Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Meer aan lewe op kampus as toetse en pret
Reggie Nel

Universiteite skop nou weer met ’n groot spoed aan die gang. Die rugby is aan die gang en eerstejaars ontdek (met ’n skok) dat daar meer is aan die kampuslewe as die opgewondenheid van verwelkomingspartytjies en kuier. Daar is (ook) klasse en toetse.

Dis eintlik wonderlik om op die kampus te stap en iets te ervaar van studente se energie en idealisme. Ons het dit nodig – die opgewondenheid, die drome, die energie. Al hierdie ervarings word in ’n groot mate gevorm deur die fisieke, maar dan ook simboliese, omgewing waarin ons leef.

Die meeste van ons eerstejaarstudente is gebore in ’n omgewing wat vir ons as ouers en dosente vreemd en onbekend is. Vir hulle is dit die normaal; vir ons, egter, is dit ’n nuwe normaal.

As ons eerlik is, bring dit vir ons onsekerheid en spanning mee. Selfs die manier waarop ons studente omgaan met dié omgewing, met mekaar, met ons en ons kennis en ervaring – toegegee, die ervaring uit ’n ander wêreld – skep spanning.

Die brandende kwessies oor studieskuld, behuising en selfs gewelddadige protesaksies spreek van ’n dieper ideologiese stryd.

Dit bring my by die huidige spanning en worsteling tussen studentebewegings en owerhede. Hoëronderwysinstellings is ook ’n ruimte waar idees getoets word, verwerp word en nuwes begin oorheers. Die brandende kwessies oor studieskuld, behuising en selfs gewelddadige protesaksies spreek van ’n dieper ideologiese stryd.

Maar ek wonder ook hoekom ons nie verder kom in die proses nie. Dit begin nou lyk soos ’n jaarlikse ritueel wat ingeburger word in ons institusionele kultuur.

Dié gewonder kan ons miskien juis help om te vorder – of minstens ’n ander perspektief oopmaak. Hierdie openbare rituele is deel van ’n nodige vormingsproses. Studente wat hul stem laat hoor, soms helder en diep, ander tye ongekunsteld en onseker, in die hitte van die stryd selfs kru en gevul met emosie, jong mense wat verantwoordelikheid aanvaar vir hul omgewing en die uitdagings waarmee hulle worstel, is nie altyd bloot moedswillig of arrogant, of soos ’n mens soms ook hoor, lui en ondankbaar nie.

Op ’n manier is dit hul omgang met en eienaarskap neem van hul omgewing. Dit vorm. Dit behoort niks nuuts of vreemds in ’n universiteits­omgewing en kultuur te wees nie. Dit gaan oor ’n intellektuele en etiese vorming wat geskied deur betrokkenheid, kritiese vraagstelling, debatvoering en die ontwikkeling en toets van hul ver­moëns en mag. Dit is hoe innovasie gebeur en mag aan bande gelê word. Om dié rol te vervul in ’n veilige ruimte (sonder polisie-inmenging) is broodnodig in ’n demokrasie. Dis die rol wat universiteite speel en moet speel.

So, op ’n manier het ons dit nodig. Ons het die hedendaagse Steve Biko’s, Bob Marleys en Nina Simones nodig. Maar dit is belangrik dat hulle besef hulle het ook die pynlike lesse van die verlede nodig wat ons as ouer geslag geleer het toe ons nog gedink het ons het alle antwoorde in pag. Dan neem ons universiteitslewe op ’n dieper vlak en wil ons verder gaan – saam met mekaar.

Nel is ’n professor en dekaan van Universiteit Stellenbosch se fakulteit teologie.

Meer oor:  Kampusse  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.