Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Maak dié jaar sin met die sinne. Begin skryf

Dis ’n nuwe jaar, boonop ’n nuwe dekade. As jy asem ophou vir wat voorlê . . . neem beheer. Letter-lik. Begin skryf, sê Lizette Rabe.

“As daar ’n boek is wat jy regtig wil lees, maar dis nog nie geskryf nie, dan moet jy dis skryf,” het die Nobelpryswenner Toni Morrison gesê. Foto: Gallo Images

As die feestyd eerder vreestyd was, en jy dankbaar is dis verby, slaan sommer vroeg in die nuwe jaar letterlik ’n nuwe blaadjie om. Begin skryf.

Vergeet al die ander Nuwejaarsvoornemens. Hulle gaan jou gemoed tog net swaarder maak, terwyl jy dit ’n bietjie ligter kan maak deur (letterlik) tot verhaal te kom ná 2019 wat net te wild en te woes was.

Hoe?

Deur beheer te neem.

Hoe doen ’n mens dit?

Deur dagboek te hou.

So eenvoudig soos dit.

Die Harvard Business Review het selfs ’n ruk gelede geskryf hoe meer senior jou titel, hoe belangriker om te begin dagboekhou.

Journaling is die in-woord daarvoor, maar jy kan dit noem net wat jy wil, want skryfterapie kom in baie gedaantes. En dis vir almal, ook dié wat dink hulle kan nie skryf nie. Die Harvard Business Review het selfs ’n ruk gelede geskryf hoe meer senior jou titel, hoe belangriker om te begin dagboekhou. ’n Ander Review-artikel beskryf hoe dagboekhou ’n voorwaarde vir goeie leierskap is omdat dit jou help om te reflekteer oor jou doen en late.

Maar dit maak nie saak hoekom jy skryf nie. Punt is: Skryf net.

Lizette Rabe

Skryfterapie het bewese voordele, soos deur talle studies bevind, en hoewel nie ’n wonderkuur nie, wel ’n uitlaatklep vir die siel. Veral vir vuisvoos siele hier aan die begin van die 21ste eeu se derde dekade waar ons soos hasies in die hoofligte voel.

Maak ’n verskil en neem beheer deur eenvoudig elke dag iets te skryf. Selfs net een woord. Dit begin dalk woord vir woord, maar uiteindelik trek jy ’n sluis oop en skryf jy jouself in beheer. Ja, letterlik. Eers letters, dan ’n woord, en dan sinne. En só probeer jy met sinne sin maak van al die onsin rondom ons.

Maak nie saak wat jou tot dagboekskryf dwing nie. Net om die nuwe jaar – wat, dis ’n hele nuwe dekade – in die gesig te moet kyk, is al ’n rede tot stres. Of dalk het jy ’n groot trauma beleef. Dalk was jy die slagoffer van misdaad. Of is jy deur ’n egskeiding. Of ontrouheid het jou tot in jou siel geskud. Of jy is gediagnoseer met ’n ernstige siekte, of dis ’n slopende psigiese siekte soos depressie of angs. Of jy ly aan posttraumatiese stres. Of dis die somtotaal van ons land- en wêreldpolitiek wat jou negatief maak. Of jy het erge finansiële probleme. Of jy’t jou werk verloor weens maatskappy-afleggings. Of jy moet aftree en is nog nie gereed daarvoor nie. Of die groot gelykmaker: Jy het ’n geliefde verloor.

Hoe sal ek weet wat ek dink as ek nie sien wat ek geskryf het nie?
Elsa Joubert

Of dalk niks van bostaande nie, en tog het jy ’n behoefte aan ’n uitlaatklep.

Wel, welkom tot die klub.

Skryf net. In die woorde van die manjifieke Elsa Joubert: “Hoe sal ek weet wat ek dink as ek nie sien wat ek geskryf het nie?”

Met skryf hou jy ’n spieël voor jouself: Dis hoe dinge nou is. En só kan jy stap vir stap – woord vir woord – deur die pynlike proses werk. En al bly dit ’n proses, ’n reis sonder ’n bestemming, bly dit jou verhaal van hoe jy tot verhaal probeer kom.

