Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Maak al die geraas ons doof vir stilte?
Esté Gross

In my huis is ’n skildery van ’n meisie wat ’n skulp teen haar oor vashou. Sy is verdiep in haar eie stilte en luister aandagtig. Dit lyk asof sy iets hoor wat net vir haar ore beskore is. Die skildery herinner my daaraan om tyd te maak vir stilte en nie verstrengel te raak in die wêreld se kraaines van klank nie.

Om stilte te vind in die moderne samelewing is makliker gesê as gedaan. Geraasbesoedeling wêreldwyd is ’n ál groter probleem. Veral in groot stede. Dit word die miskende besoedelaar genoem.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie beskryf geraasbesoedeling as ’n onderskatte bedreiging wat talle gesondheidsprobleme soos gehoorverlies, hartprobleme, stres en depressie veroorsaak. Sommige kenners sê selfs dat die aanhoudende blootstelling aan omgewingsgeraas stadig maar seker besig is om ons dood te maak.

Miskien het ons so gewoond geraak aan geraas dat ons doof geword het vir stilte . . .

Miskien het ons so gewoond geraak aan geraas dat ons doof geword het vir stilte . . .

Ek het op ’n keer met Marc Anderson, ’n bekroonde klanklandskapkunstenaar van Australië, gesels. Hy deurkruis die wêreld om klanklandskappe van die natuur op te neem. Die klank moet skoon, sonder enige geraasbesoedeling wees.

Hy sê dit is toenemend ’n uitdaging om só ’n landskap te vind. Om klank sonder enige menslike bedrywighede op te neem, moet hy soms vroeg soggens opstaan – wanneer die meeste mense nog slaap en die masjinerie af is. Hy moet gemiddeld 20 km van paaie af opstel om te keer dat sy mikrofone die verkeer opneem. Selfs dán moet hy in die meeste gevalle teruggaan om die klank te redigeer. Ongeskonde klank is skaars. ’n Kommoditeit.

Anderson, wat ook ’n fotograaf is, sê: “Om ’n klankbeeld op te neem is meer treffend as ’n foto. Die essensie van ’n plek en die emosionele impak wat dit op my het as ek daar is, word die treffendste vasgevang in klank. As ek ná ses maande na die opname luister, neem dit my dadelik terug na die gevoel en atmosfeer van ’n plek.”

Gelukkig het Suid-Afrika nog baie oop ruimtes.

Gelukkig het Suid-Afrika nog baie oop ruimtes. Ons is nou nie juis Guangzhou in China nie, wat eerste op die Wêreldgehoorindeks is as die ergste geraasbesoedelde stad ter wêreld. (Zürich is die stad met die minste geraasbesoedeling).

Maar dit laat my nogtans nadink oor die gehalte en impak wat ’n mens se alledaagse klanklandskap op jou gemoed en gesondheid het.

Benewens die algemene geraasbesoedeling van ’n stad, het ons elkeen ook ons eie innerlike en uiterlike klanklandskap waarin ons beweeg. En jy neem dié klank op, bewustelik of onbewustelik.

Wat is jou verhouding met die klanklandskap om jou? Al kan ons nie altyd geraasbesoedeling vermy nie, kan jy tog besluit waarvoor jy jou ore wil uitleen. Is die stemme om my positief of negatief; is dit iets wat ek sal wil opneem om weer na te luister? En wat is my bydrae?

Miskien moet ons, nes wafferse klanklandskapkunstenaars, soms moeite doen om suiwer klank te gaan opsoek. Net soos die meisie in die skildery met die skulp teen haar oor. Daar is ’n beloning as jy stil word, om na die regte klanke te luister.

Meer oor:  Menings  |  Klank  |  Stilte  |  Klankbeelde  |  Gehoor  |  Doof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.