Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Mowbray-moord: ‘Hulle kon my ouers gewees het’

Willemien Brümmer was by die roudiens van haar bure, Rosalie Bloch en Aubrey Jackson, wat sinneloos in hul huis in Mowbray vermoor is.

Die dubbelverdiepinghuis in Mowbray, Kaapstad, waarin Rosalie Bloch en haar lewensmaat, Aubrey Jackson, 30 jaar lank gewoon het. Foto: Jana Breytenbach

Dis ’n gewone herfsmiddag in Mowbray toe ek en my driejarige seun, Matthias, verby die afgesperde Wolmunsterstraat ry. Dit neem my ’n rukkie om te registreer die geel en blou polisielint, die fotograwe met hul flitsende kameras en ons natgeswete buurman, Paul, wat kliphard op sy selfoon praat, beteken iets is verkeerd.

Voor Wolmunster nommer 9, die groot Victoriaanse herehuis wat nie soos die res van ons se huise agter hoë tralies en elektriese draad weggesteek is nie, staan ons oudminister van finansies, Trevor Manuel, en sy vrou, Maria Ramos. Ek verbeel my die struggle-strydros Cheryl Carolus is ook daar. Almal huil en omhels mekaar.

“Mamma, ry!” neul Matthias van agter in sy karstoeltjie. “Mind the press,” sê Paul toe hy van sy selfoon afklim. “It’s Rosalie and Aubrey. Both murdered.”

Die wêreld begin draai om my.

’n Spieëlbeeld van my ma

Rosalie Bloch (84) en haar lewensmaat van meer as 30 jaar, Aubrey Jackson, in hul huis in Wolmunsterstraat. Hulle is op 5 Mei hier gevind, vasgebind en met sakke oor hul koppe getrek. Rosalie was ’n prokureur en aktivis wat onder meer ’n aktiewe lid was van die Black Sash en die Women’s Movement for Peace. Aubrey was ’n afgetrede elektriese ingenieur.

Al het hulle net ’n paar meter van ons af gewoon, het ek hulle nie geken nie. Maar toe die foto’s en berigte reeds teen die aand in die media begin verskyn van Aubrey Jackson (94) en Rosalie Bloch (84) het ek iewers ’n vae herinnering van ’n maer, bebrilde omie met ’n Beyers Naudé-glimlag en wit hare wat soos ’n hemelvaartswolk om sy kop staan.

Haar herken ek ook, maar dalk omdat sy ’n spieëlbeeld van my eie ma was: ’n Vrou wie se huis altyd oop was vir kinders, kleinkinders, familie, haweloses en vriende van alle kleure en geure; ’n uitbundige ma vir die nasie; gehard en bykans onuitroeibaar.

Maar soos Jenny Diski gesê het: “Everything passes, but nothing entirely goes away.”

My ma leef nog, maar dit is meestal ons herinneringe aan haar wat staande bly namate kanker en demensie en opportunistiese siektes haar bietjie vir bietjie wegkalwe.

Soos die Bloch-huis het die geskiedenis soos klimop deur die kamers gerank; ’n tuiste gevul met die geborgenheid en patina van dekades.

Rosalie is vasgebind en vermoor deur opportunistiese inbrekers, waarskynlik mense wat sy nooit geken het nie en vir wie sy dus nooit iets kon doen nie. Ek glo nie iemand wat ooit vir Rosalie of my ma geken het, sou hulle in die oë kon kyk en kon sien hoe dié einste deernisvolle oë verdof nie.

Die huis waarin Rosalie vir meer as ses dekades gewoon het, waarin sy sewe kinders grootgemaak het terwyl sy een van die eerste vroulike prokureurs in die land was; waarin daar UDF- en Black Sash-vergaderings gehou is en waarin politieke gevangenes weggekruip het, herinner my aan my eie grootwordhuis.

My ouers het ook gekies om in hul Mad Hatter’s Castle met sy baie kamers te bly totdat hulle diep bejaard was en die mure begin afskilfer het, toilette en krane begin lek het en rotte middernagtelike partytjies gehou het.

Soos die Bloch-huis het die geskiedenis soos klimop deur die kamers gerank; ’n tuiste gevul met die geborgenheid en patina van dekades.

Ook my ouers het nooit ’n alarmstelsel laat installeer of selfs werklik deure gesluit nie en hulle huis was tot aan die einde ’n veilige hawe vir almal. Soos Rosalie en Jackson wou hulle aanhou om die lewe en die liefde aan te gryp; iets wat hulle nie in ’n fort sou kon doen nie.