Moenie bekommerd wees oor wat ander van jou skryfwerk dink nie . . . . Foto: Gallo Images

Selfs al is dit net ’n paar minute per dag

Die voorste navorser op die gebied van skryfterapie is prof. James Pennebaker van die Universiteit van Texas. Hy is al drie dekades lank besig met studies wat tot ’n hele navorsingsveld ontwikkel het. Selfs net ’n paar minute ’n dag om jou gedagtes te laat gaan en ’n paar woorde op die rekenaarskerm te tik, of met pen op papier te skryf, is ’n bewese hulpmiddel. So ’n eenvoudige oefening help om beheer te neem oor gedagtes en gevoelens. En dan voel jy meer in beheer van jou lot. Empiriese studies het boonop bewys dat skryfterapie immuniteit verhoog, hoë bloeddruk verlaag en ’n positiewe uitwerking het op stresvlakke, hartklop en infeksies. Dus nie net goed vir die siel nie, ook die lyf.

Gee aan jou hartseer woorde; die hartseer wat nie uitkom nie, laat die oorvol hart breek.
Shakespeare

’n Paar honderd jaar vroeër het Shakespeare immers al in Macbeth geskryf: “Gee aan jou hartseer woorde; die hartseer wat nie uitkom nie, laat die oorvol hart breek.” Dit was waar in sy tyd, en dis steeds waar. Gee jou gevoelens woorde. Laat dit uitkom. Anders oorlaai jy jou hart. Tot breekpunt toe.

Dit wat ’n mens eintlik reeds in jou nerf weet net goed vir jou kan wees, is dus intussen deur navorsing bewys. Skryf ís terapeuties. Om sinne te maak, kán help om sin te maak van ons dag en dae. Kliniese én nie-kliniese proewe het bewys om oor traumatiese, stresvolle of emosionele gebeurtenisse te skryf, verbeter fisieke en psigiese gesondheid.

En die beste: Jy kan dit op enige manier doen. Daar’s nie ’n reg of verkeerd nie. Skryf met ’n pen op papier, of tik op jou rekenaar. Jy kan ook in enige vorm en formaat skryf, van dagboek hou, tot gedigte, tot selfs net puntsgewys op ’n Post It-papiertjie. Of selfs net krabbels, doodles in Engels, want ook jou gekrabbel is ’n uitlaatklep. Of wat van daardie groot woord – memoire?

Wel, hoekom nie?

Die memoire-skrywer Mary Karr het gesê: “In memoire-skryf is die hart die brein. Dis die Geiger-teller wat jy oor die geheue se landskap uitrol om te kyk waar onder die oppervlak edelmetale begin blink.” Dus: Om te skryf is ’n manier om na jouself te kyk en om dalk selfs die diepste wonde as “edelmetale” te sien wat vrá om uitgegrawe te word.

Hoekom is jy nog nie ’n skrywer nie?

Brené Brown, navorsingsprofessor aan die Universiteit van Houston, het in haar boek Rising Strong geskryf die dapperste ding wat ’n mens kan doen, is om eienaarskap van jou “storie” te neem. Bessel van der Kolk, ’n professor in psigiatrie aan die Universiteit van Boston , skryf in sy The Body Keeps the Score hoe trauma die brein en liggaam verander en vervorm. Maar jy kán jou emosionele welsyn én jou liggaam weer op koers kry deur beheer oor jou “storie” te neem.

En dié moontlikheid – en terapie – lê in jouself, want net jy kan daardie innerlike ontsluit deur dit ’n kans te gee om as woorde uit jou uit te kristalliseer. Selfs net ’n paar minute ’n dag is genoeg om jou gedagtes te laat gaan en iets op die skerm te tik of neer te skryf.

Probeer om elke dag iets te skryf; al is dit net ’n paar woorde. Foto: Gallo Images

Dis ’n uiters praktiese terapie: jy as jou eie klankbord, jou eie uitlaatklep. Dalk wil jy dit net vir jouself hou, of dalk tog vir iemand wys wat jy vertrou. Met moderne tegnologie kan jy eintlik enigiets daarmee doen, van ’n selfpublikasie met ’n druk per aanvraag-oplaag tot ’n e-boek, of net ’n blog.

Jou eerste reaksie is dalk: Reg, maar ek is nie ’n skrywer nie!

Skryf soos jy praat. Moenie groot woorde of ongemaklike sinne gebruik nie.

Die antwoord: Dalk nog nie, maar hoekom nie?

