Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
KYK: Inperking: Maak ’n geraas vir gesondheidswerkers

Gesondheidswerkers en mense wat noodsaaklike dienste verrig, is ons nuwe nasionale helde. Ons kan gerus ’n gereelde geraas maak om hulle te laat weet ons dink aan hulle, skryf Marzahn Botha.

Dis Maandagaand, 30 Maart 2020 om 20:00.

Pres. Cyril Ramaphosa se toespraak aan die nasie is skaars verby. Die dodetal weens die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika staan (tóé nog) op drie.

Vuvuzelas begin blêr, blikke, potte en panne ratel. Polisie-sirenes loei. Ritmiese applous volg en dit weergalm van Duiwelspiek deur Tuine en Oranjezicht tot op die stoepe van Higgovale se huise onder die Berg.

Elke aand sedert die inperking word dié klanke herhaal.

Hulle skree vir mense wat teen die virus 'fight'. Die dokters en daai 'nurse'.

Mense verskyn in die glimmende vensters van hul blyplekke en maak ’n geraas wat hul bure móét hoor sodat hulle ook kan raas.

In dié positiewe gebaar, tussen die blêrende vuvuzelas, pols ’n diepgewortelde vrees vir wat is en wat kom.

Drie hawelose rastas stap verby en verskyn in die skynsel van ’n straatlig.

“Wat gaan aan?”

“Hulle skree vir mense wat teen die virus fight. Die dokters en daai nurse,” antwoord een terwyl hy kaalvoet met ’n streepsak aan sy lyf verder stap.

Duidelik ken hy ’n verpleegster wat nes Florence Nightingale of ander versorgers soos Moeder Teresa en Emily Hobhouse na mense in nood omsien.

Marzahn Botha

In ander lande is daar ook op soortgelyke manier hande geklap. Prins William, sy vrou Kate en hul kroos het dit gedoen. So ook prins Charles wat die virus nie kon vryspring nie. Harry en Megan het hul voorbeeld uit Los Angeles gevolg, nog as @sussexroyals.

Die Instagram-hutswoorde #ClapForOurCarers #ClapForCarers en #ClapForNHS het saam met al dié plasings verskyn.

Hier aan die suidpunt van Afrika word vir meer as net die gesondheidswerkers geklap. Dit word ook gedoen vir al die werkers wat noodsaaklike dienste lewer en soos die president tereg opgemerk het, ’n helde-applous moet kry – selfs harder as dié vir die Springbokke wat ons verlede jaar so begeester het.

Elke aand om 20:00 moet ons vredevol toi-toi voor die vensters van ons binnekamers of op ons balkonne.

Jy moet eenvoudig aanhou beweeg en geraas maak. Doen dit vir die dokters en gesondheidswerkers wat nou soos soldate gereedmaak vir die grootste geveg van hul loopbane.

In sommige privaat hospitale is dit soos die stilte voor die storm. Volgens ’n gesondheidswerker wat anoniem wil bly, is daar groot kommer oor die tekort aan beddens in hoësorgeenhede en ventilators.

“Dit gaan maar touch en go wees,” sê sy.

Gesondheidswerkers probeer gewoonlik met ’n KPR, of kardiopulmonêre resussitasie, die bloedtoevoer bevorder na belangrike organe om orgaanskade te beperk. Terselfdertyd probeer hulle die pasiënte bystaan om self asem te haal en die hart onafhanklik te laat klop. Dit verseker die vloei van suurstofryke bloed na die brein.

Gesondheidswerkers kan nou nog vir ons ’n diens van gehalte gee. Die hande, tyd en hulpbronne is genoeg.

Jy doen dit glo vir ’n hele paar minute om lewens te probeer red.

Dit gaan uiteraard met gevaar gepaard, want hoe langer jy dit doen, hoe meer stel jy jouself bloot . . .

Gesondheidswerkers kan nou nog vir ons ’n diens van gehalte gee. Die hande, tyd en hulpbronne is genoeg.

Maar vorentoe kan dit dalk nie so wees nie.

So volgende keer wanneer jy ’n geraas wil maak, doen dit vir ons nuwe nasionale helde. Hulle sal dit tot in die teaters hoor.

* Botha is ’n vryskut-joernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Marzahn Botha  |  Kaapstad  |  Hospitale  |  Gesondheidswerkers  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.