Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Krisis laat ons nuut kyk na huisgemeentes
Dr. Isak Burger

Sonder twyfel word die kerk, soos feitlik elke ander organisasie, wesenlik deur die Covid-19-pandemie geraak.

Tradisionele kerkdienste was onder die eerste byeenkomste wat verbied is en sal dalk onder die laastes wees wat tydens die inperking weer toegelaat word. Die rede hiervoor is heel logies en niks sinister hoef hierin gelees te word nie.

Terwyl die fisieke bymekaarkom van gelowiges ’n belangrike deel van kerkwees is, het ons intussen besef dat dit nie ’n absolute noodsaaklikheid is nie. Die meeste gelowiges se toewyding aan God het nie in hierdie tyd afgeneem nie. Inteendeel!

Ek is beïndruk deur die wyse waarop baie gemeentes sedert die eerste Sondag ná die begin van die inperking die sosiale media doeltreffend gebruik om lidmate te bedien. Ek reken wél dat die meeste gelowiges ná die inperking die samekoms van hulle geloofsgemeenskappe opnuut gaan waardeer. ’n Mens waardeer mos baie keer eers iets wanneer dit van jou weggeneem word.

In hierdie stadium is dit moeilik om te voorspel wat die langtermyn-uitwerking gaan wees. Enig­iemand wat egter meen dat die kerk (of godsdiens in die algemeen) weens die pandemie ’n terugslag gaan ervaar, maak ’n groot fout. Dit is my oortuiging dat die kerk van Jesus Christus veel sterker uit hierdie krisis gaan kom.

Sosiale media gaan ook ’n veel belangriker en positiewe rol in die funksionering van die kerk en die verkondiging van die Evangelie speel.

Terwyl gemeentelike byeenkomste ná die inperking steeds sal voortgaan, sal daar waarskynlik met nuwe oë na die plek en rol van huisbyeenkomste en huisgemeentes gekyk word. Sosiale media gaan ook ’n veel belangriker en positiewe rol in die funksionering van die kerk en die verkondiging van die Evangelie speel.

Die meeste gemeentes se finansies word (om verstaanbare redes) negatief geraak – gemeentes met baie arm lidmate nog meer. Tog is dit verbasend om te hoor hoeveel lidmate steeds getrou is met hulle bydraes. Talle gemeentes – selfs die armstes – openbaar op verskillende maniere die liefde van Christus op ’n praktiese wyse in hulle gemeenskappe – sonder dat dit aan die groot klok gehang word. Vir talle mense by wie staatshulp nie uitkom nie, is die hulp en bydraes van gelowiges en plaaslike gemeentes ’n reddingstou.

Wêreldwyd het dit duidelik geword: Geloof in en gebed tot God het spontaan meer prominensie in die openbare domein gekry. In verskillende wêrelddele het mense openlik saam voor hulle huise gekniel, gesing en gebid.

Bekende wêreldpersoonlikhede het hul geloof en afhanklikheid van God in die openbaar bely. In Suid-Afrika is ’n reuse-gebedsinisiatief oor 50 dae onder leiding van hoofregter Mogoeng Mogoeng aan die gang. Ons president se toesprake word vir die eerste keer met ’n versugting na die beskerming van God afgesluit.

’n Groot deel van die mensdom het in ’n kort tyd tot die besef van hul broosheid en verganklikheid gekom, maar ook van hul afhanklikheid van God.

  • Isak Burger is ’n voormalige kerkleier en skrywer.
Meer oor:  Isak Burger  |  Koronavirus  |  Geloof  |  Sosiale Media  |  Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.