Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Menslike woorde kan nie God se woord boei nie

In die Anglikaanse teoloog Rowan Williams se boek Luminaries: Twenty Lives that Illuminate the Christian Way (2019) vind ons ’n versameling van sy meditasies die afgelope jare oor invloedryke figure soos Augustinus, Teresa van Avila, Dietrich Bonhoeffer, Etty Hillesum en Óscar Romero.

Williams is nie bloot geïnteresseerd in die historiese feite oor hierdie lewens nie, maar probeer veral ontsyfer hoe hulle van die wêreld en geloof probeer sin maak het. Wat hom na dié figure aantrek, is nie dat hulle ongekwalifiseerd goed of moreel onberispelik was nie, maar eerder dat hulle lewens as’t ware skrefies lig deurlaat wat vir ons verrassende en verrykende perspektiewe kan open.

Een van sy oordenkinge handel oor Thomas Cranmer (1489-1556), die aartsbiskop van Kantelberg en leidende figuur tydens die Reformasie in Engeland. In ’n tyd van radikale politieke en godsdienstige omwentelinge was Cranmer verantwoordelik vir die skryf van die Book of Common Prayer, ’n liturgiese handleiding vir die Engelse kerk.

Agter hierdie gevoeligheid vir taal, skryf Williams, lê die oortuiging dat die woord van God nie geboei kan word nie (2 Timoteus 2:9)

In die bewindstyd van Maria I (ook bekend as “Bloody Mary” weens haar vervolging van Protestante) is Cranmer van hoogverraad en kettery aangekla. Weens redes waaroor historici steeds bespiegel, het Cranmer tydens aanhouding onder druk sy Protestantse geloof op skrif afgesweer.

Nogtans is hy tot die brandstapel veroordeel. Dit is verwag dat hy in die openbaar sy lojaliteit aan die Rooms-Katolieke kerk sou bevestig. Maar Cranmer het op die brandstapel woorde uitgespreek wat later sy status as Protestantse martelaar sou versterk: “Omdat ek met my regterhand heelwat dinge geskryf het wat teen die oortuiginge van my hart was, sal dié hand eerste brand.”

Williams onderstreep die gedagte dat Cranmer sorgsaam en soekend met woorde omgegaan het, nie net ten opsigte van die liturgie nie, maar ook in die hitte van twisgesprekke. Agter hierdie gevoeligheid vir taal, skryf Williams, lê die oortuiging dat die woord van God nie geboei kan word nie (2 Timoteus 2:9), ook nie deur menslike woorde nie. Dit is juis op die rand van ons woorde en taalvermoë waar die volheid van die evangelie begin, waar geloof tuishoort en waarna aanbidding ons lei.

En aangaande die laaste minute van Cranmer se lewe waartydens hy inderdaad soos voorgeneem sy hand na die vlamme gehou het as ’n finale liturgiese komposisie anderkant woorde, skryf Williams: “And, because the word of God is not bound, it is as if that hand in the flames becomes an icon of the right hand of Majesty stretched out to us for defence and mercy.” 

Meer oor:  God  |  Taal  |  Geestelike Waardes  |  Menslike Woorde  |  Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.