Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
KYK: Van klimraam-gimnas tot Olimpiese Spele

Sibusiso Zulu (12) is drie jaar gelede deur sy ma se werkgewer, waar sy as huishulp werk, raakgesien waar hy buite op die klimraam speel. Vandag is hy by verre sy klub se beste gimnas en sy kop staan Olimpiese Spele toe, skryf Jo Prins.

Sibusiso Zulu (12) glimlag breed terwyl hy vir ’n oomblik nie die onmoontlike op die brug doen nie.Foto: Jo Prins

Wanneer klein Sibusiso Zulu (12) droom, droom hy nie soos ander kinders van sy ouderdom van ’n nuwe fiets, Minecraft of ’n Xbox nie.

Nee, Sibu, soos sy vriende hom noem, droom van reekse . . . reekse en reekse wat hy op die ses apparate moet doen vir die groot liefde in sy lewe: gimnastiek.

“Dis veral voor groot kompetisies wanneer ek droom, dan sien ek myself deur die reekse gaan. Ek sien hoe ek elke beweging perfek doen.”

Ek vang Sibu vinnig op ’n Woensdagmiddag voor sy daaglikse drie ure lange oefening by Rand Gymnastics in die Rooseveltpark-gemeenskapsentrum in Randburg, Johannesburg.

Hy’s spoggerig in rooi en blou aangetrek, spesiaal vir ons praatjie, want ek het gesê ons gaan foto’s neem, en sy ma, Annah, het vandag ook saamgekom. Grahame Fidler, sy afrigter, is ook by en hou ’n wakende oog oor als.

Fidler is al vir sowat vier dekades aktief betrokke in gimnastiek en is ook ’n Olimpiese afrigter en beoordelaar. Hy en sy vrou, Jane, is die mede-eienaars en hoofafrigters by Rand Gym wat daagliks tientalle kinders, uur vir uur, geduldig deur hul passies neem.

Sibu en sy ma, Annah. Toe ons die foto neem, het Sibu vinnig sy arm om sy ma se skouers geslaan. Sy werk as ’n huishulp. Foto: Jo Prins

Klei moet nog gevorm word

Gaan sit op enige weeksdag hier van 15:00 af by Rand Gym. Jy sien al om die uur verskillende groepe, seuns en meisies van verskillende ouderdomme, wat kom en gaan.

Groepe is meestal in ouderdomme ingedeel, maar natuurlik ook volgens vaardigheid – die moeilikheidsgraad van bewegings wat hulle tot dusver onder die knie het.

Nou, as jy daar sit by Rand Gym en jy wag vir jou kinders om hul lyfies deur hul uur van verkenning te neem, dan val Sibu jou telkens op.

“Sy ma, Annah, werk as huishulp by mense in Randburg. En hulle het gesien hoe hierdie kind ongelooflike goed op ’n jungle gym doen.”
Grahame Fidler, gimnastiek-afrigter

Dié tiener staan kop en skouers bo die ander kinders in sy groep uit, selfs dié wat ’n hele paar jaar ouer as hy is.

Wanneer Sibu vir die soveelste keer in een sirkelbeweging van die beuelperd, sy moeilikste apparaat, val, bars ’n kenmerkende breë glimlag keer op keer deur wanneer hy vlugtig opkyk na Grahame.

Want Sibu weet hy kan dit perfek doen – hy kan dit beter as perfek doen. En Grahame weet dit in elke ding wat hy vir hom wys en sê.

“Dit is natuurlik bietjie van ’n sielkundige ding, want jy moet die kind oortuig dat hy of sy tot iets in staat is, maar jy laat ’n kind nooit iets doen wat bo hul vermoë is nie,” sê Grahame.

En in Sibu, weet hy, moet die klei nog gevorm word.

Maar waar kom hy aan dié kind? Hoe het dit gebeur dat Sibu in sy hande beland het?

“Sy ma, Annah, werk as huishulp by mense in Randburg. En hulle het gesien hoe hierdie kind ongelooflike goed op ’n jungle gym doen.”

Veronica van Tonder, Annah se werkgewer, bring toe sowat drie jaar gelede vir Sibu na Grahame toe.

Vir Sibu het daar skielik ’n nuwe wêreld oopgegaan. Hy’t voor dit nog nooit werklik iets van gimnastiek gehoor nie, wat nog te sê van ’n arabiersprong met ’n flikflak, flikflak en agteroorsalto.

Sibu wys sy wit handpalms ná al die poeier wat hy opgesit het. Gimnaste gebruik dikwels dié poeier – ’n spesiale mengsel – om hul hande effe droër te maak en om beter vatplek aan apparate te hê. Foto: Jo Prins

Grahame het onmiddellik Sibu se potensiaal raakgesien. Hy’t eers vir ’n maand verkennend afgerig, toe vir ’n jaar. En nou trek hulle by vier, vyf dae ’n week; drie ure per dag.

“Dis eintlik verstommend hoe vinnig hy dinge snap,” sê Grahame. “Jy hoef dit nie vir hom te wys nie, jy verduidelik dit net goed en dan vorm hy ’n eie prentjie in sy kop van hoe dit gedoen moet word.”

