Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Leer eerder om kompleksiteit te waardeer

Oorvereenvoudigde oplossings vir komplekse uitdagings, wat meermale met selfversekerdheid en selfs arrogansie aangebied word, steek my dwars in die krop.

Ek het veel meer tyd vir mense wat kompleksiteit waardeer. Kompleksiteit het verskillende gestaltes. Dit word gesien in veelheid van beskouinge oor dieselfde saak, asook veelsinnigheid.

Veelsinnigheid beteken dieselfde saak, teks of woord wek velerlei, selfs botsende, interpretasies, assosiasies en emosies op. Voorbeelde hiervan is geregtigheid, versoening en regstellende aksie. Vir sommige is geregtigheid ’n woord van bevryding en vreugde, vir ander ’n uitdrukking van bedreiging en uitsluiting.

Nog ’n gestalte van kompleksiteit is paradokse, oftewel oënskynlike maar nie werklike teenstellings nie – soos byvoorbeeld om instellings meer inklusief te maak sonder om nuwe uitsluitings te skep.

Dualiteit weer dui op die kompleksiteit van uitdagings. Dit beteken om soms eerder in én-én-terme as óf-óf-terme te dink. Sommige mense dink aan uitnemendheid en diversiteit in óf-óf-terme. Vir hulle impliseer ’n diversiteit van byvoorbeeld kleur ’n afname in gehalte. Hulle sukkel met én-én-denke.

Dualiteit leer ons ’n toename in diversiteit van onder meer kleur, geslag, seksuele oriëntasies, taal, kultuur en idees is noodsaaklik vir ’n toename in uitnemendheid.

Dualiteit leer ons ’n toename in diversiteit van onder meer kleur, geslag, seksuele oriëntasies, taal, kultuur en idees is noodsaaklik vir ’n toename in uitnemendheid.

’n Konstruktiewe omgang met kompleksiteit impliseer dat ons broosheid, kwesbaarheid, gebrokenheid en tragedie omarm en dat ons nie daarvan vlug of met angs of arrogansie daarop reageer nie.

Kompleksiteit kom ook tot uitdrukking in wat die Poolse sosioloog Zygmunt Bauman beskryf as aporie, oftewel doodloopsituasies.

Ons beland dikwels in doodloopstrate en dit lyk dan asof daar geen uitkoms is nie. Om konstruktief om te gaan met kompleksiteit is om hierdie doodloopstrate raak te sien, en om dan vensters te soek as die deure toe blyk te wees.

Oorvereenvoudiging, daarenteen, baan die weg vir die verabsolutering van my eie siening.

Die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer pleit vir eenvoud te midde van kompleksiteit. Eenvoud is egter nie oorvereenvoudiging nie.

Ons soek ’n eenvoud met ryke inhoud, eenvoud aan die ander kant van kompleksiteit, eenvoud wat met kompleksiteit gestoei het. Hierdie soort eenvoud bring mense nader aan mekaar.

Oorvereenvoudiging, daarenteen, baan die weg vir die verabsolutering van my eie siening, en vir die verdagmaking en beswaddering van ander mense en hul sieninge.

In die liefdesgebod word ons opgeroep om God ook met ons hele verstand lief te hê, om intellek en rasionaliteit te omarm; om te fokus op feitlikheid en nie op ons vooroordele nie. Dis nie sonder rede dat ek liefdeloosheid ervaar waar mense oorvereenvoudig nie.

Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Nico Koopman  |  Sielsgoed  |  Rassisme  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.