Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Lewe is soos om op ’n lughawe te wag

Toe hy onlangs op ’n lughawe sit en wag het, het Dawid Kuyler gewonder of Suid-Afrika se vlug weer sal opstyg en ons na ’n nuwe bestemming neem.

Dawid Kuyler

Lughawens is plekke waar jy telkens onseker voel, maar waar jy ook die kans kry om mense na hartelus waar te neem en te bestudeer.

So gebeur dit onlangs dat ons in Istanbul drie uur lank moet wag vir ons vlug na Frankfurt.

Oral sit en lê mense wat lank voor jou al daar aangekom het. Regs van ons was drie ortodokse Jode met hul gebedstossels wat uitgehang het. Heelwat Turkse tannies kopdoeke saam met hul meer moderne kinders en kleinkinders het ook ons omgewing gedeel.

Amerikaners kon jy hoor voor jy hulle gesien het. Mense van oral het saam gewag. Party half ongeduldig, ander gelate.

Jy kan sien sommige mense op die lughawe is ou reisigers. Hulle stap selfversekerd na waar hulle moet wees. Ander kan jy sien reis dalk vir die eerste keer. Gesinne met klein kinders is opvallend. Party kinders word gedra, ander in stootwaens, ander wil self stap en hul eie klein tassie sleep. Jy kan sien ouers met klein kinders lyk dikwels moeg.

Hier en daar hardloop ’n pa vooruit om by die regte hek uit te kom met die ma en kinders op ’n streep agterna. Ou mense wat sukkel om te loop word met elektriese karretjies aangery en besorg waar hulle moet wees.

Almal op die lughawe is op reis na ’n bestemming. Sommiges is op pad na geliefdes, ander reis vir werk, ander gaan weer huis toe.

Maar almal moet eers wag.

Om te wag is egter nie só eenvoudig nie. Om die tyd om te kry, kyk ek maar na mense en wonder wat is elkeen se storie. Sekerlik kyk mense ook vir my en wonder oor my storie.

Gevangenes van lughawens

Een van die slegte dinge van wag op ’n lughawe is wanneer aangekondig word dat jou vlug laat is en jy nog langer moet wag.

Op ’n keer toe sneeu vlugte bemoeilik het in Amerika en ek gevolglik my aansluitingsvlug verpas het, moes ek ’n dag lank op ’n lughawe sit om te wag vir ’n plek op ’n volgende vlug.

So sit ek toe en dink: Wanneer gaan Suid-Afrika se vlug weer opstyg en ons na ’n nuwe bestemming neem? Of is ons gedoem om op die lughawe te bly omdat grondpersoneel en lugbeheer ’n stokkie daarvoor steek? Moet ons maar wag en kyk en tyd verwyl deur mense rondom ons te bestudeer?

Met ons onlangse terugkeer na Suid-Afrika was ons vlug uit Frankfurt met vier uur vertraag en ons het ons aansluitingsvlug in Istanbul verpas.

Ná baie vrae vra en kilometers se loop het ons visums gekry en om 05:00 by ’n hotel in Istanbul tot ruste gekom. Ná ’n opwindende dag in Istanbul is ons die aand weer lughawe toe met die hoop om teen 02:00 weer terug te vlieg na SA. Die verrassing was dat ons vlug weer met ’n uur vertraag was.

Op ’n lughawe is jy uitgelewer.

Lughawens hou jou tydelik gevange op jou reis na jou bestemming. Jy verdra dit omdat jou bestemming belangrik is.

So sit ek toe en dink: Wanneer gaan Suid-Afrika se vlug weer opstyg en ons na ’n nuwe bestemming neem?

Of is ons gedoem om op die lughawe te bly omdat grondpersoneel en lugbeheer ’n stokkie daarvoor steek? Moet ons maar wag en kyk en tyd verwyl deur mense rondom ons te bestudeer?

Dalk voel jy ook lus om te sê: Vlieg! Ons het nou lank genoeg gewag.

Dalk moet ons geduldig wees omdat die aanloopbaan nog herstel moet word en dit kan ’n tydjie duur voordat die lughawe heeltemal operasioneel is. Dalk moet ons langer wag as wat aanvanklik beplan is.

As ons wil reis en vlieg sal ons dalk in ongerief en ongeduld moet wag.

Nie almal in Suid-Afrika kan na die buiteland emigreer nie. Baie van ons, en ek sluit myself daarby in, moet hier bly en werk en bid vir ’n nuwe toekoms.

Dis my land dié en hier lê my wortels. Hier lewe ek en hier sal ek sterwe.

* Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika en voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Dawid Kuyler  |  Frankfurt  |  Istanbul  |  Lughawens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.