Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
‘Los die prins en gee my eerder die houtkapper!’

Die prinse van die sprokies is ’n klomp luilakke, ’n spul opportunistiese pervs en pansies. As haar seuns wil leer hoe om vroue te betower, moet hulle eerder leer by die diere, skryf Carina Stander.

Carina Stander.

Op ’n dag lê ek in die hangmat op ons stoep en lees vir my seuns Jungle Explorers – ’n prenteboek oor die Amasone – voor. In dieselfde handgeweefde Brasiliaanse hangmatte waarin ek en Gerrit voor hul geboorte geskommelslaap het terwyl ons op ’n oop piesangboot vol Indiane die Amasone-oerwoud invaar, lees ek vir my seuns voor oor die diere en plante wat hulle al goed ken uit ons verhale – kolibrie, luidier, blaarsnyermier, kapibara, anakonda, rivierdolfyn. “Mamma is nie aldag mak nie,” seg ek en begin deur die uitmekaarvallende fotoalbum blaai.

Dis iets waaroor ek en Gerrit nogal sterk voel – om ons seuns nie met eng en streng idees oor geslagsrolle groot te maak nie. Hulle het ’n skrywer-ma wat ’n sweismasjien en kettingsaag kan werk en nie bang is vir spinnekoppe nie; hulle het ’n berghardloper-pa wat verjaardagkoeke kan bak en kopkussings maak. Alle vroue hoef nie fyntjies te wees nie; alle mans is nie kultuurbarbare nie. Jy mag maar sorgsaam, sag én sterk wees, ingestel op die skone kunste én woeste avonture. G’n rede om te kies nie. Kombineer, nie kies nie – dis ons motto.

My pa, Sarel, was ook nooit voorskriftelik oor watter soort man ek moet kies nie. Om eerlik te wees, onthou ek net een brokkie boyfriend-raad uit sy mond. Ek was 19 jaar oud toe hy een aand ná ’n liefdesteleurstelling op my bed kom sit het. “Daai outjie is jou trane nie werd nie, my kind. Moet nooit weer jou hart op ’n gemaksugtige man verloor nie.” Vir ’n deurwinterde boer, wat weet wat dit is om van dagbreek tot sononder te arbeid adel, is “gemaksugtig” ’n skelwoord.

Luiheid (hetsy die luiheid van hart of die luiheid van hand) is vir hom iets benede God se wraak.

As ek Sneeuwitjie was, sou ek die giftige appelstukkie in die prins se gesig gespoeg het

Dalk is dit waarom ek nog nooit vat aan die prinse van die sprokies kon kry nie. Selfs as kind kon ek daai prins van Sneeuwitjie nie verdra nie. Ek bedoel, het hy haar veilig die bos in gelei? Het hy dalk ’n bok geslag om haar lewe te red of sy lewe gewaag deur die bose koningin te bedrieg?

O nee. Dit was die humble hunk, die houtkapper, se werk. Kom die prins ewe aangalop op sy wit perd in sy wit pofbroek en handjies wat witter as Sneeuwitjie s’n is. Watter soort man probeer ’n wildvreemde meisie in ’n koma soen?

Selfde storie met die prins van Doringrosie. Lekker gerieflik dat die 100 jaar slaaptyd verbreek word die oomblik toe hy opdaag – nooit hoef hy self te sweet of te bloei deur die heining van braambosse nie. Stap eenvoudig die kasteel binne en vry die Slapende Skoonheid. Woeps-waps.

Kyk en leer liewers by die diere, my seuns, kyk en leer. As ’n vinkmannetjie verlief raak op ’n wyfie, pof hy nie net sy vere uit en twiet-twiet op ’n takkie nie – hy woeker om haar hart te wen! As ’n olifantbul sinnigheid aan ’n olifantkoei kry, sal g’n vloed of vuur hom stuit nie.

Maar die prinse van die sprokies is ’n klomp luilakke. ’n Spul opportunistiese pervs en pansies.

As ek Sneeuwitjie was, sou ek die giftige appelstukkie in die prins se gesig gespoeg het en dan die houtkapper in die bos gaan opsoek het.

Noudat ek daaraan dink, is dit min of meer wat ek gedoen het. En ja, op ons troudag het my pa met die breë boer-skouers gejubel en gejuig so tussen sy trane deur.

* Carina Stander is ’n visuele kunstenaar, reisjoernalis en die skrywer van twee digbundels,’n roman en ’n kinderboek. Haar tweede roman Die bergengel verskyn in Mei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.