Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Lê die geknoei bloot, en lag dit skaterend uit

Die gewese goewerneur, akteur en liggaamsbouer Arnold (“I’ll be back”) Schwarzenegger en Donald Trump, Amerika se president, klim glo met snydende twiets onder mekaar in. Onse Arnie het al getwiet hy wil graag Trump se gesig aan “ ’n tafel bekend stel”.

Trompie moet dit ter harte neem, want Arnie is ’n Terminator, ’n Eraser met Total recall wat End of days vir Trump voorspel. En hy sal meer as sy tafel sien.

En nou dat ’n nuwe vliegspesie pas in Latyn (Megapropodiphora arnoldi) na Arnie genoem is, kan hul onderonsies “insektariese” afmetings aanneem. Want net verlede jaar is ’n nuwe motspesie na Trump genoem (Neopalpa donaldtrumpi). In Arnie se geval was dit die vliegie se bultende pote wat die ooreenkoms bewerk het. En vir Trump was dit die mot se kapsel van geel skubbe. Nie ’n mooi prentjie in die twietkryt nie. Beroemdes en berugtes is al dikwels, vleiend en onvleiend, in Latyn verewig.

Soos ’n perdeby wat genoem is na die bitsige TV-aanbieder, Ellen DeGeneres (Aleiodes elleniae); ’n uitgestorwe tor (Anaphtalmus hitleri) na Adolf Hitler; en ’n boompadda (Hyloscirtus princecharlesi) na Prins Charles. Dié naam­geëry raak nog insiggewender as jy van stylvolle, oorwoë Latyn na Tyl Uilspieël se spottende “hondelatyn” (canem Latine) oorskakel.

Die filosoof Umberto Eco het hieraan luister verleen met sy Bibliotheca semiologica curiosa, lunatica, magica et pneumatica wat breedweg beteken die “biblioteek van vreemde, gek­like, verbeelde tekens wat jou asem wegslaan”.

Met “lunatica magica” kan mens ons politici en ons land se kwinte, kwale en krake in hondelatyn verwoord.

Met “lunatica magica” kan mens ons politici en ons land se kwinte, kwale en krake in hondelatyn verwoord. Histories kom PW Botha sommer vanself eerste (Magnum crocodilum). En pres. Jacob Zuma kan as die bedrieglike jakkals (callidus draconum) teenoor die magtige buffel (fortissimorum bubaluscyrili) oftewel Cyril Ramaphosa, die nuwe ANC-leier, stelling inneem. En nou dat die Valke skerpoog (oculi acuti) op staatskaping (status captivitatis) begin toeslaan, kry mense weer moed. Daar is beslagleggings, klopjagte én moontlike hofsake.

Daar is die steeds bestaande 783 kriminele aanklagte teen Zuma (zumatica magna homo corruptus), en dit lyk of die allesgrypende Gupta-aasvoëls (Guptai vultures et statum) les gaan opsê. Dan is daar nog vrae oor premier Ace Magashule, die Vrystaat se eie melkman (dairyman eishi freestati). En is dit die einde van die minister van minerale bronne, Mosebenzi Zwane, se politieke loopbaan (Mosebenzi zwani songi)?

Is dit toelaatbaar om die magselite (imperium electi) só te hekel? Ja, duisendmaal ja, want dit is in die eeue-oue tradisie van die stuitige “heilige dwaas” (stultus sanctus) wat die dubbele taak van bespotting en vernuwing het – vernuwing wat uit die ontmaskering van vergrype en versuim kom. Die boodskap is eenvoudig: Moenie dat arrogante outoriteit jou belet en boelie nie. Lê die geknoei en valsheid bloot. En lag dit skaterend uit.

Meer oor:  Donald Trump  |  Arnold Schwarzenegger  |  Wilhelm Jordaan  |  Korrupsie  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.