Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Mense kry wat hulle soek, balk in die oog en al
Jaco Strydom

Ons is verslaaf aan inligting en geraas. Die probleem is: Ons het vandag meer inligting, maar ons is nie slimmer nie.

Ons maak steeds oorlog, eet steeds verkeerd, piepie steeds in ons eie drinkwater en sien steeds neer op mense wat anders as ons is, al het ons nou die kans om hulle beter te leer ken deur sosiale media.

Miskien is die probleem dat ons, behalwe die groeiende behoefte om heeltyd vermaak te word met interessanthede, eintlik bloot inligting soek om ons eie reeds gevormde standpunte te bevestig. Die ego speel ’n groter rol as wat ons wil erken in ons verslawing aan inligting.

Dis interessant om die konserwatiewe en die Demokrate in Amerika dop te hou – dis makliker om die goed op ’n afstand by “ander mense raak te sien” as by jouself en jou eie mense.

Selfs ’n jaar ná die verkiesing is die Trump-ondersteuners steeds totaal blind vir enige immorele, stupid ding wat hy sê of doen, al noem baie van hulle hulself Christene. Hulle het in beginsel vír hom gekies en alles word dus deur ’n positiewe filter gefilter. Inligting wat hulle nie pas nie, word as fopnuus geëtiketteer.

Die Demokrate is net so selektief wat Hil­lary Clinton betref. Wat hulle betref, is sy ’n engeltjie, maak nie saak watter bewyse aan die lig kom nie.

Dis eintlik onmoontlik vir Trump om iets goeds te doen in die Demokrate se oë en vir Clinton in die konserwatiewe se oë – en as jy sterk kant kies ook in jóú oë.

Ek betrap myself dat ek so is.

’n Mens sou dink groot foute is in die verlede gemaak omdat mense te min inligting gehad het.

Die vraag is of ons dié ding in onsself gaan weerstaan en objektiewer gaan probeer wees, of gaan ek dit omhels en eenvoudig bloot nog inligting soek wat my aanvanklike waarnemings bevestig?

’n Mens sou dink groot foute is in die verlede gemaak omdat mense te min inligting gehad het.

Hulle is gebreinspoel.

Hoeveel keer moes ek al hoor hoe iemand die versie in Hosea 6 aanhaal: “My volk gaan ten gronde as gevolg van ’n gebrek aan kennis.”

Die probleem is ons wíl gebreinspoel word. Dit begin nou duidelik blyk dat as propagandamasjiene dit nie doen nie, ons ’n manier sal kry om dit self te doen.

Ons sal soek totdat ons inligting kry wat ons eie standpunte bevestig.

Jy kry soms hier in Suid-Afrika die idee dat mense eerder sal wil hê dat ’n sekere tragedie gebeur as dat hulle op die ou end moet erken dat hulle verkeerd was.

Selfkritiek en die bereidheid om my standpunt te verander is eintlik ’n teken van geestelike volwassenheid. Ek onthou hoe ek en my sussie toe ons klein was “is! is nie!” gespeel het.

Maak nie saak wat nie, ek sê “is”, en sy sê “is nie” en die een wat die langste aanhou, wen.

Grootmense speel vandag hierdie speletjie op sosiale media en ander forums.

Mag ons almal leer om eers die balk in ons eie oog te soek.

Meer oor:  Geraas  |  Inligting  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.