En op jou volgende vraag, Hoe skryf ek? is die antwoord ook eenvoudig. Skryf soos jy praat. Moenie groot woorde of ongemaklike sinne gebruik nie.

Nog nie oortuig nie en jou volgende vraag is: Maar waaroor skryf ek?

Dis dalk die maklikste antwoord. Begin net. Sommer vandag, nou, hierdie oomblik, met jou skryfterapie.

Beteken dit nou almal moet begin dagboek hou omdat dit soveel byvoordele het? Nie noodwendig nie. Tog sê Pennebaker dit help beslis diegene wat ’n tree terug wil gee om hul lewens te evalueer. Sy wenke sluit onder meer in om ’n tyd en ’n plek te vind waar jy ongestoord kan skryf; dat jy jou eers nie bekommer oor spelling en grammatika nie; dat jy eers net vir jouself skryf, en dat jy skryf oor wat vir jou belangrik is. Veral: Dat jy net skryf oor wat jy kan hanteer.

’n Tikmasjien is dalk ’n bietjie outyds, maar jy kan skryf hoe en met wat jy wil. Foto: GFallo Images

Vergeet van wat ander dink

Of jy jou memoire vir eie private gebruik skryf om tot verhaal te kom, of jy dit vir jou familiekring skryf om hulle insig te gee in hul komvandaan, en of jy dagboek-blog vir ’n wyer gehoor op die internet – maak net seker dit skend niemand se privaatheid nie en dat dit byvoorbeeld ook nie lasterlik is nie – dit bly ’n uitlaatklep. In die geval van trauma, ’n noodsaaklike uitlaatklep, want deur jou gedagtes neer te skryf, verbind jy al daardie dotjies van wat gebeur het en help dit jou om die groter prentjie te sien. En soos die Britse memoire-skrywer en digter Blake Morrison sê: Jy hoef mos nie beroemd te wees om ’n memoire te skryf nie.

Moenie bekommerd wees nie oor wat ander dink van jou skryfwerk – jou styl, uitdrukkingsvermoë, wat ook al. As jy jou aan ander steur, gaan jy nooit aan die skryf kom nie, en dis tog vir jou eie beswil dat jy skryf. Navorsing het mos bewys dit het langtermynvoordele vir jou psigiese en fisieke welsyn. Daarom ook: Skryf met mededoë teenoor jouself. Moenie jouself veroordeel nie. Dis deel van “verhalend tot verhaal kom”. Veral as jy oor persoonlike trauma skryf.

As daar ’n boek is wat jy regtig wil lees, maar dis nog nie geskryf nie, dan moet jy dit skryf.
Toni Morrison

Nou hoe lyk dit met verdere inspirasie? Luister wat sê die Nobel-pryswenner Toni Morrison: “As daar ’n boek is wat jy regtig wil lees, maar dis nog nie geskryf nie, dan moet jy dit skryf.”

Jy het niks om te verloor nie. Jy kan net wen.

Skryf net.

* Verwysings: L. Rabe: Om tot verhaal te kom, Lapa (2019).

The More Senior your Job Title the More you Need to keep a Journal: https://hbr.org/2017/07/the-more-senior-your-job-title-the-more-you-need-to-keep-a-journal

Want to Be an Outstanding Leader? Keep a Journal: https://hbr.org/2016/01/want-to-be-an-outstanding-leader-keep-a-journal

J. Pennebaker: Writing to Heal: A Guided Journal for Recovering from Trauma and Emotional Upheaval, New Harbinger (2004).

M. Karr: The Art of Memoir, Random House (2015).

B. Brown: Rising Strong, Ebury Digital (2015).

B. van der Kolk: The body keeps the score, Penguin (2014).

The Naked Truth: How to Write a Memoir: https://www.theguardian.com/books/2019/dec/14/the-naked-truth-how-to-write-a-memoir?CMP=Share_iOSApp_Other

* Lizette Rabe, professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, bied op Saterdag 7 en 14 Maart twee werkwinkels aan gegrond op Om tot verhaal te kom(Lapa Uitgewers), haar boek oor skryfterapie. Die opbrengs is ten bate van die Ithemba Stigting. Dis van 09:00 tot 13:00, met registrasie van 08:30. Bespreek aanlyn by Quicket. Vir meer inligting, kontak Ithemba by ithembafoundation@mweb.co.za.

* Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Lizette Rabe  |  Skryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.