Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Mense raak ‘enerster, hoeka al hoe enerster’
Erik Holm

Een van die Hollywood-TV-kanale roem daarop dat sy skop-skiet-en-donner-stories “100% characters” verbeeld. Toe ek onlangs vir my probeer uitklaar wat nou eintlik ’n genie en wat ’n goeie leier definieer, dink ek ook oor hierdie begrip van “karakter”.

Ek bly in ’n hoekie van die ou Transvaal wat bekend is om sy karakters. Die Hartbeespoort-omgewing was selfs voor die dam se bestaan ’n soort Moordenaarskaroo van Gauteng. Mense wat nie kon of wou regkom in die beskawing en inperking van die stede nie, het hierheen uitgewyk. Ek vermoed daar is nog sulke plekke. Dalk is Boshof een (jy kon mos ook in Bloemfontein of Kimberley gaan woon).

Nou hoe verduidelik ’n mens ’n “karakter”? Elkeen van ons het glo so iets en word enersyds aangemoedig om dit te ontwikkel. Andersyds word ons geleer om nie stroomop te wees nie en gehoorsaam in die drukgang van die

lewe saam te loop. Soos ek dit verstaan, is die betekenis van karakter hier die geloof in jou eie aard en oortuigings en die moed om dit uit te leef. Tot op ’n punt natuurlik.

Sodra jy jou pa, onderwyser of dominee teëgaan, is dit te veel van ’n goeie ding.

'n Karakter, in die volwasse samelewing, is dan by uitstek dié wat hulle nie by die konvensies hou nie. ’n Baie enggeestige en konserwatiewe gemeenskap het min plek vir of geduld met karakters. Maar in gemeenskappe wat rustiger en meer onbedreig voel, word karakters nie net geduld nie, maar selfs geniet en in ’n mate bewonder. Karakters maak die lewe miskien nie beter op ’n rasionele vlak nie, maar verskaf kleur, fantasie en vermaak in ’n andersins soms baie vervelige en saai rasionele bestaan.

'n Karakter, in die volwasse samelewing, is dan by uitstek dié wat hulle nie by die konvensies hou nie.

Dit bring my weer by die definisie van ’n karakter. ’n Karakter se oortuigings is nie bloot selfsugtig of destruktief nie. Dít is plein ’n misdadiger. Nee, ’n karakter is aweregs, nie links of slinks nie. Hy het gewoonlik selfs ’n oordrewe regsgevoel, net sit sy regs nie dáár waar die res van die gemeenskap s’n sit nie. En dit maak dat ons ’n karakter meestal in die stilligheid sal bewonder – al dan met ’n glimlag.

Dit is op hierdie punt waar die Amerikaners se opvatting van ’n karakter drasties verskil van ons s’n. Hulle beskou Billy the Kid en Bonny en Clyde ook as karakters. ’n Mens moet dit dalk verstaan uit hul onlangse verlede, toe die enigste verskil tussen die sheriff en die crook eintlik net die ster op een se bors was.

Terug by my geliefde Hartbeespoort-gemeenskap. Toe ek kind was, het hier net ’n paar honderd gesinne geleef, maar tussen hulle was die Broederstroom-Pretoriusse (dink aan Wessel, Andries, “Skote”!). Die aweregse Schoemans (oom Johan was beslis ’n baie groter karakter as sy pa, genl. Hendrik). Die Kruger-nasate van oom Paul. Die avonturier en vuurvre-ter boere-Iere Scroobies (met die mooi dogters). Gustaf Preller en voor sy dood selfs Eugène Marais. Handevol kunstenaars – Hennie Potgieter, my eie ma, Elly, later Eloff, Roos, Joubert en vele meer. Die Ras-kanonbouers – ag, ’n eindelose lys karakters.

Nou bly hier baie duisende gesinne en dit begin al hoe meer soos Sandton voel. Almal word, soos Boerneef sê, “enerster en hoeka al hoe enerster”. Sterf karakters uit en is hul tyd – saam met die pionierskultuur – dalk verby?

Meer oor:  Erik Holm  |  Toneelspel  |  Menings  |  Karakter  |  Akteurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.