies, Pops, maar ek lag saam met jou, nie vír jou nie.”

“Huh? Wat sê jy?”

“Toema, moenie worry nie. Mamma sal nie weer nie.”

“Wa’ is Boeta?” vra Pops ’n rukkie later by die huis terwyl sy op Wyfiehond se rug perdjie ry. Dié is soos altyd baie geduldig.

“Hy het buitemuurse aktiwiteite vandag. Hy kom bietjie later,” verduidelik ek terwyl ek haar 2-minute noodles regkry.

“Wiskunne-k’asse?” vra sy.

“Eksperimentklasse en dan wiskundeklasse, ja. Wees versigtig met die hond, seblief.”

“Wanne’ ek so oud Boeta, ek ook spiementk’asse en wiskunnek’asse doen.” Steeds op Wyfiehond se rug en dié steeds maar tevrede.

Pops gee dit net een kyk en verklaar dan: 'Mamma! Kannie dit etie!'

“Dis reg ja, jy kan dan as jy sou wou. Orraait kom, hier is jou noodles.”

Pops gee dit net een kyk en verklaar dan: “Mamma! Kannie dit etie!”

“Hoekom nie?” vra ek verbaas. Dit was gister nog haar gunsteling.

“Want dis SLIMY! Kyk!” en sy tel van die noedels tussen haar vingers op en laat dit weer afgly tot in die bakkie. “Eeeeeuuuuuw! Slimy noedels!”

“Ag nee, Pops! Jy eet dit dan altyd.”

Maar sy skud haar kop woes van links na regs. “Yuk! Ek wi’ hamb’oodjie hê.”

“Hambroodjie? Ag nee, man! Jy mors kos!”

“Hamboo’djie, Mamma, nie slimy noodles nie,” hou sy vol.

Asseblief! ‘Asseblief’ is die towerwoord!

Ek sug. “Goed dan, maar eers: Wat is die towerwoord?”

“Towe’woo’d?”

“Ja. Hoe vra mens?” leer ek haar ’n bietjie maniere en voel sommer trots op myself.

Sy dink bietjie, en antwoord dan: “Towe’woo’d is 1111.”

“Wat?” Eers verstaan ek nie.

“1111,” herhaal sy.

En dan begryp ek: “Pops! Nie die iPad se wagwoord nie!”

“O. Wat dan?” frons sy.

“Asseblief! ‘Asseblief’ is die towerwoord!”

“O.” Sy lyk ’n bietjie verward omdat die towerwoord blykbaar verander het, maar sê dan: “’Blief, Mamma, hamb’oodjie . . . ”

• Lang is ’n ma, vrou, prokureur en redakteur. Volg haar op Facebook. Die menings van skrywers is hul eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Carla Lang  |  Ouerskap  |  #Kouekoffiema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.