Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Krag van die brose, vurige vrouehart
Petro Hansen

Dis Vrouemaand. Die Augustuswind roep die reën, maar vanoggend waai die wind die hart van ’n vrou op my tafel aan.

Hierdie hart, kom ek agter, is gemaak van ’n roosblaar, ’n tikkie jasmyn en ’n lepel roosmaryn. Dis ’n brose hart, maar dit is ook so ontvlambaar soos ’n kersbossie. Dis die hart van Verna Rheeders Mulder. Haar ongewone naam sê reeds sy is besonders. Sy is die toonbeeld van 1 Korinthiërs 13 se liefde.

In Januarie blaai ek deur menselewens op Facebook en die Please Pray for Mienke-blad flits voor my op. En toe onthou ek van die tragedie wat die Mulder-gesin van Nelspruit in Augustus 2017 getref het. Die koerante was vol van Mienke, ’n sewe maande oue baba wat by die dagsorgsentrum aan haar melk verstik het.

“Groot hartseer oor Baba Mienke”, het die een opskrif gelui, en ’n ander: “God het die laaste sê”. Die dokters se tyding aan Mienke se ouers was sonder enige hoop. Die eens blakend gesonde donkerkopdogtertjie met die mooiste groot bokkiebruin oë en langste wimpers en die mooiste porseleinvel sou volgens die medici waarskynlik lewenslank gestremd wees.

Ek het by die Facebook-groep met sy 56 000 lede aangesluit, want dit is wat vroue doen – hulle plak pleisters op die stukkende knieë van ander se kinders, asof dit hul eie is.

Ek het by die Facebook-groep met sy 56 000 lede aangesluit, want dit is wat vroue doen – hulle plak pleisters op die stukkende knieë van ander se kinders, asof dit hul eie is.

Maar nou is dit reeds 12 maande later. En daaroor staan ek in verwondering. Die inskrywings wat Verna op die groep maak, getuig veral van een ding en dit is hoe moedig sy is. Hoe positief sy reageer op elke klein vorderinkie wat haar kind toon: “Mienke Muis, jy maak van mamma ’n beter mens! Jy leer my dat jy nie fancy speelgoed of fancy klere nodig het nie, maar al wat regtig saak maak is liefde! Jy leer my dat ’n mens nooit mag opgee nie, dat ons moet aanhou . . . Soms wens ek ek kon jou net weer in my baarmoeder dra, want daar was jy veilig.”

Ja, hierdie vrou se hart is inderdaad gemaak van strelende maanskynstrale, van die son se warm glimlag en die kleur van gedroogde herfsblare. En let op . . . haar hart mag dalk aanmekaargevleg wees van die fynste stukkies glas, porseleinware en gansvere, maar sit haar die dag op ’n slagveld en sy wys jou hoe om ’n voetpad tussen skerwe van stukkende harte uit te trap.

Verdoem die herstelpad van haar eie vlees en bloed en sy wys jou hoe jy jou kind, wat deur ’n breinskandering van alle hoop ontneem is, op jou heup tel, vir haar twee bokstertjies maak, liedjies sing en stories lees. Verduister die lag van haar kind wanneer jy haar kielie, verdonker die krag in haar beentjies wanneer sy by trappe op- en afklim en fietsry en sy sal jou wys hoe jy lewe spreek in die gewone aktiwiteite van ’n kind.

Want wat vroue – die ma’s, die enkelma’s, die oumas, tuisteskeppers en beroepsvroue – nes Verna waaragtig weet, is dat die hoop, ondanks die suurstofnood van haar babakind se brein, nooit ooit sal beskaam nie.

Meer oor:  Baba Mienke  |  Petro Hansen  |  Smart  |  Liefde  |  Vrouemaand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.