Sibu glimlag breed: “Jip, dis lekker.”

Grahame sê hy’t een kyk na Sibu se ma gegee, “want ’n gimnas moenie té lank wees nie en daar is ’n spesifieke bou wat perfek is,” toe weet hy.

Olimpiese Spele

Maar gimnastiek, soos dikwels met die spesialis- en randsporte, is nie ’n goedkoop oefening nie.

Hier is nie sprake van borgskappe soos by krieket, atletiek of rugby nie. Nee, dié sport is vir jou eie sak.

Ons groot uitdaging is om Sibu hier uit die suide van Afrika, waar hy ’n unknown is, op die wêreldverhoog in Europa te kry.
Grahame Fidler, gimnastiek-afrigter

Met Sibu se pa, tans ’n werklose taxibestuurder, en huishulpmoeder Annah, is dit ’n “godsend” dat Grahame aangebied het om Sibu gratis af te rig.

“Ons groot uitdaging is om Sibu hier uit die suide van Afrika, waar hy ’n unknown is, op die wêreldverhoog in Europa te kry.

“Die jong gimnaste daar wat jaar ná jaar met mekaar in kompetisies meeding, word huishoudelike name in die gimnastiekkringe en bekend onder beoordelaars en afrigters.

“Wanneer ons daar aankom, dan is dit hierdie ‘outjie van Afrika’,” sê Grahame.

Sibu gaan vir die volgende Olimpiese Spele nog te jonk wees om te kan deelneem, maar Grahame-hulle werk aan ’n langtermynplan om hom voortdurend op peil te hou en gereed te kry vir wanneer hy uiteindelik sy groot kans gaan kry.

“Elke tweede jaar tussen die Olimpiese Spele is daar die Wêreldkampioenskap. En daar is gedurig kompetisies oor Europa heen.

“Dan is daar die Afrika-kampioenskap en die Afrika-spele. Dít is die soort kompetisies waarop ons vir eers sal moet fokus – ook die jeugspele wanneer hy 15, of 16 is.”

Dan kyk Grahame na Sibu en sê: “En dan wanneer hy 18, 19 is, dán beplan ons behoorlik vir die Olimpiese Spele. Maar hy kan nie net opdaag nie. Hy moet kwalifiseer om te kan deelneem.”

Sibu met afrigter en mentor, Grahame Fidler, by die beuelperd.Foto: Jo Prins

Dis nog ’n lang pad vir Sibu.

Ure en ure se oefening lê elke dag voor – weke, maande en jare.

Wanneer hy uiteindelik uit voorgeskrewe reekse beweeg en ten volle eie keuse doen (hy doen op die oomblik ’n kombinasie van die twee), sal hy bewegings moet kan doen waarvan hy nou nog net kan droom.

Ek wil net een van die bestes wees. En ek wil hê mense moet weet wie ek is . . . dat ek een van die bestes was.
Sibusiso Zulu

Of, waarvan hy nog nooit gedroom het nie – iets waarvan die moeilikheidsgraad ’n mens behoorlik laat regop sit.

Ek kyk na die kind, dié oopgesig, lieflike kind. En ek vra hom: “Wat baat jy daarby? Wat wil jý bereik?”

Hy dink ’n oomblik. Knik, en sê dan: “Ek wil net een van die bestes wees. En ek wil hê mense moet weet wie ek is . . . dat ek een van die bestes was.”

Onthou maar dié naam

Op skool, in die Laerskool Bordeaux, is Sibu se gunstelingvakke “wiskunde of Engels”.

“Ja,” lag Grahame, “jy kry nie ’n dom gimnas nie. Hulle is gefokus om hulle (huis)werk gedoen te kry, sodat hulle kan uitkom by dit waarvoor hulle werklik lief is.”

Terug in die gimnasium vra ek vir Sibu wat sy gunsteling-apparaat is, want die beuelperd, dié weet ek, is sy moeilikste.

“Ek is mál oor spronge. Ek hou van die vinnig hardloop en hoe ek voel wanneer ek deur die lug trek.”

Sibusiso Zulu. Onthou gerus maar dié naam.

Hy doen twee spronge: Een is ’n arabiersprong van die springbord af tot bo-op die perd, met ’n draai en agteroorsalto; die ander ’n handoorslag met ’n vorentoe-salto.

Met sy tweede sprong, die een met die vorentoe-salto, trek Sibu doer wanneer hy land en sy momentum hom vorentoe laat skiet.

Hy klap sy hande teen mekaar, glimlag – altyd die glimlag – en draai dan om om nog ’n keer te probeer.

Eerskomende naweek neem Sibu deel aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Gimnastiekkampioenskap in Centurion.

In die kategorie waarin hy meeding, klas 3 – “die eerste afdeling vir jong gimnaste waarin hulle kan begin afshow,” sê Grahame – is Sibu iemand om dop te hou.

Sibusiso Zulu. Onthou gerus maar dié naam.

Meer oor:  Jo Prins  |  Olimpiese Spele  |  Gimnastiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.