Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Lente is mooi, maar winter is die lekkerste
Nolan Venter

Dis hierdie tyd van die jaar, wanneer die lente die winter sy laaste stuiptrekkings laat gee, dat ek weer eens besef winter is nog al die jare my geliefkoosde seisoen.

Dit voer ook my gedagtes terug na my kinderdae, na ’n tyd toe Oupa, lank voor die aanbreek van die winter, klokslag een keer per week ons donkiekarretjie ingespan en ons dan een van die vele plantasies ingevaar het.

Daar het Oupa dan die stompe van afgesaagde bome met sy koevoet uitgegrawe. Aan gekapte hout het hy nie geglo nie. ’n Stomp, het Oupa geglo, brand lank en stadig en gee ook baie meer hitte af.

Tuis is die stompe met beitels en Oupa se tienpondhamer oopgekloof en vir die naderende winter opgestapel.

In ’n dennewoud langs ons huis het ons kinders sakke vol dennebolle bymekaargemaak wat tuis as vuuraanstekers gebruik is.

Kyk, as daai terpentyndeurdrenkte bol met ’n vuurhoutjie aangesteek word, was die resultaat ’n vuur wat skrik vir niks. Dit was nou lank voor Blitz en ander kunsmatige vuuraanstekers se dae.

In die kombuis is ons getroue Welcome Dover ook stuk vir stuk uitmekaargehaal en alle plate en roosters met ’n staalborsel skoongeskuur. As en roet is uit elke hoekie en gaatjie gekrap en sy is vir die winter blinkgepoets.

Sodra die winter met krag en mag begin inskop, het Oupa ons vyfgellingkan met die gaatjies en draadhingsel nader getrek
.

Sodra die winter met krag en mag begin inskop, het Oupa ons vyfgellingkan met die gaatjies en draadhingsel nader getrek. Dan het ons laaities ons vroegaand reeds wydsbeen om die kan sitgemaak en grootoog gestaar na die vlamme wat gulsig lugwaarts lek.

Ons het vele wintersaande met etenstyd Ouma se heilsame en stomende boontjiesop versigtig en rus-rus opgeslurp. Uit groot sopbekers wat Oupa sommer uit konfytblikke saamgeflans het.

Tot ergenis van die grootmense sou ons op ronde rivierklippe murg uit beesbene kap en dit dan aflek.

Slapenstyd het ek die voorreg gehad om myself eers agter Oupa se rug warm te maak voordat ek in my eie bedjie gaan inkruip het. Dan sou ek my koue kindervoetjies eers lekker aan Oupa se long johns warm vryf.

Ek hoor nog die geritsel van Ouma se mielieblaarmatras onder my. In die snoesigheid van my eie bedjie op die vloer sou ek later my lyfie knipmes trek en op Klaasvakie se rug die lang, rustige rit droomland toe aanpak.

Maar vir my was die lekkerste winterlekker om soggens op pad skool toe die geknars van ryp onder my kaal voetjies te voel – en dan ’n stomende plaat beesmis te gewaar en my verkluimde trappertjies daarin te verswelg. Die verkwikkende gevoel is haas onbeskryflik.

Ja-nee, gee my maar enige tyd bibberkoue winterweer, stomende boontjiesop en ’n knetterende houtstompvuur om die koue mee te troef.

Vir my is dit stukke beter as die ondraaglike hitte en rusverstorende muskiete wat so eie aan warm weer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.