Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
‘Leiers nodig wat as simbole die verbeelding aangryp’

Pleks van sekerheid, heers daar nou groterwordende onsekerheid. Pleks van weet, is twyfel in die binnebaan. En pleks van goed geformuleerde toekomsteorieë, het nostalgie die oorhand, skryf Nelis Janse van Rensburg.

Nelis Janse van Rensburg. Foto: Nelius Rademan

Teorieë het nie naastenby soveel impak op mense se vorming as simbole en rituele nie. Dit word immers al hoe duideliker: Mense se standpunte en oortuigings berus nie noodwendig op rasionele oorwegings, feite en beredenerings nie. Dieper en meer bepalend as al die argumente waarom ons ten gunste van iets is, is die bewegings van ons hart, ons begeertes en ons vrese, diep gesetel in ons onderbewuste. Die mensdom funksioneer grotendeels op ’n pre-teoretiese vlak. Ons vrese is gefokus op oorlewing, ons begeertes op liefde.

“Cogito ergo sum”, of in Afrikaans gesê: “Ek dink, daarom is ek”, is die enkele frase wat die eerste beginsel geword het van die Westerse denkwêreld en die sogenaamde modernisme.

Die Franse filosoof René Descartes was in 1637 in sy Discourse on the Method die outeur van hierdie beroemde sin. Voor hierdie tyd was die mensdom grootliks uitgelewer aan die wilde magte van gesaghebbers en heersers. Hulle het alleen “gedink” wat vir húlle goed is en húlle belange dien. Hulle het onafhanklike denke en verbeelding onderdruk sodat hulle alleen kon heers en mag uitoefen.

Teen die begin van die 16de eeu, ná eeue se tirannie en onderdrukking, was dit egter duidelik dat die Westerse mens wou uitbreek uit die kloue van onkunde, magslus en uitbuiting. Toe Descartes sy stelling maak, was mense gereed vir bevryding.

Die werklikheid dat jy kan vra of jy bestaan, bevestig dat jy bestaan.

Eintlik het Descartes probeer sê ons kan nie twyfel aan ons bestaan as ons kan twyfel nie. Die werklikheid dat jy kan vra of jy bestaan, bevestig dat jy bestaan. Onderliggend aan die oortuiging dat rasionele denke soveel waarde het, was natuurlik die vraag na sekerheid. Wat staan vas? Wat is werklik? Wat is waarheid? Logika, kategoriese gevolgtrekkings, empiriese waarnemings, toetse en bewyse, onomstootlike stellings en teorieë, waterdigte afleidings, weldeurdagte formulerings het die taal van die modernisme geword.

Descartes se teorie het immers gesag verleen aan die moderne mens om vry te kom en te dink en te redeneer soos nog nooit vantevore nie. Die gehalte van menswees is gemeet aan die vermoë om verdere vrae te vra, teorieë te bevraagteken, en bewyse te lewer, nuut te formuleer – in wiskunde en wetenskap, in filosofie en godsdiens, in politiek en samelewing.

Die modernisme het ons egter weggevoer tot by die punt waar ons heimlik begin glo het die liggaamlike mens is eintlik maar net ’n voertuig van sy brein. Wat tel, is wat jy dink, wat jy weet, waarvan jy kognitief oortuig is, wat jy kan beredeneer, hoe intellektueel jy is.

Maar hierdie (Des)Cartesiaanse wêreld het oor die afgelope dekades ’n nuwe rigting ingeslaan. Die mens word al minder gesien as net ’n denkende wese, maar ’n voelende, belewende liggaamlike wese. Die skuif is nie noodwendig na anti-intellektualisme nie. Daar word net rekening gehou met die mens se niekognitiewe sorge, vrese, motiverings, begeertes en verbeelding.

Die manier waarop ons optree, word beslis nie net beïnvloed en gestuur deur wat ons dink nie, maar ook deur die stories, rituele, praktyke, simbole, sensoriese ervarings, emosies, voorliefdes en afkeure, behoeftes en begeertes. Dit is hierdie ervarings wat in die meeste gevalle betekenis gee aan die wêreld waarin ons woon.

Die pre-intellektualiteit van die mensdom van die 21ste eeu is eintlik ’n reuse-verrassing. Ná die ontploffing van kennis en die kommunikasierevolusie oor die afgelope dekades sou ’n mens verwag dat intelligensie en rasionaliteit net nog ’n groter rol sou speel om die wêreld na nuwe vlakke van funksionaliteit te neem. In plaas van sekerheid is daar egter nou ’n groterwordende onsekerheid. In plaas van weet, is twyfel in die binnebaan. In plaas van goed geformuleerde toekomsteorieë het nostalgie die oorhand.

Ons sien dit in die politiek. Politieke partye met fyn-geartikuleerde ekonomiese vooruitskattings geniet nie noodwendig die aanhang van die massas nie.

Ons sien dit ook in die kerk. Kerke wat ernstig is oor geregtigheid vir alle mense, en teoretiese antwoorde wat erns maak met die vraagstukke van ons tyd, word nie noodwendig volgemaak met nuuskieriges nie.

Verbeelding word dus gevoed deur meer as kennis. Trouens, dit word gevorm en ontsluit in ’n wêreld met simbole en rituele wat iewers diep resoneer met die vrese en begeertes van mense.

Wanneer die begeerte om lief te hê en liefgehê (erken) te word aandag kry, of die vrees vir verlies, of miskenning, uitsluiting en verwerping geroer word, kom mense in beweging.

Dink maar aan die impak van die tonele van die parlementsopening op die psige van die volk.

Ons sal dus moet anders kyk na die rituele en simbole van ons tyd. Dink maar aan die impak van die tonele van die parlementsopening op die psige van die volk. Hoe raak dit ons vrese en drome?

Maar ons samelewing en die wêreld het nou veral leiers nodig wat as simbole die verbeelding van mense kan aangryp – deur intellektuele integriteit te behou, maar wat ook beskerming en veiligheid, kalmte en toewyding, selfprysgawe en omgee, egtheid en liefde kan kommunikeer.

Die werklikheid vandag is dat die oortuigingskrag van die leier as simbool meer te doen het met die soort mens wat hy of sy is, as met die teoretiese inhoud van beleid en toekomsscenario’s.

Die ontrou, verdagmaking, selfbeheptheid, oordadigheid, selfbevoordeling en soeke na korttermynvoordele van hedendaagse leiers maak die verbeelding van die nasie dood. Ons het leiers nodig wat ’n nuwe verbeelding ontsluit op ’n pre-intellektuele vlak van geloof, liefde en versoening, nederigheid, toewyding en diensbaarheid. Hulle moet nuwe waardes en gewoontes modelleer.

Ons het hulle nodig in ons huise, wyke, skole, kerke, gemeenskappe, sakesektor, parlement. Dit sal meer sekerheid en standvastigheid bring as baie teorieë en planne.

As jy hierdie simbole kan kombineer met die krag van kennis en tegnologie, sal ons verbeelding nuut gedy en mense floreer soos selde tevore. Die onus is dus nou op elke landsburger om veral die simboliese waarde en impak van jou gedrag en gewoontes te beoordeel. Jy kan met jou menswees die mense rondom jou se verbeelding doodmaak of losmaak, laat kwyn of floreer. Dit gaan afhang van duisende leiers se menswees.

* Nelis Janse van Rensburg is die voorsitter van die moderamen van die algemene sinode van die NG Kerk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.