Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Liewer die toetspatroon as dié geploeter
Blouwillem

Ja, toemaar, ek was ook een van die malles wat Saterdagnag (of moet ek eerder sê, Sondagoggend) daar soos ’n springhaas in ’n skietlig voor die TV gesit en toetsrugby kyk het.

Nou weet ek natuurlik wat ek laas Woensdag al moes geweet het, naamlik dat ek negeuur al my slaapmus of skoolpet moes opgesit het en my bedlamp af.

Maar jy’s mos bang jy mis iets, en so sit ek toe maar daar onder die vrieskombers met my fles koffie, luister vir die eerste keer na ’n vals Walliese mannekoor en halftyd verlang ek na Ashwin, Nick en Naas om die saai gedoente ’n bie­tjie op te helder.

Nou weet ek ook ek moes halftyd gaan slaap het, maar ek het nie.

Nee, ek bly mos sit en wens later ek kan eerder die koninklike troue se kykweer, onderwatermandjievleg, Glam Guru of selfs die ou toetspatroon kyk eerder as dáái geploeter.

En toe lê ek ná die tyd in my koue kooi en ek rol rond en kan met die hemelhoë vleispryse nie eens soos vroeër jare skape tel nie.

En ja, dominee, ek is jammer oor so ’n flou verskoning, maar dis waarom ek gisteroggend ’n paar keer tydens ’n pragtige preek (aldus my anner helftetjie) ingedut en gedroom het van ou Frik, Mannetjies en Mof toe rugbytoetse nie op bofbalvelde op volksvreemde vastelande gespeel is nie.

Vir ’n ou soos ek wat elke week die nuus deursnuffel vir die vreemde, die snaakse of die absurde, was daar weer ’n ryke oes.

So lees ek van die diewens wat gedoriewaar by die 12de putjie van die Oudtshoorn-gholfklub ’n spul grassooie gaan steel het.

Ja, gras! Nou ja, wat nog?

Dalk maar by die plek wat die Anglikaanse kerk in Mosselbaai se gesteelde kerkklok by die diewens gekoop het.

Die enigste soortgelyke gholfdiefstal wat ek kan onthou, was toe diewens een nag my buurman se posbus kom steel het.

Dit was een van daai massiewe gholfbalposbusse wat so groot soos ’n Weberbraai is waarin jy drie of vier jaar se pos kon opgaar toe ons nog ons pos gekry het.

Buurman het daai aaklige posbus by die vorige eienaar geërf en ek dink vandag nog hy het self die ding verduister, maar nou ja, waar gaan soek jy jou gholfbalposbus? Or for that matter jou grassooie?

Dalk maar by die plek wat die Anglikaanse kerk in Mosselbaai se gesteelde kerkklok by die diewens gekoop het.

Op daai kerkklok is gegraveer “South Africa”. so hulle behoort hom, ander as die grassooie, darem te kan opspoor.

Oom Johnny sê dié stelery laat hom dink aan die storie wat hy gehoor het van die ou wat gevang is nadat hy drie keer by dieselfde damesklerewinkel (een van daai grênd boetiekgoeters) ingebreek het.

In die hof pleit die ou toe dat hy net graag vir sy vrou ’n rok vir haar verjaardag wou gee. “Maar waarom drie keer inbreek?”

“Edelagbare, ek is elke keer teruggestuur om die rok vir iets anders om te ruil.”

Meer oor:  Blouwillem  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.