Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
’n Boom word vir seker aan sy vrugte geken
Annelie Botes

Daar is geen behoorlike Afrikaanse woord vir “entitlement” nie. Die woordeboek praat van “geregtig wees op” of “die reg hê”. Soek ek in sinoniemewoordeboeke na eweknieë vir “geregtig”, kry ek “gemagtig”, “geoorloof”, “billik”, “regmatig” en “redelikerwys”.

Twee weke gelede ry ek kraletjieswinkel toe. In Newton Park is dit hittete of ek bots teen ’n motor met twee jong knape in wat ongeërg oor ’n stopstraat jaag. Die musiek doefdreun deur die vensters.

Instinktief lê ek op die toeter. Hulle rem en die bestuurder steek sy hand uit en gooi ’n zap-teken. Ek ry aan voor ek ’n bloedklont op die brein kry. Wragtig, hulle draai om en volg my; ry amper teenaan my buffer oor die spoedhobbels. Laggend hou beide hulle bierbottels by die vensters uit en maak skynbaar ’n prost.

Die volgende oomblik brul die enjin en hulle skuif langs my in. Die passasier lê halflyf uit en skree: “Die pad behóórt nie aan jóú nie, antie! Jý hoort in ’n ouetehuis, nie agter ’n stuurwiel nie!”

So, hulle reken hulle is entitled om oor ’n stopstraat te jaag. Om ’n antie wat nog nooit in die ry bier gedrink het nie, te verskree. Net soos wat molesmakers paaie blok met brandende bande en nie vir vandalisme vervolg word nie. Verpleegsters wat staak en verswakte pasiënte verlaat. ’n Polisieman wat ’n helikopter op ’n parkeerterrein land om KFC te koop.

Die pad behóórt nie aan jóú nie, antie! Jý hoort in ’n ouetehuis, nie agter ’n stuurwiel nie!

Poskantoorwerkers wat g’n flenter omgee of kardinale dokumente iewers hooplê nie. Diewe wat teen ’n kerktoring opklim om ’n koperkerkklok te steel.

Niks hiervan is billik, geoorloof of redelikerwys nie. As ek daarvoor ’n naam kan gee, sal dit wees: integriteitlose, swak burgerskap by uitstek. Maar ieder en elk is deesdae entitled.

Soos die man voor die kraletjieswinkel wat ’n piesangskil neersmyt.

Toe ek hom vra om die skil in die vullisdrom, drie treë weg, te gooi, smaal hy: “The municipality workers can pick it up.” Kennelik besef hy nie die munisipaliteit is daar om die dorp of stad te dien nie. Hý is mos entitled dat hulle hóm sal dien. Hoekom sal hý sy rug buig?

Een van my enkelouer-vriendinne moet saans kelnerinwerk doen. Bo en behalwe haar veeleisende dagtaak, moet sy ekstra verdien.

Haar uitgevrete seun wat in die Baai op universiteit is, proklameer hy is entitled op ’n motor en sý moet voorsien. Dit skeel hom weinig dat sy blou kringe onder haar oë het, en selde meer as vyf ure per nag slaap.

Soms bekyk ek hierdie ondinge, en dan lê daar ’n sekerheid in my dat entitlement ’n terminale kanker is wat ons land beet het. Die kanker genaamd disrespek, ekkerigheid en eiewaan wat dag vir dag dieper insuur.

Dit gaan ons land by wyse van vooruitgang geen duit baat as elke Jan Rap die reëls van billikheid en veroorlowing minag nie. ’n Boom word aan sy vrugte geken. En entitlement is ’n vrot vrug wat die tande sal stomp maak.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Jeug  |  Boom  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.