Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
‘Musikante wat die lewe vir my mooier maak’
Dana Snyman Foto: Denvor de Wee

Nou die aand gaan kyk ek hoe doen die sanger Jan Blohm sy ding op ’n verhoog op Darling. Afrikaanse rock ’n roll. Afrikaanse blues. Afrikaanse honderdbedonnerd.

Dit gaan weer goed met Jan. Hy is terug. Lewend. Ons moet bly daaroor wees, en dankbaar.

Daardie vuur brand steeds in Jan – die vuur wat in net die beste liedjieboere brand. As hy die kitaar vat en wegval in daardie stem wat soms klink soos tien ou Ford F100-bakkies wat oor ’n sinkplaatpad in die Boesmanland jaag . . .

In sy “Winternag” praat hy met Eugène Marais, wat jare gelede sy woorde opgepak en in die swart Cadillac weg is: “Die Here se genade lê hemelwyd, Eugène . . .” Tussendeur bearbei hy jou met die kitaar, verjaag hy van die spoke uit die donker hoeke van jou gemoed. Só voel dit.

Terwyl ek daar na Jan sit en luister, tref dit my: Van my betekenisvolste geestelike belewenisse – tussen ander mense – in die laaste 20 plus jaar het ek op rock-shows gehad. Afrikaanse rock-shows. Iewers langs die pad het party Afrikaanse musikante vir my begin doen wat ’n predikant vir my behoort te doen. Vir party mense mag dit banaal klink, maar arm van gees is dié wat nie rock ’n roll verstaan nie . . .

Die Voëlvry-konsert: Johannes Kerkorrel, André Letoit, wat nou Koos Kombuis is, Bernoldus Niemand . . . Iets in my het daardie aand verander.

1992. Die Masker-teater op die Tukkie-kampus in Pretoria. Die Voëlvry-konsert: Johannes Kerkorrel, André Letoit, wat nou Koos Kombuis is, Bernoldus Niemand . . . Iets in my het daardie aand verander. Daarna was ek emosioneel gereed om van apartheid afskeid te neem. “Ons sit in die son, drink wyn. Ons survive met ’n helse lot pyn . . .” het ons saam met Kerkorrel gesing. “Gee jou sente, jou drome, jou toekoms vol gate . . .”

En dan was daar die aand toe Anton Goosen en Albert Frost maklik ’n halfuur op die maat van Anton se “Harlekyn” in die ou Steak & Ale in Pretoria ge-jam het – tot die gees van Silver de Lange later bokant ons koppe kom sweef en simpatiek vir ons geglimlag het.

En dit alles het 40 jaar gelede met die sogenaamde musiek-en-liriek-beweging begin.

Anton Goosen het my die eerste keer deur sy Breyten-songs van Breyten Breytenbach se poësie bewus gemaak. Nes ek later die blues deur Valiant Swart ontdek het. Koos Kombuis het my gehelp om myself te ontdek.

En dit alles het 40 jaar gelede met die sogenaamde musiek-en-liriek-beweging begin. Die meeste gewilde Afrikaanse musiek voor dit was vertaalde Europese deuntjies. Maar ná 1979 het ons skielik vir Laurika Rauch gehad, en Koos du Plessis, Anton Goosen, Coenie de Villiers . . .

Anton het ’n dokumentêre reeks saamgestel wat tans Maandae op RSG uitgesaai word oor hoe Afrikaanse musiek sedertdien ontwikkel het.

Ek onthou die aand toe ek Gert Vlok Nel die eerste keer in Café Barcelona in Pretoria sien optree het en besef het ek is nie die enigste mens wat in 1975 laas gelukkig was nie. Ek onthou . . .

Les Javan, Piet Botha, Riku Latti, Karen Zoid, Gian Groen, Luna, Bacchus Nel, Richard en Lochner, Churchill Naudé . . . Die lys is lank. Almal van hulle maak die lewe vir my ’n mooier, meer genadige plek, al sit ons steeds ’n bietjie in die son en survive soms met ’n helse lot pyn.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Herinneringe  |  Musiek  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.