Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
My slaapmaat wat nooit eens snork nie. Sug.
Rachelle Greeff

Laatmiddag, Maandag tot Vrydag, gaan haal ek my slaapmaat by sy skool. Soggens neem ek hom terug. By die skoolhek is hy elke oggend so uit sy vel om weer sy pelle te sien, hy groet my skaars.

Sy juffrou betig hom gereeld: “Steady, Tiber, steady!’’ (Die onderrigtaal by sy skool-met-’n-verskil is Engels, en is ononderhandelbaar.) “Your boy has so much energy,” sê Juffrou kamma-kwaai. Ek en sy is ewe verlief op hom.

Dis moeilik om sonder papgevatte woorde en metafore oor hartsake te skryf. Ek volstaan dus met: ’n Vel wat glim soos swart blinkleer van snoet tot stertpunt en ’n emosionele intelligensie hoër as dié van verskeie tweebeen-diere wat ek en jy ken.

Tiber gaan slaap vroeër as ek, sy eie bed styf langs myne. Hier gee hy hom langbeenlê oor aan Morpheus, sonder om eens effentjies te snork. Hy sug net. Diep. Sag. Gerusstellend. Ek gun hom sy vroeë aande heelhartig, want sy skoolrooster is gepák.

Vroeër dié week ry sy skool se drie skooljuffroue al agt van hul leerlinge na die Kompanjiestuin. Dis eekhoring-uitstappie-dag. Nie om die wolsterte te voer of jaag nie, maar om tjoepstil te sit sonder om aan jou leiband
te rem, al hardloop Eekie oor jou poot.

Kwyl is oukei. Sit jy stil, kry jy ’n treat. As jy tekere gaan, selfs net piep, word die oefening herhaal. Tot jy dit “kry”.

Kwyl is oukei. Sit jy stil, kry jy ’n treat. As jy tekere gaan, selfs net piep, word die oefening herhaal. Tot jy dit “kry”.

Hierna stap die skool in Adderleystraat af, verby die stasie en terug via die Goue Akker vir roltraplesse. Ook by herhaling. Dan word Adderley oorgesteek om in St. George’s Mall te kom.

Hier moet die spannetjie ligvoets tussen die voetgangers deur vleg sonder om te stop as mense “oe” en “aa”, sonder om te snuffel en snuif.

En nou terug na die vertrekpunt bo in die laan, waar alles weer begin. Hulle doen drie sulke rondes op ’n slag. Dit neem omtrent drie uur.

Die nag nadat hy en sy hondemaats Wynberghoofweg die stryd aangesê het, was hy so pê, hy’t nie eens gesug nie. Stel jou voor die kakofonie van honderde voetgangers, stalletjie op stalletjie, taxi’s wat blêr sonder end en die doefe-doef van subwoofers. Sien jý kans hiervoor?

Tiber het nie ’n keuse nie. Hy is ’n gidshond-in-wording. Hy is ook nie myne nie.

Ek’s net sy nagmamma sodat hy nie in ’n hok agterbly wanneer die skooldag verby is en die juffroue huis toe gaan nie. Soos sy pootgenote by die skool lei hy allesbehalwe ’n hondelewe, maar hy aanvaar sy opleiding met entoesiastiese ywer.

Oor ’n paar maande neem ek hom vir die laaste keer skool toe. Dit is ’n hartseergedagte. Om dié swartbeenseun te ken is om hom lief te hê.

Maar ek troos my, want die lys name van gesiggestremdes wat op ’n gidshond wag, is langer as die lys name van beskikbare honde. Iemand wat nog nie bekend is aan hom, my of die opleiers nie, gaan ’n skamele R5 vir hom betaal.

En sy ruimhartige hondesiel en slim sjokoladebruin oë sal in dié mens se huis soos lente ná ’n lang en snerpende winter opdaag.

Meer oor:  Rachelle Greeff  |  Tiber  |  Bed  |  Slaap  |  Gidshond  |  Snork  |  Hond  |  Slaapmaat  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.