Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Lydenstyd herinner aan die woestyntye

Gedurende die kerklike seisoen van Lydenstyd is daar heelwat mense wat ’n aanpassing in hul lewenstyl maak deur iets waarvan hulle baie hou, in hierdie tydperk op te gee. Vir sommige is dit sjokolade of wyn. Vir ander weer koffie of sosiale media.

Hoe ook al, dié soort praktyke hou verband met die eeue-oue gebruik in sommige kerklike tradisies om die 40 dae van Lydenstyd te vas, gedagtig aan die tyd dat Jesus voor die aanvang van sy aardse bediening in die woestyn deurgebring het. Gedurende hierdie tyd, so lees ons in onder meer Lukas 4, is Jesus deur die duiwel versoek en het hy niks geëet nie.

In een van haar oordenkings vestig die priester­skrywer Barbara Brown Taylor pertinent die aandag op die feit dat dit juis in die woestyn was waar Jesus honger en versoekings beleef het.

Sy herinner daaraan dat woestyntye en wildernis-ervaringe – wat verskillende vorme kan aanneem – onvermydelik deel van die lewe is. In haar woorde: Sooner or later, every one of us will get to take our own wilderness exam, our own trip to the desert to discover who we really are and what our lives are really about.

Sy herinner daaraan dat woestyntye en wildernis-ervaringe – wat verskillende vorme kan aanneem – onvermydelik deel van die lewe is.

Sulke woestyntye kan tye word om by wyse van spreke met ons eie duiwels te worstel, om die spoke in die gesig te staar wat ’n houvas op ons denke en lig­game het. Dit is tye wanneer ons moontlik op ’n intense wyse op fisieke, morele of geestelike vlak getoets word.

Ons skram meestal weg van dié soort selfondersoek en stryd. Dalk omdat ons die waarheid aanvoel van W.H. Auden se woorde in die epiloog van sy gedig “The Age of Anxiety”: We would rather be ruined than changed, / We would rather die in our dread / Than climb the cross of the moment / And let our illusions die.

Tye wanneer ons egter wel eerlik en sonder ver­dowing met die werklikhede en uitdagings van ons lewens worstel, kan ook bevryding bring. Taylor wys daarop dat dit immers in die woestyn was waar Jesus bevry is van die versoeking om ’n ander weg as die kruisweg te gaan, waar hy klarigheid oor sy roeping verkry het.

Lydenstyd kan inderdaad ’n tyd wees wanneer ons, ook deur geestelike dissiplines, hernude fokus ten opsigte van ons prioriteite en roeping kan vind. En dalk ontdek ons saam met die intensiteit van moontlike aanvegtinge en versoekinge die gepaardgaande teenwoordigheid van hulpgewende kragte. –Lees ons nie ook dat toe Jesus teruggekeer het uit die woestyn hy vol van die krag van die Gees was nie? – RRV

Meer oor:  Geloof  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.