Werfkinders in Wolmunsterstraat

Een van die vele familiefeeste wat by die huis in Wolmunsterstraat gehou is. Rosalie Bloch is in die wit en geel hemp. Heel links is haar lewensmaat Aubrey Jackson (94). In die middel is die onderwyskenner en aktivis Greame Bloch en sy vrou die oudpolitikus Cheryl Carolus. Foto: Facebook

’n Paar dae ná die moord staan ’n sekerheidswag voor die huis in Wolmunsterstraat. Dis vreemd om te dink dat só iets kon gebeur in ons buurt net onder Rhodes Memorial en die Universiteit van Kaapstad met sy eklektiese mengsel van akademici en studente, swart en wit, Jode en Sewendedagadventiste.

Ons buurt is ’n ware liquorice allsorts met sy talle winkels waar jy jou hare kan laat vleg, betting shops en ou historiese geboue soos Mostert se meul en die Irma Stern-museum. Daar is baie kleiner misdrywe soos smash and grabs en selfone en beursies wat op straat gesteel word. Maar nog nooit vandat ons daar woon, was daar sprake van moord nie.

’n Paar minute laat word die Rivonia-legende Denis Goldberg met sy kierie en rolstoel op die verhoog gestoot.

Daarom is dit ’n emosionele groep bure wat Donderdag by die Baxter-teaterkompleks, Rosalie en Jackson se kulturele heimat, vir die roudiens bymekaarkom.

Die konsertsaal met sy rooi fluweelstoele is amper stampvol. In die gehoor sit oudpres. Thabo Mbeki se vrou, Zanele Mbeki. Cheryl Carolus, getroud met die aktivis en onderwyskenner Graeme Bloch, skuif met ’n nousluitende oranje Afrika-romp op die verhoog reg. Langs haar en agter haar sit Zapiro en Trevor Manuel wat soos werfkinders in Wolmunsterstraat was.

’n Paar minute laat word die Rivonia-legende Denis Goldberg met sy kierie en rolstoel op die verhoog gestoot. Hy’s in die eindstadium van terminale kanker en dis die eerste openbare toespraak wat hy in ’n jaar maak.

Die aktivis Denis Goldberg skryf ’n boodskap van simpatie in ’n boek op die gedenkdiens van die vermoorde Rosalie Bloch en Aubrey Jackson. Foto: Jenna Etheridge

Rosalie se jongste seun, Shaun, die een wat sy ma en haar lewensmaat van meer as 30 jaar se liggame die Saterdagoggend in die Wolmunsterhuis ontdek het, vertel dat Aubrey en sy ma gestaan het vir vrede, liefde, verdraagsaamheid en ’n sterk sin vir sosiale geregtigheid. Hulle sou nie wou hê die samelewing moet verder polariseer nie. Sy ma se geliefkoosde aanhaling deur Margaret Mead is steeds teen die muur van die eetkamer opgeplak: “Never doubt that a small group of thoughtful committed citizens can change the world. Indeed, it is the only thing that ever has.”

Hy vra dat ons almal staan en in ’n gees van samehorigheid die nasionale lied sing en iets merkwaardigs gebeur. Die gehoor staan soos een man op en sing Nkosi Sikelel’ iAfrika.

Toe ons by “Setjhaba sa, South Africa” kom, dink ek die gewone gaan gebeur en die stemme gaan een-een stil word en wegdraal. Ek hou hulle dop op die verhoog – die vuurvreters wat deur die apartheidstelsel gemartel en aangehou is.

Ons hoor dat dié moordenaars byna niks gevat het nie, maar dat sy ma en Aubrey met sakke oor hul koppe dood is.

Maar hulle hou hand-teen-die-hart aan met sing: “Uit die blou van onse hemel, uit die dieptes van ons see . . . ”

Ek verstaan nie presies hoekom nie, maar baie van ons begin huil. Ons huil weer toe Lance, nog een van die Bloch-broers, met onwrikbare hartstog oor die oortreders praat: “Ons sal julle nie haat nie. Dit sou die laaste ding wees wat my ma en Aubrey sou wou hê.”

Ons hoor dat dié moordenaars byna niks gevat het nie, maar dat sy ma en Aubrey met sakke oor hul koppe dood is.

Dié aand is daar ’n e-pos van een van die bure wat voorstel dat ons die naweek die paadjie na die huis in Wolmunster met blomme versier om die families van die oorledenes te help om die huis terug te eis.

Ek besef dis blomme van genade. Vir almal van ons.

Meer oor:  Cheryl Carolus  |  Denis Goldberg  |  Aubrey Jackson  |  Trevor Manuel  |  Rosalie Bloch  |  Maria Ramos  |  Mowbray  |  Moord  |  Misdaad  |  Versoening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.